Brande woed steeds in Baltimore

Brande het gister steeds in die noordoostelike Amerikaanse stad Baltimore gewoed, waar ’n aan­dklokreël gisteraand ingestel sou word nadat onluste Maandag tot diep in die nag voortgeduur het.

Die deelstaat Maryland het ’n noodtoestand afgekondig nadat betogers winkels geplunder en met armsvol buit ontsnap het. Skole is gister as ’n veiligheidsmaatreël gesluit. Die volle omvang van die skade sou deur die loop van die dag bepaal word.

Amptenare van die stad, swart gemeenskapsleiers en die familie van die 25-jarige Freddie Gray wat in polisieaanhouding dood is, het hul afkeur te kenne gegee oor die omvang van die betogings wat ná Gray se begrafnis begin het.

“Te veel mense het vir geslagte hierdie stad gebou, net om te sien hoe boewe dit op ’n sinnelose manier verwoes en alles afbreek wat ons opgebou en voor geveg het,” het burgemeester, Stephanie Rawlings-Blake, gesê.

“Dit is idioties om te dink julle sal ’n beter lewe vir enige iemand verseker deur die stad te vernietig,” het sy gesê.

Die swart burgemeester moes onder kwaai kritiek deurloop nadat sy langer as 5 ure gewag het om in te gryp teen die geweld wat onbeheerst voortgewoed het.

Duisende lede van die polisie en die nasionale wag is ontplooi om be­leërde wetstoepassers by te staan. Minstens 27 mense is in hegtenis geneem en 15 polisiebeamptes is beseer nadat hulle Maandagnag deur die woedende massas met klippe bestook is.

Volgens die Baltimore Sun is twee mense Maandagnag in afsonderlike skietvoorvalle gewond.

Die geweld is die ergste in ’n reeks konfrontasies tussen Amerikaanse polisielede en hoofsaaklik Afro-Amerikaanse jeugdigdes, wat woedend is oor wat hulle as rassisme in die polisiemag beskou.

Verlede somer se noodlottige skietery van die ongewapende tiener Michael Brown deur ’n wit polisiebeampte in Ferguson, Missouri, het die kus-tot-kus-protes begin.

Die onluste in Baltimore is ontketen nadat Freddie Gray op 19 April in aanhouding gesterf het – glo weens rugbeserings wat hy tydens sy inhegtenisneming vroeër die maand opgedoen het.

President Barack Obama is ook van oor die verwikkelinge in Baltimore ingelig.

Hillary Clinton, ‘n voornemende presidentskandidaat, het die geweld en plundery heeltemal geïgnoreer en onvanpaste twiets uitgestuur oor gratis plakkers met haar gesig op.

Die onluste het tot uitbarsting gekom kort nadat duisende roubeklaers Maandag vir Gray se begrafnis in die New Shiloh Baptiste kerk in die stad se verarmde Sandtown-woonbuurt vergader het. Voor die diens het ’n kriptiese boodskap op sosiale media die rondte gedoen oor ’n “purge” (straattaal vir dade van wetteloosheid) wat om 15:00 sou begin.

Gray se familie, wat in rou gedompel is, het spesifiek gevra dat geen betogings gehou word nie.

Regsverteenwoordigers van Gray se familie sê sy dood is veroorsaak deur erge rugbeserings wat opgedoen is nadat hy in hegtenis geneem is. Hy was vir ’n week in ’n koma.

Ses polisiebeamptes is geskors hangende die bevindinge van ’n ondersoek wat Vrydag aan staatsaanklaers oorhandig moet word.

Die polisie het bevestig dat Gray mediese hulp versoek het nadat hy in hegtenis geneem is, en het toegegee dat hy vroeër mediese behandeling moes gekry het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.