Die Visekanselier en Rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, Professor Adam Habib, het gevra dat daar ondersoek ingestel word na die voorsitter van Wits se Studenteraad, Mcebo Dlamini.
Dlamini het die naweek in ‘n Facebook-inskrywing gesê hy is ‘n groot bewonderaar van Adolf Hitler en dat alle wit mense ‘n element van Hitler in hulle het.
Hy het bygevoeg dat die wêreld meer leiers van Hitler se kaliber benodig. Habib veroordeel Dlamini se uitsprake.
Dlamini se kommentaar is binne die konteks van Israel se houding teenoor die Palestyne gemaak. Hy het Israel met Nazi-Duitsland vergelyk.
Dlamini het sy uitlatings later in die studentekoerant die universiteit, die Wits Vuvuzela verdedig.
Habib het in ‘n verklaring gesê die Facebook-inskrywings en daaropvolgende kommentaar is “rassisties en aanstootlik in die oortreffende trap”.
Dieselfde instelling het vroeër “spraakvryheid”, onder meer van die spotprenttekenaars van Charlie Hebdo wat Moslems en Christene aanval, ywerig verdedig.