Eskom-agterstand glo weens onbehoorlike tenders

Deel op

Chancellor House, die ANC se beleggingsmaatskappy, het kort voor die algemene verkiesing verlede jaar R50 miljoen in hul sakke gesteek toe hulle aandele verkoop het in ‘n maatskappy wat groot kontrakte bekom het van Eskom en aan die staat behoort, het News24 Sondag berig.

Chancellor House het ‘n bykomende R50 miljoen aan dividende ontvang te danke aan sy bande met Hitachi Power Africa (HPA). In 2005 het Chancellor House net R1.25m betaal vir sy aandeel in HPA.
 
In 2007 het HPA tenders ter waarde van R40 miljard ontvang om drukketels vir Eskom se Medupi- en Kusile-kragstasies te vervaardig. In 2008 het die Openbare Beskermer bevind dat die toekenning van die tenders deur Eskom aan HPA ‘n konflik van belange skep, omdat Valli Moosa, Eskom se voorsitter toe, ook ‘n senior lid van die ANC is.
 
Robin Duff, HPA se finansiële hoof ten tye van die toekenning, het voorheen ‘n waarskuwing ontvang oor Chancellor House se onbehoorlike politieke verbintenis, maar Duff het verlede week dié bewering ontken.
 
HPA is ook in die verlede gekritiseer omdat die drukketels vir Medupi en Kusile na bewering deel van die oorsaak vir die groot agterstand by hierdie nuwe kragstasies is.
 
Mathews Phosa, die ANC se voormalige tesourier, het reeds in 2010 gesê Chancellor House moet sy aandele in HPA verkoop.

Phosa het gesê Chancellor House se belang in groot regeringstenders soos dié van Eskom skep die indruk die ANC “misbruik belastingbetalers om geld in te samel.” Vir baie jare is sy mening geïgnoreer.
 
Volgens News24 se bronne is die kontrakte vir die drukketels intussen oorgeneem deur Mitsubishi Hitachi Power Systems-Africa (MHPSA), ‘n nuwe maatskappy wat gestig na die samesmelting van die Japannese vervaardigingsreuse Mitsubishi en Hitachi.
 
MHPSA het nie reageer op News24 se vrae oor Chancellor House nie. David Milner, sy woordvoerder, het bloot gesê die verhouding tussen Hitachi Power Africa en Chancellor House is reeds beëindig met MHPSA se stigting.
 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.