Vermaak: Solidariteit se “krisisberaad”, ‘n resensie

Deel op

Lede van die sogenaamde “Solidariteitbeweging” wat vandag ‘n “krisisberaad” by die Voortrekkermonument gehou het, het telkens beklemtoon dat hulle graag met die “ANC wil praat” of tesame met die regering “wedersydse respek tussen gemeenskappe” wil kweek. Maar terselfdertyd is gesprek of debat met ander Afrikaanse organisasies of individue op sektariese wyse in die wind geslaan. Solidariteit staan Afrikanersamewerking voor, dog slegs “met organisasies met bewese steun”, ‘n toutologie wat diegene onafhanklik van sy dampkring uitsluit.

Mnr. Dirk Hermann het selfs van “gemeenskapsbelasting” gepraat, waaronder die geldelike bydraes aan Solidariteit en Afriforum verstaan moet word. Met sulke taal verraai die organisasie sy onderliggende vakbond- en staatsdiensmentaliteit wat die skep van vooruitstrewende Afrikanerondernemings uitsluit. Dis ‘n soort neergelegde “plan van bo”, selfs “Bo” met ‘n hoofletter.

Besprekings vanaf die vloer is tot een minuut en 35 sekondes beperk en die mikrofone is selfs geprogrammeer om na ‘n sekere tydperk ‘n alarmtoon te laat hoor, waarna die spreker afgesny is, byna soos ‘n vooraf betaalde selfoonoproep. Sodoende is die gepeupel in toom gehou en uiteraard is geen kritiese vrae of opmerkings geduld nie, amper soos by ‘n prefektevergadering.

Die gewone litanie van Afrikanerklagtes is deur elke spreker opgenoem, sonder om iets nuuts by te voeg. Al strategiese uitkoms wat die reusevakbond vir Afrikaners bied, is meer opleiding en steun vir sy privaatuniversiteit, Akademia. Indien Akademia ook deur middel van wetgewing deur die staat “getransformeer word”, is dit skaakmat wat die “Afrikaanse Harvard” betref.

‘n Hele aantal mosies is deur ‘n rits werknemers van Soliforum (Solidariteit + Afriforum) voorgestel. Geen wysigings, kritiek of bespreking daaroor is toegelaat nie en die gehoor het dit klakkeloos aanvaar. Trouens, nie ‘n enkele mosie is selfs tot stemming gebring nie.

Plek-plek het die taal van die doodgebore “Groep van 63” van 15 jaar gelede deurgeslaan, soos die fameuse “opvolgskikking”. Die volk smeek ‘n paar kultuuraalmoese van die magtige ANC af. Andersins was daar so ‘n sousie van Carel Boshoff senior en junior se “selfstandigheid binne die grondwet”, met Orania in ons agterplase in Centurion of dalk as ‘n soort bordspeletjie op die patroon van Monopoly.

Met mediasteun van Naspers, RSG en Radio Pretoria, gloei Flip Buys, Dirk Hermann en Kallie Kriel in hul selfaangestelde rolle as driemanskap van die “Nuwe Broederbond” wat oor die Afrikaner se toekoms gaan besluit terwyl daar met die ANC vanuit ‘n posisie van onmag oor Afrikaans, skole, universiteite en standbeelde onderhandel word.

‘n Mens sou dit ook kon tipeer as ‘n diktatuur van Afrikaner- politieke korrektheid wat in die tradisie van FW de Klerk en die NP tydens sy laaste stuiptrekkings volhard. Geen wonder Soliforum sien ander Afrikaanse organisasies en veral kritiese denkers as sy vernaamste vyande nie, terwyl hy telkens by die ANC tee drink. Ook die NP het mede-Afrikaners, nie die ANC of SAKP nie, as sy hoofvyand beskou – met die funeste gevolge wat ons vandag ervaar.

Een van die sprekers was ten minste eerlik genoeg om te erken dat “ons niks bereik het met die afgelope twintig jaar se gesprekke met die ANC nie”. Soliforum is egter “zen genoeg” om daarmee aan te hou: die strewe na niks en die niet is ‘n doel op sigself.

Willie Spies het met trots aangekondig dat daar 1 535 in die saal teenwoordig was, maar met die hoeveelheid vooraf publisiteit wat die beraad in die hoofstroommedia geniet het, getuig dit van die uiterste apatie. Enige ander organisasie sou met soveel gratis mediasteun Loftus moes huur.

Anders as die swart stamme tydens die verskriklike apartheid, beskik ons oor geen tuisland nie. Darem het ons ‘n paar tuislandleiers wat oënskynlik oor ons lot begaan is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.