Xenofobie net soos plaasmoorde is ‘misdaad’

Deel op

Die ANC-regime pas tans maksimaal skadebeheer toe nadat beeldmateriaal van ‘n xenofobiese moord op ‘n Mosambieker, ene Emmanuel Sithole, wêreldkundig geraak het.

Net soos met plaasmoorde, het die die SAPD verklaar dat dit gewone misdaad was, maar net soos met plaasmoorde is dit klinkklaar dat die ANC nie streef na enige oplossings nie.

Jacob Zuma het Maandag uitgevaar teen die media wat nie wil saamspeel om die jongste onverkwiklikhede toe te smeer nie. Die ANC is nou skielik aan die ontvangkant van linkse mediagif en “morele” verontwaardiging.

Zuma se amptenare het inderhaas allerlei mooi “morele” beloftes oor samesyn en vrede gemaak, sonder die vaagste idee oor wat die land nou eintlik getref het.

Dis eintlik eenvoudig: Hoe meer Afrika-immigrante oor die grense stroom, hoe groter word die mededinging vir skaars hulpbronne. Dat dit toenemend op geweld gaan uitloop, is so seker soos wat die son more aan die oosterkim gaan skyn.

Die Zoeloekoning is staande toegejuig by die imbizo in Durban Maandag nadat hy vroeër sy broers uit Afrika met miere en luise vergelyk het. Sy volgelinge is klaarblyklik nie goed ingelig oor wat die media deesdae as “moreel” voorhou nie, maar heeltemal op hoogte van die felle stryd wat daar buite woed tussen etniese groepe.

Pravin Gordhan, die minister van Samewerkende Regering, was die ANC se vroom gesig na buite, teen die nuwe media-aanslag. Hy het tydens sy besoek aan Alexandra verklaar dat Suid-Afrika die “hoop” van die vasteland moet verteenwoordig, dws net soos voorheen ‘n magneet moet bly vir immigrante. Dít is die “morele” hoëgrond.

Duidelik gaan die ANC niks kan doen aan die kwessie nie, want hulle verkeer tussen Scylla en Charybdis. Dus gaan gods water maar oor gods akker bly loop, tot die volgende grusame hoofstuk.

Die voortslepende geweld teen wit boere het die getal kommersiële boere in die land met byna die helfte verminder sedert 1994.

Die voorsitter van Institute for Poverty, Land and Agrarian Studies (PLAAS), Ben Cousins het tewens Maandag aan afgevaardigdes by ‘n internasionale konferensie by die Universiteit van Wes-Kaap gesê omdat die oorblywende boere so produktief is, is daar geen bedreiging vir voedselsekerheid nie.

Daar is net 35 000 kommersiële boere in die land oor en vyf tot sewe persent van dié boere produseer sowat 80 persent van die kos in die land.

Daar is natuurlik ‘n ekonomie van skaal by landbouverwikkelinge betrokke, maar PLAAS het ‘n ideologiese projek wat ten uitvoere gebring moet word om “gelykheid” te bevorder. Dis ‘n ou kommunistiese slagspreuk wat beteken dat almal ewe arm moet word om die armes te plesier.

PLAAS wil naamlik toesien dat dié wit boere wat sukkel, hul grond aan swartes oorhandig “om armoede op te los”. En aangesien hulle nou verklaar het dat voedsel ‘n sekerheid is, is daar plaasaanvalle om die halsstarriges te oorreed om af te sien van eienaarskap.

‘n Mens begin wonder of die oorblywende boere dalk ewe tevrede is met die stand van PLAAS-sake. Na die Russiese rewolusie was daar ook diegene wat jammerlik gedink het hulle kan voordeel trek uit ‘n kommunistiese bewind. Toe nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.