Geboue en ‘n motor is Sondagmiddag aan die brand gesteek in ‘n konfrontasie tussen ‘n taxivereniging en beweerde bendelede in Kanana, volgens die polisie in Noordwes.
Die taxivereniging in Orkney was blykbaar moeg vir misdaad in die gebied en het glo boewe in die lokasie gaan konfronteer.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en geen beserings is aangemeld nie. Die polisie sal gevalle van brandstigting en openbare geweld ondersoek.
Die konfrontasie kom ‘n week nadat die provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid Gaoage Molapisi die gebied besoek het en met die polisie en raadslede oor die tsotsi-probleem beraadslaag het.
Volgens ‘n verklaring van die departement is verskillende groepe swart jeugdiges in die gebied besig om te “verkrag, eiendom te vernietig, mekaar te vermoor en by mense se huise in te breek”.
Die bendelede bestorm glo huise met wapens wat tuinvurke insluit.
Inwoners het gesê hulle is bang om aan die polisie inligting te gee as gevolg van moontlike vergelding.
Polisie patrolleer steeds die gebied wat Sondagaand kalm was.