Leon Lemmer: Die eienaardige ondergang van blanke politieke mag in Suid-Afrika

Deel op

In die vorige eeu was dit veral die ANC wat hom daarvoor beywer het om die politieke mag van blankes in Suid-Afrika te beëindig. Hy wou self daardie mag hê. Die instrumente wat hy gebruik het, was om onrus te saai, die massa op te sweep en geweld te pleeg. Die land moet onregeerbaar gemaak word. Propaganda het verseker dat die ANC nie net binnelands nie, maar ook in die buiteland, groot steun geniet het. Die vernietiging van wat opgebou is, was iets waarmee die gepeupel sonder afrigting weergaloos behulpsaam was (en is).

Toe FW de Klerk in 1989 die staatshoof geword het, het hy besluit om ‘n einde aan “die spiraal van geweld” te maak. Sy visioen was ‘n vreedsame, voorspoedige, nie-kommunistiese nuwe Suid-Afrika. De Klerk het uitnemend daarin geslaag om die ondergang van blanke politieke mag te bewerkstellig. Sy ideale het egter in die slag gebly. Suid-Afrika het ‘n regering met sterk kommunistiese neigings gekry. Die massa het die ANC se geweldskultuur (waarvan Nelson Mandela ongetwyfeld die vader is) as ‘n suksesresep omarm. [Op kenmerkende wyse dink Jacob Zuma egter dat apartheid en dus blankes vir die geweldskultuur verantwoordelik is (Die Burger, 28 April, p 1)]. Die gepeupel het agtergekom dat geweld iets is waarmee hulle omtrent alles kon kry wat hulle begeer. Kontrasteer dit met die “lasting peace” wat Mandela belowe het (Barnard, bron hier onder, p 268). Owerheidsondoeltreffendheid het verseker dat die nuwe Suid-Afrika in toenemende mate onregeerbaar gebly het. Wet en orde, stabiliteit en voorspoed het die status van hersenskimme verwerf.

Hoe het ons in hierdie situasie, die wrede werklikheid van vandag, beland? In sy boek, Geheime revolusie: memoires van ‘n spioenbaas (Kaapstad: Tafelberg, 2015, 289p, R250), vertel Niël Barnard opnuut die aanvang van hierdie verhaal. Let daarop dat die boektitel suggereer dat die herskikking sonder die medewete en instemming van die blanke kiesers plaasgevind het. “In die geheim is die eerste saadjies geplant vir ‘n vreedsame revolusie wat die geskiedenis van Suid-Afrika vir altyd sou verander” (p 227). Die miskenning van die instemming, beheer of vetoreg van blanke kiesers sou inderdaad ‘n deurlopende kenmerk van die gebeure bly. Die beloofde magsdeling, waarvoor die meerderheid blanke kiesers in 1992 te vinde was, is teen 1994 omskep in algehele politieke magsoorgawe sonder dat die blanke kiesers (verdere) inspraak daarin gegun is of toegelaat is om dit goed of af te keur.

Barnard was vanaf 1980 die hoof van die Nasionale Intelligensiediens (NI) en bied in sy boek heelwat betroubare en dikwels nuwe inligting. Die boek is ook in Engels gepubliseer. Albei weergawes is as ‘n e-boek beskikbaar (bv Amazon Kindle $22.93). Wat ek gaan doen, is om eers Piet Croucamp se resensie te bespreek. Daarna volg opmerkings oor Willie Esterhuyse se 2012-boek, wat oor dieselfde onderwerp handel. Ten slotte word aandag aan Barnard se boek as sodanig geskenk.

Piet Croucamp

Die enigste resensie van Barnard se boek wat ek gelees het, is dié van Piet Croucamp (Die Burger, By, 25 April, p 8). Wat hy skryf, is hoogs misleidend. Daar is seker veral twee redes hiervoor. Eerstens is dit polities korrek om die skryfwerk van ‘n amptenaar van die “apartheidsregime” af te kraak. Tweedens het Croucamp as ‘n dosent in staatsleer blykbaar ‘n sielkundige probleem om erkenning te gee aan die akademies-intellektuele meerderwaardigheid van Barnard, ‘n oud-dosent in staatsleer. Croucamp kla bv oor “die naïwiteit van die politieke narratief.”

Croucamp is beswaard omdat ‘n joernalis, Tobie Wiese, met die teksversorging gehelp het. Die eintlike rede waarom Wiese betrek is, is enersyds waarskynlik om Barnard se akademiese skryfstyl meer vloeiend en leesbaar te maak. Sodanige verteltrant word “journalese” genoem. (Vergelyk bv Dan Roodt se maklik leesbare joernalees met die hardlywige skryftrant in my rubrieke, wat vol aanhalings, hakies en bronverwysings is.) Andersyds was dit blykbaar Wiese se taak om bestaande inligting (in bv verslae en onderhoude) te sistematiseer.

Barnard het regverdigbare waardering vir PW Botha se positiewe eienskappe. Hermann Giliomee maak dit in sy boek, Die laaste Afrikanerleiers (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 460p), baie duidelik dat Botha, naas HF Verwoerd, die staatshoof was wat die meeste visie geopenbaar en die meeste hervormings deurgevoer het. Croucamp duld egter geen positiewe woord oor “‘n outokraat” soos Botha nie. Giliomee gee ‘n gunstige relaas van Barnard en sy NI (p 147-148). In die voorwoord van Barnard se boek noem Giliomee dat Botha ‘n sterk leier was maar “hy word vandag eensydig uitgebeeld as ‘n politieke buffel” (p xii). Barnard vertel in sy boek hoe Botha se getrouste ondersteuners, bv sy ministers, na sy beroerte “die een ná die ander … teen hom gedraai” het. “Dit was, wat my betref, skandalig en lafhartig” (p 230).

Esterhuyse se boek is klaarblyklik die werk waarmee dié van Barnard vergelyk moet word, maar Croukamp ignoreer dit en verwys eerder na die boeke van Johan van der Merwe en Jeremy Gordin. Daar is nie ‘n enkele positiewe opmerking in Croucamp se myns insiens hoogs bevooroordeelde resensie nie. Die enkele saak waaroor ek hom gelyk gee, is dat daar ‘n egoïstiese selftevredenheid by Barnard is wat steurend vir die leser kan wees. Die gegriefde oud-diplomaat, Riaan Eksteen, ‘n gekweste Koedoe, hamer hierop (Netwerk24, 30 April).

Willie Esterhuyse

Ek kan nie Willie Esterhuyse se boek, Eindstryd (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 367p) hier in sy geheel aan die orde stel nie. [Verwys hiervoor eerder na Johannes Comestor se resensie, “Van Broeder tot kameraad” (LitNet, 14.05.2012) en “Die tirannie van demografie” (LitNet, 15.05.2012).] Ek beperk my aandag tot aspekte wat direk op Barnard betrekking het. Volgens Giliomee was Esterhuyse van November 1987 tot Mei 1990 namens die NI by 12 samekomste met die buitelandse vleuel van die ANC betrokke (p 287). Esterhuyse noem in sy boek dat Barnard “sterk ‘geloofsbriewe’ in die Afrikaanse gemeenskap” het (p 71); hy was bv ‘n Broeder (Barnard, p 5). Esterhuyse sal nie “Afrikanergemeenskap” skryf nie, want hy het ‘n renons in die (tradisionele) Afrikaner. Maar hy is Barnard goedgesind: “Ek vertrou Niel Barnard en sy span” (p 200). [Vir die ruime, eintlik ongelooflike, mate waarin oud-Broeder Esterhuyse anti-Afrikaner en ook anti-Afrikaans gesind is, kyk bv Pieter Kapp se Maties en Afrikaans (2013) en JC Steyn se Ons gaan ‘n taal maak (2014).]

“Barnard het altyd ‘n baie korrekte en professionele verhouding met [PW] Botha gehad, maar tog ook ‘n bepaalde empatie teenoor Botha en sy vrou geopenbaar. Botha het baie respek vir Barnard gehad. Hy het eenkeer teenoor my opgemerk: ‘Barnard is ‘n ordentlike mens'” (p 205). “Persoonlik het ek Barnard leer ken as iemand met ‘n ‘sense of common decency’, om dié Engelse verwysing na beskaafdheid te gebruik – al kon hy soms op ‘n reguit en selfs brutale manier met mense swaarde kruis” (p 208). Komplimente afkomstig van Esterhuyse moet liefs met omsigtigheid benader word. Hy loop oor van lof vir bv Thabo Mbeki. “Daar moes uit ‘n posisie van mag onderhandel word. Dié punt is oor en oor deur Barnard en die NI gemaak” (p 220).

Met verwysing na NI-verslae skryf Esterhuyse: “Barnard het gewoonlik in ons gesprekke oor die Brittanje-byeenkomste alles gekwalifiseer, baie professioneel en korrek, met woorde soos ‘as ons dalk …'” (p 137). Hieruit kan afgelei word dat Barnard sekerlik Wiese se teks vir sy boek voor publikasie baie deeglik nagegaan het. Die formulering in die boek is uitstekend. Daar is baie wat daarop dui dat hier ‘n wyd belese akademikus en intelligente intelligensiehoof aan die woord is. Die Barnard-teks kan gekontrasteer word met dié van Esterhuyse, wat uitmunt in emosionele en selfs opswepende taalgebruik ten behoewe van bv die ANC en veral Thabo Mbeki. Esterhuyse verwys bv graag na die blanke regering as die “regime”. Maar lees veral sy relaas van die ontmoeting op 5 Julie 1989 van “die Groot Krokodil” (Botha) en “die Groot Ikoon” (Mandela) (p 206-210) en let op Esterhuyse se trant en woordkeuse. Dit is myns insiens die beste voorbeeld van die uiterste emosionaliteit en eensydigheid wat Esterhuyse homself veroorloof. Die probleem is myns insiens onder meer dat Esterhuyse hoofsaaklik in Europese/Vastelandse filosofie (bv Nietzsche) geskool is en nie in die (veral Britse) linguistiese wysbegeerte nie. Esterhuyse was nie eens by die Botha/Mandela-ontmoeting teenwoordig nie. Vergelyk sy teks daaroor met dié van Barnard (hoofstuk 21) wat wél daar was.

Niël Barnard

Dat Niël Barnard se hart op die regte plek sit, of gesit het, blyk uit sy eerste perskonferensie as NI-hoof in 1980: Hy het geweier om Engels te praat (p 8). “‘n Liefde vir die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis het ons met moedersmelk ingekry” (p 10). As student en dosent het hy “‘n konserwatiewe lewensuitkyk gehuldig” (p. 112). “Van die begin af het ek in die gesprekke met Mandela meestal Afrikaans gepraat … hy was gelukkig daarmee dat ek Afrikaans praat” (p 142). Oor die Russe skryf Barnard: “Hulle is net so nasionalities in hulle lewensbeskouing as wat ek is” (p 71). “Ek het groot waardering gekry vir [Mandela se] nasionalisme – wat vir my ook ‘n groot aantrekkingskrag inhou” (p 204). Blankes het uiteraard in dieselfde mate as swartes die reg om hulle nasionalisme uit te leef. Dit sou interessant wees om te weet hoe Barnard in die nuwe Suid-Afrika sy Afrikanernasionalisme tot sy reg laat kom. Dit kan kwalik as Suid-Afrikaanse nasionalisme gedy. ‘n Positiewe standpunt by Barnard is dat hy “nog altyd ‘n sterk voorstander van … voorkomende aanvalle” (p 271) op die skuilplekke van bv ANC-terreurbendes was.

“Hopelik het ek op [Mandela] die indruk gemaak van ‘n Afrikaner wat eweneens trots is op sy groep se agtergrond en kultuur” (p 204). Maar is dit vir Barnard steeds in dieselfde mate as in die vorige eeu moontlik om (byna) oral Afrikaans te praat en sy kultuur uit te leef? Die slotsin in sy boek is: “Ek is die Hemelse Vader oneindig dankbaar dat ek die unieke voorreg gehad het om saam met hom [Mandela] die pad voor te berei vir ‘n politieke skikking in ons vaderland waarvoor ek en hy as patriotte eindeloos lief was” (p 255) – en steeds is?

Barnard toon sy rasioneel-akademiese inslag deur duidelik tussen inligting (soms informasie genoem) en kennis te onderskei. Inligting is buite die gees van die subjek (bv ‘n teks of die weer), terwyl kennis geabsorbeerde en verwerkte inligting in die mens se gees is. “Inligting verskaf kennis en kennis sorg weer vir voorkennis wat ‘n staatshoof in staat stel om, in die ruim sin van die woord, besluite te neem wat sy land laat oorleef en laat wen. Vir die staat is kennis dus deurslaggewend om sy soewereine onafhanklikheid te verseker. ‘Intelligence is truth well and timely told'” (p 55). Inligting kan dus in kennis omskep word en tot bepaalde besluite en handelinge lei. Op hierdie manier kan kennis gebaseer op verwerkte inligting ‘n indiwidu met mag toerus.

Die NI se taak was om tersaaklike inligting in lands- (eerder as regerings-) belang te versamel, vertaal, evalueer, vertolk en saam te vat. Die NI “dien die staat en nie die regerende party nie” (p 141). Daar is regstreeks aan (veral) die staatshoof gerapporteer. Op hierdie manier kon die NI die politieke koers van die land bepaal. ‘n Klein persentasie van hierdie inligting is deur die NI met bv meeluistering, (e-)posonderskepping en veldwerk ingesamel. Ongeveer 80% van die inligting het egter uit openbare bronne, soos die nuusmedia en internet, gekom.

Barnard het na aanleiding van wat in bv Algerië gebeur het (p 144) tot die gevolgtrekking gekom dat Suid-Afrika se probleme nie militêr opgelos kon word nie. ‘n Politieke skikking moet met onderhandeling beding word, veral tussen die NP-regering en die ANC. Ook “dat omvangryke politieke hervormings, wat noodwendig onsekerheid meebring, alleen in ‘n stabiele en betreklik ordelike samelewing suksesvol uitgevoer kan word” (p 130). “Suksesvolle onderhandelinge met blywende voordele vir alle partye moet plaasvind in omstandighede waarin ‘n gesonde magsbalans heers” (p 134). ‘n Ander werklikheid waarmee rekening gehou moet word, is “dat ‘n mens die breë gang van die geskiedenis nie kan stuit nie” (p 132). Daar is ook die “tekens van die tye” (p 132), dus idees en gebeure wat kenmerkend van ‘n bepaalde tydperk is, wat in gedagte gehou moet word.

Daar word na “agternawysheid” verwys (p 51). Dit is moeilik om te bepaal wanneer Barnard sodanige nabaat benut. In Mei 1988 het hy glo aan Botha gesê: “President, ons moet net goed besef waarop ons ons moet voorberei as ons met Nelson Mandela begin onderhandel. Die uiteinde, dis onvermydelik, gaan ‘n meerderheidsregering wees, met hom as president” (p 135). Botha was bekend daarvoor dat “my mense” se belange deur hom op die hart gedra is en hy sou hulle nie “uitverkoop” nie (p 207). Later: “Ek kon sien Botha worstel. Moet hy met die ANC vrede maak ‘en my volk verraai’, soos hy daaraan sou dink, ‘of moet ek deur vrede my volk red?'” (p 176). As daar daadwerklik na magsdeling gestreef is, hoef dit myns insiens nie “onvermydelik” meerderheidsregering tot gevolg te hê nie; veral nie vanaf die begin van die nuwe politieke bedeling nie. Beperkte swart inspraak sou immers reeds magsdeling gewees het. Barnard skryf: “Dit was toe [in Botha se tyd] reeds duidelik dat Mandela na alle waarskynlikheid die volgende staatshoof van Suid-Afrika sou word” (p 155). “Ek het [Mandela] soos die toekomstige president van die land behandel, want dit was duidelik vir enigiemand met ‘n bietjie insig dat hy dit sou word” (p 205).

“Hoe beweeg ‘n land vreedsaam van een politieke bedeling na ‘n ander, veral wanneer dit die oordra van mag [25%? 50%? 100%?] van een kleurgroep aan ‘n ander behels teen die agtergrond van ‘n geskiedenis van rassespanning?” (p 187). My indruk is dat hier aan algehele oorgawe gedink is, of in elk geval dat meer as die helfte van politieke mag aan swartes oorgedra sou word; dus swart meerderheidsregering. Die volgende teks bevestig dit: “Heel vroeg in ons gesprekke het Mandela verduidelik dat ons die beginsel moet aanvaar van meerderheidsregering wat volle politieke regte vir swart mense impliseer. ‘Ons verstaan dit ten volle en aanvaar dit’, was ons antwoord. Dit is ook die standpunt van die president [Botha], kon ons hom verseker” (p 188). In 1989 skryf Mandela: “There will never be peace and stability in this country until the principle [of majority rule] is fully applied” (p 268, 210).

Barnard gaan in hierdie trant voort, maar eintlik baie erger. Tydens sy eerste samesprekings met Mandela op 25 Mei 1988 het Barnard glo gesê dat daar twee uitgangspunte vir die regering is: “Enersyds, die aanvaarding van swart mense se billike en realistiese eis van een mens, een stem in ‘n eenheidstaat” (p 138-139). Dit is presies wat Mandela begeer en as ononderhandelbaar beskou het. In 1989 skryf Mandela van sy en die ANC se “demand for majority rule in a unitary state” (p 269). Was dit ‘n “billike en realistiese eis”? Daar is immers talle minder radikale moontlikhede as een mens, een stem. Selfs as almal stemreg het, hoef elke stem nie dieselfde gewig te dra nie. En: ‘n eenheidstaat pleks van ‘n federale opset? ‘n Eenheidstaat is ‘n resep vir swart oorheersing en sluit die moontlikheid van bv ‘n blanke tuisland en selfs die sinvolle uitlewing van bv Afrikanernasionalisme uit.

“Andersyds, die aanvaarding van wit mense se legitieme kommer oor ‘n meerderheidsregering met ongebreidelde mag in ‘n staatkundige bedeling waarin hulle en ander minderheidsgroepe se belange vertrap kan word” (p 139). Wat hier hinder, is dat die swartes se wense eerste, voor dié van die blankes, gestel is; so asof swart belange voorrang (behoort te) geniet. Dit is ‘n uitvloeisel van die ANC se propaganda-oorlog waarin (in die woorde van Giliomee) “die ANC die morele gesagsposisie beklee en die Botha-regering die skurk in die verhaal is” (p xii). Later: “Mandela sê hy verstaan die wit mense se vrese, maar hy meen dat dit ná vyf jaar van gesamentlike demokratiese regering besweer sal wees” (p 163). Maar dan sal die koeël deur die kerk wees. (Die hek is vir Raka oopgelos en hy het gekom om te bly.) As die blankes dan steeds vrese het, is daar vir hulle geen moontlikheid van ‘n terugkeer na die vorige of ‘n ander beter politieke bedeling nie. In sy “politieke testament” van 1989 aan Botha maak Mandela gewag van “strukturele waarborge dat meerderheidsregering nie sal neerkom op oorheersing van die wit minderheid nie” (p 210, 269). Mandela noem “equal rights” (p 262) “equality” (p. 268) en ‘n “non-racial society” (p 269). In die nuwe Suid-Afrika “racial discrimination … will be forgotten” (p 269). Aspekte soos hierdie het later FW de Klerk se berugte wigte en teenwigte geword; iets waarvan daar ook (feitlik) niks tereg gekom het nie. In die nuwe Suid-Afrika is die blankes myns insiens ongetwyfeld tweedeklasburgers, dus mense wat anders/slegter as nie-wittes behandel word, deur bv blatant weens ras teen hulle te diskrimineer. Dit kan tot in die oneindige gedoen word, want geen keerdatum is gestel nie.

Barnard het drie struikelblokke aan Mandela genoem: die ANC se gebruik van geweld, die invloed van die SA Kommunistiese Party (SAKP) in die ANC en die probleem om ‘n aanvaarbare konstitusionele model te vind. Hierop het Mandela die regering die skuld vir die geweld gegee. Daar is glo geen ander opsie as geweld vir die ANC nie. Later het hy beweer dat sodra met onderhandelinge begin word, geweld sou verdwyn (p 145, 218, 262); iets wat glad nie gebeur het nie. In sy “politieke testament” aan Botha skryf Mandela: “Wit Suid-Afrikaners moet dit eenvoudig as ‘n feit aanvaar dat die ANC nie die gewapende stryd sal opskort, wat nog te sê afsweer, voordat die Regering gewilligheid toon om sy alleenreg op politieke mag te beëindig nie” (p 209, 262). Kontrasteer dit met die volgende Mandela-stelling: “There is not a single political organisation in this country … which can even compare with the ANC in its total [!] commitment to peaceful change” (p 260).

Mandela skryf: “No dedicated ANC member will ever heed the call to break with the SACP” (p 264). Voorts het Mandela beweer dat hy nie ‘n kommunis is nie en die ANC se Vryheidsmanifes (1955) nie ‘n bloudruk vir kommunisme is nie (p 139, 179). Dan volg dieselfde manier van ontwyking as met die geweldskwessie: “As formele onderhandelings tussen die Regering en die ANC eers begin het, sal die verhouding tussen die ANC en die SAKP irrelevant raak” (p 182). Later is op albei hierdie punte (geweld, kommunisme) aan die ANC se eise toegegee. FW de Klerk het besluit om onvoorwaardelik met die ANC te onderhandel; dus sonder dat die ANC geweld afgesweer het en kommuniste kon vryelik aan die samesprekings deelneem. Barnard skryf: “Ek glo vandag die ‘geen verstandhouding’-uitkoms was in der waarheid die beste” (p 226); ‘n standpunt waarmee ek my glad nie kan vereenselwig nie. Later skryf Barnard: “Leiers mag immers nooit in die oë van hul ondersteuners toegee nie!” (p 254), maar dit is presies wat De Klerk herhaaldelik gedoen het. Die ANC, daarenteen, het talle items sonder meer as ononderhandelbaar verklaar en daarby gehou, al beweer Mandela valslik “I came here with an open mind” (p 259) en dat sowel die NP-regering as die ANC bereid moet wees om kompromieë aan te gaan (p 269).

Let ook daarop dat Mandela gesê het dat hy nie ‘n kommunis is nie. Selfs “dat hy nooit tot enige ander organisasie as die ANC behoort het nie” (p 154, 266). Dít terwyl daar deesdae algemeen aanvaar word dat hy ongetwyfeld ‘n tyd lank ‘n kommunis en daarby lid van die SAKP was (bv Giliomee, p 332). “Mandela is van die begin af nukkerig om oor die SAKP en kommunisme gesprek te voer … Hy ontken telkemale ten sterkste dat hy ‘n kommunis is” (p 178). “Onlangse navorsing wys dat Mandela in sy later jare afstand tussen hom en die kommunisme geskep het, maar dit is so dat hy in die jare vyftig en sestig baie simpatiek teenoor die kommunisme gestaan het” (p 181). Mandela erken: “I have been influenced by Marxist thought” (p 266). Barnard meen egter: Mandela “is nie … in sy hart en niere ‘n kommunis nie” (p 204).

Terug na die kwessie van magsdeling. “Die regeringspan het van die begin af die standpunt ingeneem dat ‘n tussentydse oorgangsbedeling daargestel moet word, met inspraak en deelname deur al die vernaamste rolspelers” (p 187). “Om wit mense se verset teen ‘n swart regering teen te werk, het Mandela met die interessante voorstel gekom dat die voorgestelde tussentydse regering uit die helfte swart mense en die helfte wit mense bestaan wat die land vir ‘n oorgangstyd van vyf tot tien jaar kon regeer” (p 189). “The term ‘blacks’ is used in a broad sense to indicate all those who are not whites” (p 258). Tydens Barnard se laaste besoek aan Mandela in die gevangenis in Desember 1989 het Mandela “weer die moontlikheid genoem dat die land ‘n tyd lank geregeer kon word deur ‘n tussentydse regering waarin wit en swart gelyke verteenwoordiging het” (p 245). Dit sou bloot ‘n tydelike maatreël wees. Meerderheidsregering bly Mandela se langtermyn vereiste. Van hierdie voorgestelde 50/50-oorgangsregering het niks tereg gekom nie. Die regering van nasionale eenheid wat vyf jaar kon bestaan (1994-1999) en wat ‘n minderheid wit NP-ministers (5 uit 16) ingesluit het, het skaars twee jaar bestaan.

“Hoewel die gesprekke met Mandela wydlopend was en sekere newesake ook ter sprake gekom het, is daar nie in diepte (of wat sommige sake betref, glad nie) gepraat oor ‘n federale staatkundige bedeling, ‘n handves van menseregte, die inhoud van ‘n nuwe grondwet en dergelike sake nie. Oor ander omstrede kwessies soos regstellende aksie en die herverdeling van grond het ons wel lank gesels vanweë ons bekommernis dat sulke stappe doeltreffende landsadministrasie en voedselsekuriteit sou benadeel” (p 192). ‘n Mens sou dink dat die NP-regering dit van die begin af as ononderhandelbare vereistes sou stel dat bv alle rassediskriminasie verbied moet word, dat Afrikaans se posisie verskans sou word en dat daar nie gepeuter mag word aan die kultuurgoedere van blankes, soos monumente, plekname, ens, nie.

Naas die byeenkomste met Mandela (daar was 48 van Mei 1988 tot Desember 1989), waartydens dit dikwels ‘n tweegesprek tussen Barnard en Mandela was, is gesprekke ook met die buitelandse vleuel van die ANC gevoer. Hier het “die gesiene Stellenbosse filosoof prof Willie Esterhuyse” (p 197) as skakelpersoon vir die NI gedien. In sy boek verwys Barnard slegs hierdie enkele keer na Esterhuyse. Op 15 Augustus 1989 het FW de Klerk die staatshoof in die plek van Botha geword. Op 2 Februarie 1990 kondig De Klerk die onvoorwaardelike ontbanning van die ANC en ander politieke partye en die vrylating van Mandela aan: “Die seisoen van geweld is verby” [!] (p 246). In die nuwe Suid-Afrika sou daar glo geen oorheersing wees nie en minderheidsregte sou beskerm word (p 247). Barnard se boek sluit met die vrylating van Mandela af. Toe was daar by Barnard “‘n oomblik van selfvoldaanheid oor die geheime revolusie wat plaasgevind het – dat ons deur die geheime gesprekke die vreedsame skikkingsproses op vaste voet help plaas het” (p 252).

“Ek en De Klerk [het] van die begin af nie ‘n goeie verhouding gehad nie” (p 241). “Hy [het] ‘n gebrek aan strategiese insig en aan die noodsaaklikheid van duidelike doelwitte getoon … gewildheid was vir hom uiters belangrik … Opvallend genoeg het De Klerk en Mandela van die begin af ook nie veel byval by mekaar gevind nie” (p 242). Winnie Mandela het Nelson Mandela gewaarsku dat De Klerk “nie is wat hy voorgee om te wees nie” (p 244). De Klerk het die “NI onder die politieke beheer van ‘n adjunkminister geplaas” (p 243).

Die res van die verhaal van die blankes se politieke ondergang, sal in ‘n volgende boek deur Barnard vertel word (p 274, 278). Giliomee gee in sy bogenoemde boek oor Afrikanerleiers ‘n aanduiding van wat ons kan verwag. Barnard het glo in 1994 gesê: “Ek dink die Ou Man [Nelson Mandela] het vroeg al besluit De Klerk was in ‘n mate ‘n liggewig … ek dink hy het gou aangevoel dat daar dalk iemand aan die ander kant was wat al die tyd pragmaties oor moeilike kwessies sal rondspring en hom nie reguit, helder antwoorde sal gee nie” (p 332).

In onderhoude in 1994 en 2012 het Barnard van De Klerk gesê: “‘Ek het nooit gesien dat hy in moeilike omstandighede baie sterk optree nie. Hy het altyd ‘n kompromis gesoek, die maklikste uitweg … Die punt is: Dit is baie maklik om in jou kantoor in die Uniegebou te sit en opdragte oor moeilike kwessies te gee, maar wanneer jy in die spervuur is en self die besluite moet neem, is dit ‘n ander storie.’ Barnard is oortuig dat ‘n leier sommige sake ‘nie deur kompromis kan hanteer nie’, maar ‘n sterk standpunt moet inneem. Daardie vermoë, volgens Barnard, bepaal uiteindelik die vertroue tussen ‘n leier en sy volgelinge. Barnard glo vas dat Mandela nie so gou kon opgetree het as hy met PW Botha te doen gehad het nie. [De Klerk het toegegee aan Mandela se eis dat massa-aksie vir politieke doeleindes gebruik kan word.] Hy glo nie Botha sou aan Mandela se eise vir die omheining van die hostelle, die verbod op tradisionel wapens [albei gemik teen Inkatha] en die vrylating van [ANC-]gevangenes [en geen Inkatha-gevangenes nie] toegegee het nie. Hy sou dit terugverwys het na die onderhandelaars. Hy glo Botha sou aangevoel het dat Mandela se hoofdoel was om die bande tussen die regering en Inkatha te verbreek en hy sou geweier het om daarby in te val” (p 393).

Tydens die onderhandelings oor die amptelike tale het Barnard, volgens Giliomee, twee amptelike tale voorgestel, Afrikaans en Engels, met nog nege nasionale tale (p 422). Dit sou ‘n veel beter opset gewees het as die elf amptelike tale waarmee ons tans sit, maar dit is wat die ANC wou hê en gekry het.

  • Ek kom nou by die kern van hierdie saak. Volgens die voorafgaande teks was daar reeds in Mei 1988 in regeringsgeledere (Botha, Barnard, NI) en by Mandela eenstemmigheid oor die volgende aspekte van die voorgestelde nuwe grondwetlike bedeling:
  • meerderheidsregering, wat (waarskynlik) effektief swart regering sou beteken;
  • een mens, een stem, gelykmakend, dus sonder gehalte-onderskeid;
  • ‘n eenheidstaat, dus nie ‘n federasie nie;
  • Mandela as staatshoof, dus ‘n ANC-verkiesingsoorwinning.

Hierdie vier aspekte impliseer dat die blankes deur swart mag oorheers sou word. Des te meer omdat daar op Mandela se aandrang geen minderheidsregte mag wees nie. Dus dat daar myns insiens geen noemenswaardige vorm van magsdeling kon wees wat naasteby vir die meerderheid blanke kiesers aanvaarbaar sou wees nie.

Ek besef dat bloot verkennende gesprekke met Mandela tydens sy gevangenskap gevoer is; dat hy nie namens die ANC bindende besluite kon neem nie. Daarby was Mandela onbetroubaar. Barnard het bv aan Mandela kort voor sy vrylating gesê: “Hou asseblief net die eerste paar toesprake beheersd” (p 248). Op die dag van sy vrylating, 11 Februarie 1990, sê Mandela egter op die Kaapse Parade in sy eerste toespraak: “Now is the time to intensify the struggle on all fronts” (p 252). Barnard kan kwalik daarop aanspraak maak dat hy “die vreedsame skikkingsproses op vaste voet help plaas het” (p 252). Die ANC was vry om hom van enige ooreenkoms te distansieer en sy (swart) ondersteuners verder te bevoordeel. Die NP-regering, daarenteen, het homself in baie opsigte klaar gekompromitteer tot (klaarblyklike) nadeel van die blanke inwoners. Geen wonder dat De Klerk gekla het dat sy voorganger(s) hom in ‘n hoek vasgeverf het nie. Maar hoe kon hy in 1992 met ‘n eerlike gemoed ‘n referendum oor magsdeling hou sonder om die ware situasie aan die blanke kiesers te verduidelik? Dit sal interessant wees om te verneem in hoeverre Barnard hom in sy volgende boek tevrede verklaar met die grondwetlike skikking wat bereik is en die daaglikse werklikheid van die nuwe Suid-Afrika wat daaruit gevolg het.

In sy boek, Vereeniging (Kaapstad: Umuzi, 2010, 367p), skryf Leon Wessels: “Die ‘wit saak’ was verlore lank voordat die [Kodesa-]onderhandelings [op 21.12 1991] begin het” (p 59). Het hy, in die lig van die bostaande inligting, nie dalk reg nie? Die blanke kiesers het eers op 17 Maart 1992 na die stembus gegaan om in ‘n referendum vir of teen magsdeling (nie magsoorgawe nie) te stem. Die fundamentele vraag wat ek in die midde wil lê, is of hierdie referendum nie ‘n volslae klug was nie – dat ons as blanke kiesers vir die gek gehou is met bv De Klerk se beloftes van magsdeling, eie woonbuurte, eie skole, niemand sal sy werk verloor nie, ens. Daarby het De Klerk ‘n verdere referendum, wat nooit plaasgevind het nie, belowe. Dus, dat daar in daardie stadium reeds geen sprake meer van effektiewe, sinvolle politieke magsdeling was nie; dat meerderheidsregering en outoritêre swart oorheersing reeds as ‘n voldonge feit in bv De Klerk se geledere aanvaar is. Die uitslag van die 1992-referendum moes blykbaar (bloot) die skyn wek dat die blanke kiesers hiermee gedwee vir lief sou neem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.