Malema: Zuma deur duistere trusts befonds

Deel op

Julius Malema, partyleier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het in ‘n beëdigde verklaring gesê hy het eerstehandse kennis van donateurs wat pres. Jacob Zuma deur duistere trustfondse gefinansier het, het ANA berig.

Die Sunday Times het berig dat Malema hierdie bewering verlede week in ‘n 83 bladsy-lange verklaring gemaak het. Die verklaring is in die hooggeregshof in Pretoria ingedien in die voortslepende regsgeding tussen Malema en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Volgens Malema het hy persoonlik geld vir Zuma by ANC-saamtrekke ingesamel van “ongeïdentifiseerde donateurs” voordat Zuma in 2009 president geword het. Hy het gesê dat daar geen verskil was tussen sy Ratang-familietrust, wat vir sy leefstyl betaal het, en Zuma se familietrusts nie.

“Formele trust-strukture is opgerig waarin donasies gemaak is – sommige groot, sommige klein – ter voordeel van die leiers. Ek het eerstehandse kennis hiervan; ek het donasies aan pres. Zuma hanteer,” het Malema gesê. “Ek is op dieselfde manier onderhou. Soms is geld net in my bankrekening inbetaal deur onbekende donateurs; soms het bekende ondersteuners my uitgawes betaal of geld, klere en ander lewensbenodighede en luukshede as geskenke gegee.”

Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het ontken dat die president enige “geheime donasies” ontvang het. “Die president het voortdurend alle inkomste ontvang in sy belastingopgawe aan SAID verklaar,” het Maharaj gesê.

SAID het aansoek gedoen dat ‘n bevel van finale sekwestrasie teen Malema gebring word nadat ‘n skikkingsooreenkoms rakende sy uitstaande belastingrekening ineengestort het. Die saak sal in Junie in die hof aangehoor word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.