Die Europese Kommissie se voorgestelde wette wat individuele lidlande van die Europese Unie sal toelaat om invoere van geneties gemanipuleerde gewasse te beperk of te verbied, het ‘n skerp reaksie van die VSA ontlok.
Selfs al is sulke GM-gewasse goedgekeur vir die EU as ‘n geheel, sal lidlande nog self kan besluit of dit strydig is met hul gesondheidsvoorskrifte.
Die VSA is woedend oor die planne wat menslike voedsel sowel as dierevoere raak.
Die EU se houding jeens die omstrede geneties gemodifiseerde kosse en veevoer, volg na ‘n vroeëre besluit deur die Europese Parlement in Januarie, wat aan die 28 EU-lande die reg gee om individueel te besluit of hulle GMO’s wil aanplant.
“Ons is baie teleurgesteld deur vandag se aankondiging van ‘n regulerende voorstel wat byna onmoontlik sal wees om te versoen met die EU se internasionale verpligtinge,” sê Michael Froman, die Amerikaanse handelsverteenwoordiger.
Die kompromie is aanvanklik verwelkom, maar omgewingsgroepe sê dat GMO’s die EU nou via die agterdeur kan binnekom op aandrang van reuse Amerikaanse agri-voedsel maatskappye.
Maar aan die ander kant, het die VSA en nywerheidsgroepe gesê die ooreenkoms verbreek die EU se kardinale reël dat die blok as ‘n enkele mark funksioneer waar produkte veronderstel is om vrylik versprei te kan word.
Slegs een GMO word tans toegelaat in die EU. Dit is die multinasionale Monsanto se handelsmerk vir koring GMO MON810 wat in Spanje, Portugal en die Tsjeggiese Republiek verbou word.
Amerika is die grootste produsent van geneties gemanipuleerde gewasse. Die oorgrote meerderheid van die mielies wat in Suid-Afrika geproduseer word, is ook geneties gemanipuleer.