Honderde asielsoekers verdrink na boot omslaan

Deel op

Daar word gevrees dat 700 mense verdrink het toe ’n visserboot wat immigrante na Europa gesmokkel het, Saterdagnag naby die Libiese kus in die Middellandse See omgeslaan het, het AFP berig.

Die Verenigde Nasies se agentskap vir vlugtelinge (UNHCR), het gister gesê dit kan die dodelikste Mediterreense immigranteramp ooit wees.

Net 28 mense het oorleef toe die visserboot omgeslaan het, het die UNHCR se woordvoerder, Carlotta Sami, gister in ’n onderhoud met die Sky TG24-nuusdiens in Italië gesê.

Volgens haar was daar meer as 700 mense aan boord toe dit omgeslaan het.

Die vloot van Malta skat die getal mense wat op die visserboot was op 650 en sê ’n noodsein is omstreeks middernag Saterdag ontvang.

“Ons het saam met Italië vaartuie in die gebied ontplooi om met die reddingsoperasie te help,” het ’n woordvoerder van die Maltese vloot gister aan AFP gesê.

Sou die getal sterftes bevestig word, kan hierdie by verre die grootste massaverdrinking wees in ’n groeiende reeks soortgelyke voorvalle waarin immigrante uit Afrika op oorlaaide, onseevaardige skepe na lande in die Europese Unie probeer vlug.

Die visserboot het sowat 96 km van die kus van Libië en 193 km suid van die Italiaanse eiland Lampedusa omgeslaan.
Hierdie ramp volg ná ’n week waarin nagenoeg 450 ander mense in soortgelyke vlugtelingsrampe in die ­Mediterreense gebied verdrink het. Meer as 11 000 skipbreukelinge is deur lede van die Italiaanse kuswag en ander bote gered.

Sowat 1 500 immigrante het reeds sedert die begin van die jaar verdrink toe hulle die see tussen Libië en Italië probeer oorsteek het.

Hulporganisasies het ’n beroep gedoen op die internasionale gemeenskap om beter soek-en-reddingstelsels te vestig en ook vir ’n veldtog om ’n oplossing te vind vir die ongeëwenaarde getal asielsoekers uit Asië, die Midde-Ooste en Afrika.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.