Twee mans by Moslemspotprent-uitstalling geskiet

Deel op

Die polisie in Texas het twee gewapende mans by ‘n tentoonstelling naby Dallas doodgeskiet.

Die twee het glo by ‘n kunsuitstalling van spotprente oor die Profeet Mohammed opgedaag en ‘n veiligheidswag in die been geskiet, het Reuters berig.

Die wag is lig beseer in die skietery in die voorstad, Garland, maar is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Sondag se aanval het plaasgevind in ‘n parkeerterrein van die Curtis Culwell Center, ‘n binnenshuise arena in die voorstad noordoos van Dallas.

Niemand anders is beseer nie.

Die Nederlandse anti-Islamitiese politikus, Geert Wilders het die geleentheid bygewoon. Hy het op Twitter gesê dat skote geskiet is, maar dat hy die gebou verlaat het en veilig is.

Dit is onduidelik of die skietery verband hou met Islam of die spotprente by die uitstalling het owerhede Sondag gesê.

“Ek het geen idee wie hulle is nie, behalwe dat hulle dood is en in die straat was,” het die stad se polisiewoordvoerder, Joe Harn, aan Reuters gesê.

As ‘n voorsorgmaatreël, het die polisie die motor van die verdagtes ondersoek vir enige plofstof wat dalk in die voertuig versteek kon gewees het, het Harn bygevoeg.

Die geleentheid is geadverteer as die “Muhammad Art Exhibit and Contest” en is deur Pamela Geller gereël.

Geller, wat bekend is vir haar felle kritiek teen Islam, het aan Fox News gesê dat sy besluit het om die Garlandruimte vir die kunsuitstalling te benut, want dit is waar Amerikaanse Moslem-leiers ‘n konferensie oor die bekamping van Moslemhaat ‘n week na die Charlie Hebdo-aanvalle gehou het.

In Januarie, het gewapende mans 12 mense in Parys vermoor wat by die Franse satiriese tydskrif Charlie Hebdo gewerk het.

Die meeste van die mense wat die geleentheid bygewoon het was nog in die arena toe die geweld ontvou het en was onbewus van wat gebeur het totdat die polisie die gebou binnegestorm het en almal aangeraai het om binnenshuis te bly as gevolg van ‘n skietery.

“Die eerste verdagte is onmiddellik geskiet. Die tweede verdagte is geskiet en gewond -… Hy [die gewonde] het vir sy rugsak gereik. Natuurlik het beamptes nie geweet wat in die rugsak is nie, en het hom weer geskiet. Hy is gedood,” het Garland se burgemeester Douglas Athas aan CNN gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.