Studenteraadvoorsitter boet vir sy Hitler-opmerkings

Deel op

Die voorsitter van Wits se studenteraad Mcebo Dlamini, wat aspekte van Hitler bewonder, is summier uit sy amp verwyder.

Die verskoning wat gebruik is om Dlamini die swye op te lê is glo ‘n hangende appèl teen sy skorsing rakende ‘n ander klag. Dit is nie bekend wat die aanklagte teen Dlamini is nie.

Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê Dlamini is in Februarie skuldig bevind aan wangedrag en hy het ‘n opgeskorte vonnis van een jaar vir elke klag ontvang.

Habib het eers ontken dat Dlamini se verklaring “oor sy bewondering vir Hitler” sy besluit beïnvloed het, maar later toegegee dat dit wel “ondersoek” word as deel van die veldtog teen die studenteraadvoorsitter se spraakvryheid.

“Kragtens die grondwet van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) word ‘n lid van die studenteraad uit sy amp verwyder indien hy skuldig bevind word aan wangedrag deur ‘n studente dissiplinêre komitee. Die SR-lid kan appèl aanteken teen sy skorsing,” het Habib Maandag in ‘n woordryke verklaring gesê wat kennelik daarop gemik was om die werklike redes vir die skorsing te verbloem.

Dlamini is met onmiddellike effek uit sy amp geskop “in die beste belang van die universiteit”, het Habib gesê.

Die heksejag teen Dlamini het gekom toe hy aspekte van Hitler uitgesonder het en daarna geweier het om om verskoning te vra.

Dlamini het nie die gaskamers of die Holocaust verdedig nie en in sy reaksie sy bewondering vir Hitler gekwalifiseer, maar dit was klaarblyklik nie genoeg om sy vryheid van spraak te waarborg nie.

Dlamini het ook Hitler se magsvergrype met dié van oorlogsmisdadigers Benjamin Netanyahu, George Bush en Tony Blair vergelyk.

Volgens Habib kan Dlamini nie vryheid van spraak geniet nie omdat “die universiteit ooreenkomstig sy waardes moet optree”.

Dié waardes behels blykbaar dat Afrikaners vir volksmoord uitgesonder mag word en swart leiersfigure aangehits mag word om op die basis van ras teen Afrikaners te diskrimineer.

Die hoeveelheid geleenthede waar Wits se Great Hall amptelik gebruik is vir sulke bedrywighede is te veel om te noem.

Beeld het verlede jaar ‘n soortgelyke heksejag teen die NWU-Puk kampus van stapel gestuur oor mindere bewerings van “Nazisme”.

Die koerant het ‘n koshuis se dans-choreografie waar studente se arms opgehou word, as Nazisme voorgehou en as ‘n rede aangevoer vir die PUK om te “transformeer”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.