JH du Toit: Orania en die Soligargie

Ek het hierdie stuk geskryf kort nadat Orania en Solidariteit onlangs vir Steve Hofmeyer en Sunette Bridges as ekstremistiese rassiste gebrandmerk het. Aanvanklik het ek besluit om dit nie te plaas nie omdat ek nie verdere verdeling wou meebring nie. Ná Solidariteit se Sowjetstyl-“beraad” het ek egter besluit om hiermee voort te gaan.

Ek was doodgewoon verbysterd om Jaco Kleynhans van die Orania Beweging se persverklaring oor die Afrikanerprotesbyeenkoms by die Krugerstandbeeld in Pretoria te lees. Hier kan u self die artikel wat in Beeld verskyn het lees:

Orania, Solidariteit nie deel nie

Die Orania Beweging, asook Solidariteit, was nie Woensdag by die “protesaksie” op Kerkplein in Pretoria betrokke nie.

“Die Orania Beweging distansieer hom van enige ekstremistiese en rassistiese reaksie op die huidige vandalisering van Afrikanermonumente,” het Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof, Woensdag aan Beeld gesê.

“Ons is geensins daarby betrokke nie en ondersteun dit glad nie. Sou daar ’n T-hemp wees wat ons laat maak het, dan is dit moontlik een wat iemand hier gekoop het, maar dit moet nie beskou word as steun van ons kant af vir wat ons as ’n futiele oefening beskou nie. Ongelukkig het party mense ons slagspreuk, ‘Ek is Jan’, gekaap en misbruik dit,” het hy gesê.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het ook aan Beeld gesê dié vakbond was nie daarby betrokke nie.

“Ek dra nie kennis van presies wat daar gebeur het nie, maar verskillende organisasies het verskillende style en standpunte.”

Hy het gesê hoewel die organisasie sterk standpunte ondersteun, moet daar wedersydse erkenning en respek wees. “In jou optrede moet jy dit weerspieël.”

Volgens Buys het hulle die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) genader om die moontlikheid van ’n beraad te bespreek. “Daar moet dringend nasionale dialoog oor die saak plaasvind,” het hy gesê.

Daar is niks verkeerd daarmee om ’n ordelike en vreedsame protes te hou nie, maar mens moet só optree dat ’n gees van wedersydse verdraagsaamheid bevorder word, het hy gesê.

By voorbaat beklad Jaco Kleynhans sy mede-Afrikaners wat in hierdie krisisuur hul vir die behoud van ons kosbaarste simbole bewil as “ekstremiste en rassiste”. Hierdie is natuurlike naamskending in die ergste graad vir die organiseerders. Nietemin, kom ons fokus op wat Kleynhans se gewraakte woorde impliseer. Wel, by die eerste lees daarvan is mens sommer gewalg. Gewalg daarin dat iemand dermate sy eie mense wat die eerbare moed het om op te staan, probeer neerslaan grond toe. En as u liewe leser, nie ook gewalg is nie, glo my Kleynhans se perverse stelling sal u absoluut walg as u die res van hierdie rubriek lees.

Uit die Beeldartikel lyk dit asof “Soliforum” en die OB gesamentlik genader is vir ‘n verklaring. Regtig? Hoekom sou Beeld dit doen? Die een is immers in Lyttleton en die ander in die Karoo. Nee, u sien ek glo dat hierdie twee, wat mos deesdae bedmaats is, gesamentlik met aller yl hul na Adderjan Basson se koerant gehaas het om goedkoop politieke punte aan teken. Soliforum, wat sigself nie as ‘n Afrikanerorganisasie sien nie en dus geen langtermyn- strategiese plan vir Afrikaners het nie, floreer op die status quo waaruit dit miljoene, indien nie miljarde nie, maak. Nou kan u begin sien hoekom Orania, wat despreraat is om te groei, deesdee met herdie massale debietordermasjien bevriend is. Hierdie klub sluit ook die FW De Klerk-stigting, die DA, FAK en Gebroeders Mulder (VF Plus) in. Dis ‘n losse “federasie” van beroepspolitici, vakbond-miljardêrs, ‘n oud-volksverraaier (in eie reg ‘n multimiljoenêr), liberale, Karoo-maplotters en ander beginsellose trogvarke.

As iemand wat deurgaans die Oraniaprojek in beginsel ondersteun, is dit vir my werklik ‘n steen des aanstoots dat Kleynhans sulke goedkoop punte by Naspes probeer aanteken het. Ek volg die Noordwes-Kaap-ideaal al sedert die SABRA-dae en was en bly ‘n groot aanhanger van afgestorwe prof. Carel Boshoff. Ek kan in my wildste drome nie dink dat prof Boshoff geneë met Kleynhans se afskuwelike stelling sou wees nie. Hoe op aarde kan hy die inisiatief as ekstremisties en rassisties afmaak nog voor dit gebeur het? O ja, nou onthou ek. Dis mos juis deur “rassis!” te skree dat Soliforum die ondersteuning van die liberale establishment gekry het. En met OB wat klaarblyklik wag dat krummels van die vakbond-oligarge se tafel moet afval, blaf hierdie skoothondjie nou na sy baas se bevele. Kleynhans se persverklaring erodeer die legitieme eis van diegene wat die monumente in ere wil behou, en dit gaan verder. Deur hulle met die “rassisme”-teerkwas by te dam, speel hy nie net in die hande van die Soligargie, DA, en Naspes nie, maar veral in dié van die ANC en die EFF. Uiteindelik is Jaco Kleynhans onbewustelik ‘n pion van die aartsrassis, Julius “Hitler” Malema self. Is u nog nie gewalg nie? Lees verder…

Maar, dis eers wanneer mens Kleynhans se Oraniablog-rubriek lees dat die smerige gulsigheid van hierdie opportunis se onderrok onbeskroomd deur die modder sleep. Janee! Hier kom dit. Kleynhans verkondig met groot tevredenheid dat Orania gereed is om Afrikanermonumente vir bewaring te huisves. As u vertroud is met die sukkelende groei van Orania (oor 21 jaar het die dorp nog net iets oor ‘n duisend inwoners) dan sal u ook verstaan dat hulle alles moontlik nodig het om hul profiel en legitimiteit sodanig te verhoog dat dit kan uitstaan as Afrikanervesting en natuurlik toerismebestemming. Hiermee kan die vermoënde miljarde van die Soligargie en skitterende trots van Afrikanersimbole sommer baie help. Dit maak nie saak of die verwydering ook die aspirantvolksmoordenaar, Julius Malema, se agenda dien nie. Nou ja, ek wil ook hê Orania moet groei, want nog steeds dink ek dat dit ‘n uitstekende poging bly. Nietemin, ek wil nié hê daardie groei moet ten koste van die veiligheid en voorbestaan van my volk in die res van SA gebeur nie. Orania is nié die Afrikanerdom nie, dis slegs ‘n dorpie van 1000 mense, al is dit ‘n bewonderenswaardige poging. Kleynhans se taai vingers is een te veel vir my!

Laat ek verder verduidelik. Ons móét nóú die streep voor Oom Paul se beeld in Kerkplein trek. As ons ‘n “laat dit maar na Orania verhuis word”-houding inneem, dan is dit nog ‘n wins in die swart rassiste se sak, en sal nog meer momentum gevoeg word by hul uiteindelike doel teen ons. Nadat al die monumente verwyder is wat dan? Nadat die volkseiendom uitgewis is, wat is dan hul volgende teiken? Ek kan u waarborg dit gaan op die minste u persoonlike eiendom wees. Die aanslag gaan kom teen u plaas en u stedelike woonhuis. Kort na die Bolsjewiste Rusland oorgeneem het, het hulle die Russiese middelklas se huise genasionaliseer. Nes in SA was daar in Rusland enorme armoede en ‘n behuisingstekort. Middelklasgesinne mag aangebly het in die huise wat voorheen aan hul behoort het, op voorwaarde dat hulle vir elke vertrek wat daar in die huis is ‘n ekstra gesin moes inneem. Jou huis raak dus ‘n kommune. Hierdie sal nogal ‘n goeie uitkomste wees, want die erger scenario is iets meer soos Rwanda.

Tydens die opkoms van die Nazi’s het baie Jode gelag vir Hitler soos ons lag vir Hanswors Malema se manewales (hoewel ek nou al minder mense sien lag). Toe Hitler aan bewind kom het hulle hom probeer paai. Vir mekaar het hulle gese, “alles sal uitwerk, ons moet die Duitsers net tevrede hou”. Sommmige Jode het die insig gehad om te sien wat kom en het betyds pad gegee na die VSA, SA, ens. Hul familie in Duitsland het aanvanklik vir hulle gesê dat hulle oorreageer en selfs vir hulle gelag. ‘n Jaar of wat gelede het dr Gregory Stanton, hoof van International Genocide Watch vir my aanbeveel om my familie uit SA te kry terwyl ek nog kan. Die meeste Afrikaners wat nog in SA is, is daar vasgevang. Dis nie nou tyd om swak te wees en die strydperk nader na u voorhuis te bring nie. Hou dit ver weg, daar by Oom Paul. As die ZAR-staatshoof uit konteks van Kerkplein na ‘n Karookoppie geskuif word, raak dit bloot ‘n misplaaste kunswerk.

As Kleynhans dink hy kan hierdie krisis misbruik om Orania in ‘n “Temapark van Afrikanersimbole” te verander dan sê ek vir hom: “Wees versigtig, meneer. As ons nie nou vasstaan nie, sal die aanslag wel nog soos ‘n warrelwind oor die Karoo Orania van die kaart afvee. Dan is u Temapark bloot ‘n begraafplaas van beelde en meer… Maak oop u oë! As u dink dat hierdie dapper volkslede wat ‘n optog na Kerkplein onderneem het ekstremistiese rassiste is, verduidelik dan vir my hoe die afsondering van uself in ‘n gehuggie in die middel van die woestyn, in ‘n poging om van swartmense te ontsnap, nie ekstreem rassisties is nie? Mense wat in glashuise woon…

Voordat Kleynhans al my kommentaar op die OB-blog verwyder het, het hy aan my beweer dat dierdie aanslag op ons simbole niks nuuts is nie aangesien dit ook voorheen in die onlangse verlede gebeur het. Hier lees hy die situasie geheel en al verkeerd. In die onlangse verlede het ANC-beheerde stadsrade wel ontslae geraak van standbeelde van apartheidsleiers, maar hierdie is iets geheel anders. Wat ons nou sien, is woedende populistiese en gewelddadige vandalisme van simbole van alle wittes, ongeag die era. Hierdie is die koorsige simptoom van ‘n nasionale raserny wat aan die oplaai is. Ek kan die OB waarborg dat hierdie vandalisme bittermin met die beelde as simbole van apartheid of kolonialisme te make het, maar wel alles met swart-op-wit haat. Die beelde is maar net ‘n voorspel vir groter dinge wat kom en daarom moet ons alles in ons vermoë doen om dit hier te stuit en nie een duim toegee nie. Ek sal eerder sien dat ons die geveg om die simbole voer al verloor ons dit. Ja, selfs al kap hulle dit stukkend en smelt vir Oom Paul af tot kombuiskrane, dan sal ek liewer dat hý in die spervuur van die frontlinie is as Afrikanerlewens. Dan het ons ten minste tyd gekoop, ons die vyand se spoed gebreek, en meer belangrik, ons eie mense weer geïnspireer om ruggraat styf te maak. Laat hierdie drama eerder op Kerkplein en in die howe afspeel, as wat dit straat af na na wit woonbuurte toe kom.

Tans is die rassesituasie in SA so erg gepolariseer dat die middelgrond wat voorheen deur liberale sentriste gevul is vinnig aan die verdwyn is. Orania probeer saam met die Soligarge en kie. nou ook hierdie middelgrond beklee. Die probleem vir hulle is dat hulle ideologiese kontinent soos die mitiese Atlantis aan die wegsink is. Sonder hierdie middelgrond sal Orania nooit d.m.v. enige vorm van onderhandeling ooit onafhanklikheid ontvang nie. Die venster vir daardie geleentheid het ná die Volkstaatsraad reeds grotendeels toegemaak, maar ek beweer dat dit nou heeltemal toe is. Dis sleg vir alle Afrikaners. Ons beweeg nou ‘n volgende fase in waar selfbeskikking nie meer die doelwit is nie, maar wel oorlewing. Dit sal die moeite werd wees vir almal om spoedig hiermee verlief te neem. Die tyd vir saamstaan is nou hier. Die fokus moet nou wees om enige verdere aanslag op ons leefruimte te beveg, wat ons simbole insluit.

Terug by Solidariteit: Dis juis die wegkalwe van die middelgrond en die eksponensiële opkoms van Steve Hofmeyer se gewildheid wat die vakbond-oligargie angstig maak. Daar is ‘n nuwe gety onder Afrikaners en die Soligargie skip het gesink. Ten minste het hulle nog die debietorders…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.