Niël Barnard se outobiografie ontbloot NP-rugstekery

Deel op

Die spioenbaas, Niël Barnard, se outobiografie Geheime Rewolusie – memoires van ‘n spioenbaas, wat pas by Tafelberg verskyn het, is ‘n teleurstellende boek en sal slegs aanklank vind by diegene wat nie toegang tot die internet of ander eietydse nuusbronne het nie. Dit is veral gerig op ‘n bejaarde gehoor wat slegs Naspersnuus moet verteer. Die boek laat meer vrae as wat dit antwoorde verskaf en verteenwoordig die jongste vergoeiliking van die eerlose oorgawe waarmee Afrikaners vandag worstel.

Behalwe ‘n kort sin oor Edward Snowden se “verraad” teenoor die VSA, lyk dit nie of die afgelope 20 jaar by NI se vorige hoof geregistreer het om gebeure van vroeër in te kleur of perspektief te gee nie.

Outeur: Niël Barnard, soos vertel aan Tobie Wiese
Titel: Geheime revolusie – memoires van ‘n spioenbaas
Uitgewer: Tafelberg, 2015
ISBN 978-0-624-06614-9
Prys: R257

Barnard het sy eie betrokkenheid by die magsoorgawe van 1994 aan die joernalis Tobie Wiese oorvertel. Alhoewel daar met Wiese se besonder keurige Afrikaans nie fout te vinde is nie, word dit algaande in sy outobiografiese vertelling duidelik dat Barnard, uit hoofde van sy voorkeurposisie, namens Nelson Mandela met Afrikaners onderhandel het en nie andersom nie!

In sy voorwoord prys Hermann Giliomee die ordelikheid waarmee die revolusie gevoer is, as ‘n pluimpie vir PW Botha se greep op die veiligheidsmagte en vergelyk dit met die onverkwiklike toedrag van sake in byvoorbeeld hedendaagse Sirië, waar chaos heers. Sonder ‘n “stabiele politieke platform” sou die “skikking haas onmoontlik gewees het”, meen Giliomee.

In dié opsig is Johan van der Merwe se insigte oor dieselfde tydperk in sy outobiografie Trou tot die dood toe, van veel groter waarde, aangesien dit juis is wat Van der Merwe heelwat vroeër reeds in fyn besonderhede toegelig het. Van der Merwe ly ook gelukkig nie aan dieselfde verwaandheid as Barnard nie.

Steurend veral is die spioenbaas se selfingenome klem op sy meerdere insigte en oordeel, terwyl daar nie eintlik genoeg voorbeelde daarvan in die boek en in die werklikheid gelewer word nie.

Op bladsy 245 sê Barnard selfs dat “Madiba” sy uitnemende eienskappe waarna hyself gestreef het, raakgesien het: Dié van ‘n patriot wat agter die skerms die grondslag vir die nuwe Suid-Afrika gelê het. Beskeie is Barnard beslis nie.

By die voormalige NI-baas self is daar feitlik geen toeligting van hoe veiligheidshefbome by die magsoorgawe uitgeskakel is nie. Terwyl hy vertel dat sy grootste uitdaging was om die veiligheidsmagte te ondermyn sodat die “geheime revolusie” kon plaasvind, soos dit by die eerste vergadering in Simonstad met verteenwoordigers van militêre inligting en die polisie geblyk het, bly hy liewer by ad-hominem-opmerkings soos “Vuil Uil” wat geen verdere lig op die proses werp nie.

En van “proses” gepraat. Dit is bekend dat die ANC by die onderhandelinge die gesprekke doelbewus van inhoud na proses gestuur het sodat die NP-onderhandelaars mislei kon word. Barnard gee geen blyke dat hy kennis dra hiervan nie.

Mandela moes as ‘n geloofwaardige leier by swartes voorgehou word en daarom kon die ou gevangene glo nie sonder meer geweld afsweer nie, aldus Barnard. Ons weet intussen dat geweld en misdaad onrusbarend toegeneem het ná Mandela se vrylating, asook die vrylating van sogenaamde “politieke” gevangenes.

Die mees verstommende van die outobiografie en ‘n verklaarde intieme vriendskap met PW Botha, is dat Barnard steeds nie weet dat PW Botha vergiftig is nie. Volgens hom het die president ‘n beroerte-aanval gehad wat allesbehalwe “lig” was. Barnard het glo homself “doelbewus weggehou” van die stryd om ‘n nuwe leier aan te wys.

Enkele paragrawe later erken Barnard egter skalks dat FW de Klerk, die opvolger, daarna nie ingelig is oor NI se besluit om met Thabo Mbeki in Londen te gaan beraadslaag nie. Dié besluit is eensydig deur die Staatsveiligheidsraad geneem, sonder FW se medewete. Barnard se adjunk en oud-Sap, Mike Louw, was glo daarvoor verantwoordelik.

Barnard spog ook dat hy die “gesiene filosoof”, Boerehater Willie Esterhuyse vir “Operasie Flair” ontplooi het om Mbeki te nader oor “ernstige” Afrikaner-oorgawe. Dit is sekerlik nie ‘n besondere kuns om so-iets te vermag nie.

Dit is die beste aanduiding nog dat Barnard eerder namens sekere duistere belange onderhandel het om Afrikanermag die nekslag toe te dien. Of hy dit self besef, is nie duidelik nie, want hy lê deurentyd gemoedelike klem op sy Afrikanerskap.

Dit laat die vermoede verder toeneem dat NI die revolusie as ‘n openbare advertensieveldtog bedryf het en dat die “geheime revolusie” ‘n oorgawe aan ‘n paar oligarge was wat die land intussen na hartelus geplunder het, maw ‘n soort bestel waarin selfs swart kiesers min invloed uitoefen ten spyte van “demokrasie” en waarin Afrikaners absoluut geen seggenskap meer het of op soewereiniteit kan aanspraak maak nie.

Terwyl die spioenbaas voorgee dat hy as “patriot” in landsbelang opgetree het, raak dit uit die boek duidelik dat landsbelang nie noodwendig met Afrikanerbelang ooreenstem nie en kennelik vandag nie eers naastenby oorvleuel nie. Dit weerhou Barnard nie van ‘n onkritiese beskouing van sy aandeel daarin nie, ten spyte van sy gewaande Afrikanerskap.

En dit is juis hierdie soort gemeenplase oor “vrede” en “Madiba” wat kwelvrae oor die dawerende stiltes in die boek laat.

Steurend ook is die verwysings na “regses”, dws gewone kritiese Afrikaners, en ‘n snobistiese afkeer van Paul Kruger omdat sy maniere nie aan Britse standaarde voldoen het nie. Tussen die reëls is Barnard immer besig om sy eie ontoereikendheid te besweer. ‘n Skroomvallige spioen?

‘n Resensie kan die outeur se analitiese integriteit op ’n lagwekkende wyse aan die kaak stel, soos dit blyk uit Piet Kopdoek se probeerslag “Geheime revolusie: ‘Spioenbaas’ se kampvuurstories“, waarin hy sy “indrukke” – eintlik vooroordele in krampagtige Afrikaans – oor die boek weergee. Maar dit kan ook verder as ‘n blik op oorgawe dien.

Die Kopdoek, resensent Piet Croucamp, is danksy die spioenbaas se oorgawe in die kalklig, maar soos die Engelse spreekwoord lui: “Never a good deed shall go unpunished.” Ten spyte daarvan dat die Doek vandag salig in die walms van die ANC baai, wat as’t ware ‘n produk van Niël Barnard se ywer is, snobeer die Doek die spioenbaas!

Die “staatsamptenaar” se “vervlakking” wat nie “komplekse nuanses” toelaat nie, soos die Doek hom toesnou, het ten minste oorgenoeg ruimte gelaat vir Kopdoek-preke waarin die resensent so oorhoops raak oor sy meerderwaardigheid, dat hy nie veel oor die boek self sê nie, maar by Barnard se menslike gebreke bly.

Dit is klaarblyklik ‘n kwaal van oorgawe: Barnard se dankbaarheid teenoor PW Botha wat hom as 30-jarige in ‘n sleutelpos aangestel het, is beloon met ‘n dolk in PW se rug. Kopdoek se houding teenoor Barnard spreek van dieselfde stank vir dank.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.