DA-sirkus: Maimane van seksuele wangedrag beskuldig

Deel op

Die Demokratiese Alliansie baklei dat die hare waai onder mekaar oor wie as leier aangewys gaan word by die nasionale kongres hierdie naweek in Port Elizabeth.

Terwyl die parlementêre leier Mmusi Maimane na die gunsteling lyk, het die stryd vir die beheer van die amptelike opposisie warm geraak toe daar beskuldigings van seksuele wangedrag in ‘n e-pos teen hom en top-leiers wat help met sy veldtog, Athol Trollip, John Steenhuisen en Paul Boughey, gemaak is.

Die betrokkenes het intussen in ‘n verklaring gesê die anonieme e-pos was “negatief, vals en vernietigend”.

Vier kandidate gaan meeding om die pos van federale voorsitter by die party se kongres. Maimane, Wilmot James, Adrian Naidoo en Morgan Oliphant het hulself verkiesbaar gestel.

Die DA se grootste provinsie wat ondersteuning betref, is die Wes-Kaap, maar dit lyk of DA-stemmers in Gauteng ‘n swart leier wil hê.

Minstens 1 500 afgevaardigdes sal die kongres bywoon, waarvan 373 van Gauteng, terwyl die Wes-Kaap 423 afgevaardigdes sal stuur.

Uit die 373 Gautengse afgevaardigdes het reeds 195 hul steun aan Maimane toegesê. Dit gee hom ’n stewige deel van die party se naasgrootste provinsie.

Maimane, wat deur Helen Zille voorgestoot word, word uitgedaag deur die DA se voorsitter Wilmot James.

Maimane en James gaan mekaar glo Maandagaand in ‘n Amerikaanse styl debat pak wat lewendig uitgesaai sal word deur die Afrikaanse betaalkanaal kykNET, op die program Insig.

Die bespreking en debat sal waarskynlik in Engels gehou word aangesien die DA slegs Engels as voertaal aanvaar. Rapport se redakteur Waldimar Pelser, sal as skeidsregter optree.

Maimane sal die DA vinniger kan verswart, sê ontleders. Hy is glo verbind tot verswarting weens sy aandrang op “verskeidenheid in die party” omdat die DA ‘n “duidelike visie vir die land en die party nodig het”.

Hy sê opvattings dat hy die uittredende partyleier, Helen Zille, se marionet was, het hom nog nooit gepla nie.

Sy meteoriese opgang in die DA onder Zille se leierskap het deurentyd kritiek ontlok. Zille het klaarblyklik steeds genoeg invloed om hom tot leier verkies te kry.

“Daar is groeiende steun binne en buite die party vir Maimane om die DA se nuwe leier te word,” het ‘n DA-woordvoerder gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.