Huisbraak op video vasgevang

Deel op

‘n Veiligheidskamera het Woensdagoggend ‘n huisbraak in Ninapark, Pretoria, waar verskeie waardevolle items gesteel is, op video vasgevang.

Volgens Johan Roux (53), huiseienaar, het die voorval omstreeks 10:45 plaasgevind en het dit vier verdagtes net ses minute geneem om die voordeur oop te breek, ‘n paar waardevolle items te neem en weg te jaag.

Roux was by die werk toe die voorval plaasgevind het, het die Moot Rekord berig.

“Sover ons kon agterkom is televisies en hul afstandbeheerders, asook van my vrou se juweliersware gesteel. Ons kon nog nie vasstel presies wat alles weg is nie, omdat die forensiese-span vandag eers ‘n ondersoek kom doen het. Ons kon nog nie al die skade bepaal nie,” het Roux gesê.

Sedert hy in 1993 in sy huis ingetrek het, het Roux nog nooit voorheen ‘n huisbraak gehad nie.

“So paar jaar gelede het iemand oor ons muur gespring en ‘n fiets en ‘n paar ander items gesteel, maar ons het nog nooit voorheen met ‘n huisbraak probleme gehad nie.”

Voor die inbraak het die verdagtes glo ‘n uur vroeër verby die huis gery, by die oprit ingery en ‘n rukkie daar vertoef, voordat hulle weer weggery het.

Tydens die huisbraak het twee van die verdagtes die huis ingegaan, terwyl twee ander in die motor gewag het, het Roux gesê.

Volgens polisiewoordvoerder Matthews Nkoadi, is die polisie nie bewus van die voorval nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.