MRK afgeraai om Zoeloekoning te ondersoek

Deel op

Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie, Mathole Motshkega het probeer om die voorsitter van die Menseregtekommissie, Lawrence Mushwana af te raai om voort te gaan met die ondersoek na uitsprake van koning Goodwill Zwelithini.

Die ondersoek word gedoen ná bewerings dat uitsprake van die koning bygedra het tot xenofobiese geweld, het RSG berig.

Motshekga wat volhou dat hy in sy persoonlike hoedanigheid praat, sê as hy Mushwana was sou hy die saak as afgehandel beskou het.

Mushwana het bevestig dat personeel van die kommissie onder druk geplaas word weens die ondersoek.

President Jacob Zuma het intussen gesê streekleiers van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is tevrede met die wyse waarop Suid-Afrika op die xenofobiese geweld in die land gereageer het.

Die president het by ‘n buitengewone beraad van die SAOG in Harare, Zimbabwe gesê Suid-Afrika sal verslae oor die aanvalle aan die SAOG, die Afrika Unie en die Verenigde Nasies stuur.

Leiers van die streekorganisasie het gesê dat die industralisering van die streek sal help om die probleem van ekonomiese migrasie op te los.

Zuma sê daar is ooreengekom dat industralisasie deel van die oplossing is. Hy sê ‘n strategie wat deur die SAOG goedgekeur is sal bydra tot die visie van ‘n vreedsame en vooruitstrewende Afrika.

Die beraad het Woensdagaand tot ‘n einde gekom.

Die KwaZulu-Natalse spesiale verwysingsgroep oor migrasie en gemeenskapsintegrasie sê intussen hulle het reeds met sakeleiers en handelaars van Inanda en KwaMashu, noord van Durban beraadslaag.

Die voormalige VN hoë kommissaris oor Menseregte, Navi Pillay is die voorsitter van die groep wat aangestel is om navorsing te doen oor die oorsake van xenofobiese geweld in die provinsie.

Pillay sê ‘n voorlopige verslag sal binne drie maande aan die premier van KwaZulu-Natal, Senzo Mchunu voorgelê word. Die groep moet ook ‘n herintegrasie plan saamstel en aan die premier voorlê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.