Het Nasionale Intelligensie die land destyds verraai? vra Thorsten

Deel op

Mnr. PW Botha het teen die einde van sy lewe sterk vermoed dat u met koverte verraad teen Suid-Afrika besig was en het dit dikwels teenoor nabye vriende genoem? Was hy verkeerd?

Deel op

PRAAG het die volgende vrae van ene Thorsten, wat ons aflei voorheen by MI (Militêre Inligting) in die ou Suid-Afrika werksaam was, ontvang, n.a.v. dr. Niël Barnard se outobiografie wat onlangs op dié blad resenseer is en waaroor Leon Lemmer insgelyks kommentaar gelewer het. Sommige van die vrae lees meer soos kommentaar op die boek of kritiek op Barnard, maar ons plaas hulle te goeder trou soos ons hulle ontvang het. Uiteraard aanvaar ons geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid van Thorsten se bewerings en sinspelings nie. – Die Redaksie.

Ek het bepaalde vrae wat ek aan dr. Barnard sou wou stel. Dalk kan hy of sy adjunkte hulle hier aanlyn beantwoord.

  1. Ten eerste: In u boek beweer u dat u tydens ‘n privaatgesprek met oudpresident PW Botha in Mei 1988 die volgende sou gesê het: “Meneer die president, ons moet besef waarvoor ons te staan kom as ons met Nelson Mandela begin onderhandel. Die uitkoms is onvermydelik en sal ‘n meerderheidsregering wees, met hom as president.” U sê dat Botha geantwoord het met: “Ek begryp dit baie goed. Dis nie nodig om vir my te preek nie.” Ons vind dit eienaardig dat u “memoirs” nou uitgegee word, met beide Botha en Mandela wat oorlede is. Na alles kan die dooies nie meer praat nie. Sou u hierop wou antwoord?
  2. Nog iets. Waarnemers het die opmerking gemaak dat Kobie Coetzee die voorstel gedoen het dat u as NI-baas aangestel word omdat hy vir sy eie Nasionale Party-leiersposisie in die Vrystaat gevrees het en u toenemende ambisie rondom dié pos. Sou u hierop kommentaar wou lewer?
  3. U is op die ouderdom van 34 op die vlak van direkteur of in militêre taal as brigadier aangestel. Toentertyd het vele waarnemers opgemerk dat u nóg oor die verlangde ervaring nóg oor die beroepsgerigte opleiding beskik het om die aansienlike uitdaging van so ‘n pos die hoof te bied. Wat sou u hierop antwoord?
  4. U het ons eie SA militêre inligtingsagente op ‘n onophoudelike en onbeholpe wyse in die buiteland deur NI-agente laat agtervolg. Dit het dikwels tot uitgebreide, duur sekondêre operasies deur bevriende buitelandse agentskappe gelei om u onprofessionele optrede te neutraliseer. Onder andere was daar verskeie moontlike rampe wat net-net afgeweer is aangesien u beleid van “die dophouers dop te hou” die ongewenste en dikwels lewensbedreigende aandag van vyandelike agentskappe teenoor SA militêre inligtingsoprasies getrek het. Sou u hierop wou kommentaar lewer?
  5. Slegte praktyke in die veld en swak dekking het dikwels daartoe gelei dat buitelandse agentskappe knaend teenoor Militêre Inligting gekla het oor, onder andere, u openlike aankomste by internasionale lughawens met hele weermagte van lyfwagte wat bakarm u persoon beskerm het, asook fisieke optrede waar lede van die publiek eenkant toe gedruk is. Wat is u reaksie daarop?
  6. NI het konsekwent en kinderagtig SA Militêre Inligting daarvan weerhou om die toenemende “MK-bevryde gebiede” binne Suid-Afrika onder president PW Botha se aandag te bring, meer spesifiek teenoor die einde van die 1980’s. Sou u hierop kommentaar wou lewer?
  7. Dis algemeen bekend dat u (NI) meeste van die lêers oor die SAP en die SAW se koverte operasies selfs voor die Kemptonpark-onderhandelings aan die ANC oorgehandig het, waarmee vele lede van die veiligheidsmagte se lewens in gevaar gestel is. Hoe reageer u hierop?
  8. Waarom het u luitenant-generaal PW van der Westhuizen in u boek met sy “informele skryfstyl” aangeval? Was hy nie die man wat gepoog het om u op te lei alvorens u uself oortuig het, asook blykbaar ‘n paar twyfelagtige aanhangers, dat u ‘n “superbaasspioen” was nie? Hoe sou u daarop kommentaar lewer?
  9. Mnr. PW Botha het teen die einde van sy lewe sterk vermoed dat u met koverte verraad teen Suid-Afrika besig was en het dit dikwels teenoor nabye vriende genoem? Was hy verkeerd?
  10. U “informele skryfstyl” in die boek is opvallend… het u dieselfde ongesofistikeerde skryfstyl in u Engelse kommunikasie met buitelandse inligtingsagentskappe gebruik? Indien u het, was u onder verskeie vertroude waarnemers bekend dat u uiters onprofessioneel opgetree het! Hoe reageer u op dié beskuldigings?
  11. ‘n Bekende en hoogs gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse politieke wetenskaplike het eenkeer na u PhD-proefskrif verwys as “nie die papier werd waarop dit geskryf is nie en dat dit met die uitsluitlike doel geskryf is om ‘n uitverkore groepie selfgesentreerde akademici en welaf Afrikaners in Bloemfontein te probeer beïndruk…” Hy het sy mening gestaaf deur die proefskrif met heelwat swier en oor ‘n hele paar meter in die snippermandjie te gooi voor ‘n goed bygewoonde klas van senior studente met dié slotwoorde: “‘n nuttelose stuk werk wat deur iemand geskryf is wat net as ‘n hekwagter gekwalifiseer het”. Hoe reageer u hierop?
  12. Watter rol het u gespeel om die SAW te verbied om aan die Kemptonpark-onderhandelings deel te neem, asook die daaropvolgende verlies van geheime sakelyspunte van die ANC (wat slegs aan die SAW bekend was) waarin ‘n algemene amnestie met geen verdere vervolgings ter sprake was, asook ‘n kulturele tuisland vir die Afrikaner? Wat is u kommentaar hierop?
  13. In u boek neem u volle verantwoordelikheid vir die vernietiging van die bandopname van die eerste vergadering tussen PW Botha en Nelson Mandela. Watter gedeelte van die inhoud was volgens u te plofbaar op die vooraand van die onderhandelings? Was die feit dat die bandopname met sy getuienis van twee persoonlikhede wat mekaar waardeer en respekteer problematies vanuit die heersende perspektief wat u en u medesamesweerders help skep het, agter die linies?
  14. Verskeie ingeligte kommentators glo tot vandag toe dat u deel was van ‘n uitgebreide komplot om president PW Botha te vermoor wat met die tegniese hulp van die CIA uitgevoer is en dat hy nooit beroerte vanweë natuurlike oorsake gehad het nie, maar dat dit nageboots is deur die koverte aanwending van ‘n deskundig ontwerpte chemiese wapen. Hulle beweer dat u deur senior lede van sy personeel bygestaan is. Wat sou u antwoord hierop wees?
  15. Die Israeli’s is hoogs gerespekteerde beoefenaars van inligtingsoperasies in ‘n dodelike omgewing, iets wat u duidelik nooit begryp of verstaan het nie. Sou u kommentaar wou lewer daarop of u van plan is om u “informele” boek te vertaal wat vele onvleiende opmerkings oor hul inligtingsdiens bevat, gepaard met dikwels kru terminologie sodat hulle u mening oor hul fisieke statuur (“kortgatsindroom”) en inligtingswerk sal verstaan?
  16. Toe u by Elize Botha se begrafnis opdaag, het u skielik en ongemaklik gedurende die verrigtinge verdwyn. Gerugte wil hê dat u in die openbaar weggejaag is. Hoe reageer u hierop?
  17. Was die rede dat u nie PW Botha se begrafnis bygewoon het nie, daaraan verwant dat u by Elize se begrafnis in die openbaar weggejaag is?
  18. U “informele” boek toon geen begrip of kommer oor die minderheidsgroepe nie, bv. die Afrikaner se huidige totale gebrek aan politieke invloed of seggenskap en veral die blanke boerderygemeenskap se haglike toestand, veral nadat hul R4-gewere van hulle afgeneem is deur die ontbinding van die kommandostelsel. Dit het hulle met min of geen verdediging gelaat, teenoor hul dikwels swaar gewapende aanvalllers – ook met Kalasjnikof-aanvalsgewere – gelaat nie. Sou u dalk wou uitwei of u enige verantwoordelikheid hoegenaamd voel vir dié tragiese en onomkeerbare situasie ná u selfverklaarde triomfantelike en suksesvolle loopbaan as NI-baas – soos dit in u “informele” boek beskryf word?
  19. Ambisieuse en “suksesvolle” mense soos u word dikwels deur die geskiedenis geoordeel lank nadat hulle hierdie sterflike plek verlaat het. Sou u wou reageer op die vraag of u dalk onthou sal word as “‘n dapper kryger vir die Afrikaner se uiteindelike oorlewing as groep” of as ‘n “selfgesentreerde en ambisieuse man wat ver bokant sy vlak van bekwaamheid en kulturele verfyndheid aangestel is”?

– Thorsten

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.