Britse politikus wat Afrikaners steun uit party geskors

Deel op

‘n Britse politikus en kandidaat vir UKIP in die huidige parlementêre verkiesing in dié land, is uit sy party geskors, onder andere omdat hy simpatie vir Afrikaners en blanke Suid-Afrikaners uitgespreek het. In ‘n aanlynonderhoud het mnr. Jack Sen, die kandidaat vir Wes-Lancashire, gesê dat “Westerse regerings die etniese suiwering van mense van Europese afkoms in Suid-Afrika ignoreer”. Sy party het hom summier geskors en hul van sy uitlatings gedistansieer.

Mnr. Sen sou binnekort ‘n onderhoud aan PRAAG toestaan waarin hy sou uitwei oor ‘n globale strategie om die Westerse beskawing te red, waaronder die blanke minderheid in Suid-Afrika. Mnr. Sen het hom ook tydens die onderhoud beskryf as “onbeskaamd polities inkorrek”.

In ‘n onderhoud met die Londense Guardian wat vandag op die koerant se webblad verskyn, sê Jack Sen:

Die Suid-Afrikaanse en in die besonder, Afrikanerminderheid is na my mening ‘n bedreigde spesie. Dit word stelselmatig gejag tot op die punt van uitsterwing deur mense waaroor ons terug in 1994 vertel is dat hulle in demokratiese harmonie wou leef.

Onthou iemand nog die reënboognasiepropagandaveldtog? Dis moeilik om daardie verhewe ideaal te bereik as mense vir die pret in Johannesburg of Kaapstad doodgeskiet word. Die jagseisoen is nog oop, sover ek kan sien.

Sen word ook kwalik geneem dat hy verwys het na “gemeenskaplike bande” tussen die Arbeiderskandidaat, mnr. Ed Miliband, en prominente Suid-Afrikaanse Jode soos wyle Joe Slovo en Nadine Gordimer.

“U lesers sal moet besluit wat daardie bande is,” het hy gesê. Dit is bekend dat die Suid-Afrikaanse kommunistiese leier, Joe Slovo, en Ralph Miliband, Ed se vader, boesemvriende was.

In ‘n twiet wat blykbaar nie deur Sen self uitgestuur is nie, is verwys na Luciana Berger, as “Brittanje se jongste Joodse politikus”. Tesame met die noem van Joe Slovo en Nadine Gordimer se name, was dit genoeg om Sen van “anti-Semitisme” te beskuldig.

Sen het verder teen linkses uitgevaar en hulle van “dubbele standaarde” beskuldig as daar besluit word wie slagoffers is. Hy meen die Weste “word deur linkses beheer wie se wortels na die Oosbloklande teruggevoer kan word”.

Met betrekking tot die verwydering van Rhodes se standbeeld in Kaapstad, het Sen gekla oor die voorkeurbehandeling wat Nelson Mandela in die Verenigde Koninkryk ontvang. “Stel u voor dat daar voorgestel word dat die Mandela-standbeeld in Londen verwyder word omdat hy einlik ‘n veroordeelde massamoordenaar en terroris was?”

‘n Woordvoerder van UKIP het die party van Sen se uitlatings gedistansieer en gesê dat hy geskors is: “Jack Sen, ‘n UKIP-kandidaat, het menings uitgespreek wat op geen manier met die party se menings of dié van ons hardwerkende, toegewyde kandidate versoen kan word nie. In die lig van hierdie en ander uitsprake, word mnr. Sen met onmiddellike ingang uit UKIP geskors.”

Mnr. Sen het bevestig dat hy, ondanks sy skorsing uit die party, steeds sy breedvoerige onderhoud met PRAAG sal toestaan waarin hy oor sy standpunte sal uitwei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.