‘n Dosent in kernfisika aan die Universiteit van Stellenbosch is geskors nadat hy na bewering ‘n rassistiese SMS-boodskap aan ‘n student gestuur het.
‘n Woordvoerder van die universiteit sê die dosent in kernfisika, Anton Stander is tydelik van sy pligte onthef en daar is met tugstappe teen Stander begin.
Dit volg ná ‘n klagte van ‘n sosiologiestudent en lid van die Oop-Stellenbosch forum, Sikhulekile Duma waarin hy beweer hy het die volgende ontvang: “Jou swart moer van die wit boer”.
Die selfoonnommer wat vir die SMS gebruik is, behoort volgens berigte aan die dosent.
Die Oop-Stellenbosch forum beywer hom vir verskeie veldtogte ten gunste van transformasie en verswarting by die universiteit.
Die SU-woordvoerder Martin Viljoen het bevestig dat die akademikus van sy pligte onthef is: “Sulke gedrag is onaanvaarbaar en nie in lyn met die Universiteit se waardes nie.”
Viljoen sê die instelling beskou die voorval in ‘n baie ernstige lig.
Die swart student wat die klagte gelê het, is in kennis gestel van die ontwikkelinge, en sal op hoogte gehou word, het Viljoen bygevoeg.