Leon Lemmer: ‘n Winter van misnoeë: ‘n kouer wind teen Afrikaans en Afrikaners

Deel op

William Shakespeare het van ‘n “winter of discontent” geskryf. In 1978/79 het hierdie frase ingang in die Britse politiek gevind toe daar uitgebreide stakings tydens ‘n buitengewoon koue winter was. James Callaghan is tydens die daaropvolgende algemene verkiesing verslaan en Margaret Thatcher het die eerste minister geword. Hierop het haar lofwaardige hervormings van die Britse vakbondwese en arbeidsverhoudinge gevolg. In Suid-Afrika is sulke maatreëls reeds lank dringend nodig.

Dit is nou vroegherfs by ons en daar is rede om oor baie meer dinge as stakings ontevrede te wees. Dit is reeds duidelik dat dit ‘n aanvoelbaar kouer winter gaan wees. Dit is omdat Eskom weens onbekwaamheid en wanbestuur nie genoeg elektrisiteit kan lewer nie. Dit plaas hierdie land in ‘n posisie soortgelyk aan dié van ander state in swart Afrika. Pleks van in die mode te wees en daarop te roem dat ons sedert 1994 deel van Afrika is, verkies ek die beskaafde, Europa-geöriënteerde ou Suid-Afrika.

Die kouer wind wat opgesteek het, waai veral in die kulturele landskap. Sedert 1990/94 was daar ‘n koue wind, maar dit het nou nog kouer geword. Dit is ‘n uitvloeisel van bv Jacob Zuma se negatiewe ingesteldheid teenoor die nalatenskap van blankes. Wat deur blankes, of onder hulle leiding, tot stand gebring is, is onlangs deur Zuma geïgnoreer toe hy na die “vernietigende” apartheidsverlede verwys het, terwyl dit in werklikheid ‘n periode van opbou was. Dan loof hy die ANC se skewe, afbrekende gesindheid: “By die Uniegebou het ons die standbeeld van een van die rassiste op ‘n perd vervang met ‘n reuse een van Nelson Mandela” (Die Burger, 11 deser, p 1). Klaarblyklik veronderstel hy, maar verkeerdelik, dat iets slegs met iets goeds vervang is.

Nathi Mthethwa, die minister van kuns en kultuur, het in die beeldebestorming die geleentheid gesien om voorbrand vir meer standbeelde van “swart helde” te maak (Die Burger, 9 deser, p 1). Daar gaan glo gesprek oor standbeelde gevoer word. Wat besig is om as die populêre mening uit te kristalliseer, is dat die standbeelde van blankes uit die openbare oog as museumitems tot hulle reg moet kom. Dit moet glo gedoen word nie om die geskiedenis ewewigtig te verstaan nie, maar sodat die “verdrukkers” geïdentifiseer kan word. As die standbeelde wat nie vernietig of te veel beskadig is nie, museumitems word, sal dit as oogluikende bevestiging dien dat die blanke era verby is.

Mense soos Max du Preez en ‘n koerant soos Die Burger het aanvanklik die protes teen Cecil Rhodes se standbeeld gesteun. Enersyds omdat hulle nie van Rhodes hou nie en andersyds nie die insig gehad het nie dat die veldtog na die standbeelde van alle blankes, en meer as net standbeelde, uitgebrei sou word. Hierna het die vernietigingsproses veral daardie inkommers getref wat maklik as nie-Suid-Afrikaanse swartes geïdentifiseer kan word, bv Etiopiërs en Somaliërs. Hierdie gewelddadige vandalisme, vernietiging en diefstal neem kolossale afmetings aan en word bedryf deur elemente vir wie dit makliker is om af te breek as om op te bou.

Universiteit Stellenbosch

In watter bedenklike situasie die nuwe Suid-Afrika verval het, blyk uit drie berigte in ‘n enkele uitgawe van Die Burger. Ek beperk my aandag vervolgens grootliks tot die uitgawe van 16 deser. Op bladsy 3 is daar ‘n berig oor honderde studente wat op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) byeengekom het om beswaar te maak teen die US se taalbeleid omdat dit glo nie “genoegsaam voorsiening maak vir studente wat nie Afrikaans magtig is nie.” Dit kom nadat die US verlede jaar besluit het dat hy gaan probeer om voortaan in dieselfde mate sowel Engels as Afrikaans te wees. By voorbaat is ongelykheid egter gespesifiseer deurdat alle klasse in Engels aangebied of getolk gaan word, terwyl dieselfde nie vir Afrikaans geld nie omdat tolking in Afrikaans soms as onnodig beskou word. Nou wil hierdie studente daardie taalongelykheid nog verder ongelyk maak en wel ten koste van Afrikaans. Selfs ‘n student uit Botswana het die vermetelheid gehad om te eis dat Afrikaans afgeskaal moet word.

Wat hiermee bevestig word, is dat as jy toelaat dat jy in ‘n glyposisie geplaas word, jy net al hoe verder en al hoe makliker gly. Max Price, die rektor van die Universiteit Kaapstad (UK), het in die waan verkeer dat as hy instem tot die verwydering van die Rhodes-standbeeld, dit die einde van die studente-onrus sou wees. In werklikheid beskou die studente dit as ‘n oorwinning en het hulle dadelik nuwe eise uitgedink en gestel. Maar wat sê Michael le Cordeur? “Ek was beïndruk deur die inklusiewe manier waarop dr Max Price, die UK-rektor, ‘n proses van konsultasie gefasiliteer het. Alle rolspelers is genooi om aan die debat oor die toekoms van die Rhodes-standbeeld deel te neem. Ook hierin is ‘n les vir alle universiteite: om voortaan so wyd moontlik te konsulteer, en dit sluit die studente in” (p 15). Die gepeupel kan mos geweldadig raak. Laat hulle toe om die kitaar te slaan. Moenie in ag neem dat baie van hulle nie eens weet hoe ‘n behoorlike skool lyk nie. Moenie wonder oor wat hulle van die aard van ‘n universiteit weet nie. Moenie dink hulle kom bloot met vriendelike versoeke nie; hulle stel eise en daaraan moet om vredeshalwe voldoen word, selfs al gaan dit teen die grein van die akademie en beskawing. Hulle geniet immers die steun van Blade Nzimande en sy ANC-kamerade.

Die US bevind hom in ‘n posisie soortgelyk aan dié van die UK, maar slegter weens Afrikaans. Wim de Villiers het aan die begin van hierdie maand diens as rektor aanvaar maar hy het nog geen aanduiding gegee dat hy bereid is om vir Afrikaans te veg nie. Pieter Kapp het genoem dat Jannie Marais op 30 Mei, dus ‘n eeu na sy dood, gehuldig gaan word. Marais het as stigtingsvoorwaarde gestel dat Afrikaans nie ‘n mindere posisie as Engels aan die US mag beklee nie. Die lakmoestoets vir De Villiers gaan wees dat hy hom nie later nie as 30 Mei hiertoe moet verbind. By die genoemde byeenkoms het De Villiers egter ‘n FW de Klerk-styl geopenbaar deur te sê dat die US sterk tot transformasie, insluitende taaldiversiteit, verbind is. ‘n Implikasie hiervan kan wees dat Afrikaans maar al hoe meer afgeskaal gaan word.

[Lees gerus die ontstellende berig, “Só dink ons oor transformasie aan die US,” op die US-webwerf (15 deser). Die US se “taalsoepelheid” word geloof en daar was ‘n menswaardigheidsveldtog op die kampus. Nêrens is daar enige aanduiding dat die De Villiers-US gaan akademiseer en afwyk van die anti-akademiese, politieke Russel Botman/Blade Nzimane-pad nie. Die De Villiers-US sal in die anti-akademiese kamp bly totdat sy leuse soos dié van Allan Bloom vir die universiteit is: “Better education for the best people” (The Closing of the American Mind, London: Penguin Books, 1988, p 49). Dit beteken doodeenvoudig dat akademiese meriete by sowel die studente as dosente deurslaggewende gewig moet dra; nie ras en geslag soos die ANC verkies nie. Die nuwe US-baas is klaarblyklik nie ‘n Boer nie. Daar is skynbaar nie sterk akademiese leiding nie; eerder oorgewillige polities korrekte kruiping. Volgens Die Burger het een student darem op 15 deser die akademiese integriteit gehad om te sê dat ‘n mens na die US kom nie om welkom te voel nie maar om te studeer.]

Blade Nzimande

Op dieselfde bladsy (p 3) is daar ‘n berig dat Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, op 16 deser samesprekings met verteenwoordigers van vier histories Afrikaanse universiteite (Noordwes, Pretoria, US en Vrystaat) gaan voer. Die universiteite waar daar ‘n mate van Afrikaans oorgebly het, bly knaag aan Nzimande se kommunistiese siel. Akademies vrot swart universiteite hinder hom glad nie in dieselfde mate nie. Vir Nzimande gaan dit klaarblyklik in die eerste plek om ideologie en nie om akademie nie. Die onsosiale gedrag van swart studente word nie deur Nzimande veroordeel soos die beweerde ongroeningspraktyke op Potchefstroom nie. Hy het, sover bekend, nog geen beswaar geopper teen die swart Vrystaastse student wat vals klagtes teen twee blanke studente gelê het en hulle groot skade berokken het nie. Die skuld wat Jonathan Jansen aan hierdie ongure gebeure het, is ook nog nie van owerheidsweë veroordeel nie. Pleks hiervan is daar ‘n veldtog teen rassisme aan die Vrystaatse universiteit geloods waartydens eerder blanke as swart rassisme in die visier is.

Afrikaans mag glo nie in die pad staan van die akademiese opvoeding (van swartes) nie. “Die universiteitsleiers moet nou hul universiteit se planne en vordering met transformasie aan Nzimande uiteensit, sê watter ondersteuning swart en jong vroue-akademici kry, wat hulle teikens vir regstellende aksie is, watter ontgroeningspraktyke koshuise gebruik, of daar onlangse voorvalle van rassisme was en hoe dit bekamp en voorkom word.” Nie ‘n enkele woord oor akademiese gehalte nie. Die verwysing na swartes en vroue kan onderskeidelik rassisties en seksisties gedrewe wees. Soos in sport is teikens en kwotas aan die orde van die dag en word die doelpale telkens swart- en vrouwaarts verskuif.

De Villiers was die enigste blanke rektor by hierdie samesprekings. Gaan hy sy rug styfmaak of gaan hy, soos in die onlangse US-verlede, vir Nzimande vertel dat die US eintlik vóór die ANC-regering met sy transformasieveldtog is? Behoort De Villiers nie eerder op universitêre outonomie en akademiese vryheid (‘n vreemde begrip vir ‘n kommunis) aan te dring nie? Behoort daar nie hartgrondig beswaar gemaak te word teen die aanmatigende, skoolmeesteragtige, outoritêre benadering van Nzimande nie? Waarin lê die grootste heil vir universiteite en die land: in toegewings op toegewings, of om ‘n streep in die sand te trek en vas te staan?

Volgens ‘n berig in Die Burger (17 deser, p 3) was dit ‘n “vriendelike en kollegiale” vergadering. “Almal het dieselfde gevoel oor transformasie.” Nzimande het sy sin gekry. Sy politieke inmenging in universitêre sake is glad nie teengestaan nie. “Hierdie benadering is gevolg om te verseker dat die minister effektief met die verskillende instellings in verbinding tree.”

Michael le Cordeur

Michael le Cordeur is sedert 2009 in die akademie, as opvoedkunde-dosent aan die US. Hy was voorheen ‘n onderwyser. By hom is daar blykbaar ‘n brandende begeerte om ‘n openbare intellektueel te wees. ‘n Tyd gelede het hy in Die Burger vertel hoe hy en van sy mede-ANC-aktiviste in 1990 alles gelos en laat spaander het na die Victor Verster-gevangenis om te sien hoe hulle held, die geweldenaar Nelson Mandela, vrygelaat word. Daarna het hulle die Mandela-toespraak op die Kaapse Parade ingedrink. In Die Burger (16 deser, p 15) verskyn ‘n forum-artikel deur Le Cordeur met die opskrif: “Wat Rhodes ons kan leer.” Le Cordeur beoog om die impak van die gebeure rondom die Rhodes-standbeeld op hoër onderwys in Suid-Afrika aan mindere siele te verduidelik.

Hy loof die feit dat gewelddadige studente in 1976 “die samelewing onherroeplik verander” het. Hoewel hy veronderstel is om ‘n opvoedkundige te wees, het die aktivis Le Cordeur nie beswaar teen studente wat optree soos dié aan die UK nie. “My waardering en gelukwense aan die studente wat, volgens alle verslae, ‘n gedissiplineerde en beredeneerde aksie uitgevoer het.” En die spoeg en ontlasting? “Ons weet van enkele onbesonne dade, maar dit is geïsoleerde gevalle en moenie veralgemeen word nie.” Op ‘n soortgelyke manier praat hy graag die wandade en misdade van die UDF/ANC (bv vandalisme en brandstigting) goed.

As ANC-aktivis het Le Cordeur dit nie teen die manier waarop ons geskiedenis sedert 1994 vir skooldoeleindes herskryf word nie. Sy beswaar is teen die mate waarin daar reste van geskiedskrywing uit die ou Suid-Afrika oorgebly het. “21 jaar ná apartheid moet ons kinders steeds leer uit geskiedenisboeke wat slegs die een kant van ons land se geskiedenis vertel.” Hy haal ‘n anonieme (vermoedelik bruin) Stellenboschse professor soos volg aan: Geskiedskrywing was “meestal die brose uitdrukking van wit, manlike historici se beperkte perspektiewe.” Hier is ons by die kern van Le Cordeur se ANC-gesindheid met betrekking tot ras en geslag: anti-wit en daarby by uitstek teen wit mans. (Vergelyk Nzimande se posisie hierbo.) ‘n Mens kan sonder veel gevaar dit verder verfyn: Sy beswaar is veral teen Afrikanermans, oftewel Boere.

Le Cordeur is ‘n bruin mens wat met oorgawe swart probeer wees. Volgens ‘n berig in Die Burger (17 deser, p 3) is hy beswaard omdat die onlangse Ghoemas-musiektoekennings “te wit” was. Op ‘n soortgelyke manier het Danny Titus, Le Cordeur se etniese en geesgenoot, onlangs ‘n byeenkoms oor Afrikaans “te wit” genoem. Dit is twee mense wat bokant hulle gewig probeer boks en dit heeltemal in orde vind om anti-wit propaganda te versprei. Hulle sal nooit erken dat die teenwoordigheid van wittes as ‘t ware ‘n kwaliteitswaarborg is nie.

In sy artikel oor Rhodes verwys Le Cordeur na ‘n ander mede-bruine, Franklin Sonn, wat oorloop van akademiese pretensie, maar iemand wat nog geen geskrif (hetsy verhandeling, proefskrif of artikel) van enige wetenskaplik-akademiese waarde gelewer het nie. “Sonn het ‘n tyd gelede geskryf dat die skoolgeskiedenisboeke die bydraes deur swart en bruin mense in die heroïese dade van die verlede óf verswyg óf negatief voorstel. So word die Anglo-Boereoorlog voorgehou as ‘n stryd tussen Boer en Brit, waarin die Afrikaner telkens as die held na vore tree.” Hy wek die indruk asof Afrikanergeskiedskrywers voorgee dat die Boere die oorlog gewen het. Al het die Afrikaners die oorlog verloor, is daar sekerlik steeds ruimte vir heldedade. Het hierdie Boere hulle in hulle vryheidstryd nie dalk veel beter gedra as die terreurbendes van die ANC en PAC nie? Het hans-swartes soos Le Cordeur en Sonn al die vandalisme en geweld van die UDF/ANC as onbeskaaf en misdadig veroordeel?

Le Cordeur gee voor dat hy na ewewigtige, objektiewe geskiedskrywing soek. Aan die hand van Sonn se uitlatings verwys hy dan na “byna 100 000 swart en bruin mense” wat by die Anglo-Boereoorlog betrokke was. “Die oorlog het vele bruin helde opgelewer.” Hy noem nie swart helde nie. Maar wat my ontstig, is dat Le Cordeur kla dat die bruines en swartes se rol in die oorlog nie voldoende erkenning kry nie, maar dan verswyg hy doelbewus aan watter kant die oorgrote meerderheid (heroïese) bruines en swartes hulle geskaar het. Die waarheid is dat bruines en swartes toe al (dus lank voor apartheid) in baie gevalle dislojaal teenoor die Afrikaners/Boere was. Net so gee Le Cordeur en diesulkes nooit erkenning aan die baie positiewe dinge wat Afrikaners, insluitende “die apartheidsregering”, gedoen het nie, bv aan Le Cordeur as student aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Dat hy hoogs waarskynlik met ‘n beurs van die Departement Kleurlingsake gestudeer het, mag eintlik nie genoem word nie. Van erkenning daarvan en dank daarvoor is daar geen sprake nie.

Met kenmerkende eenogigheid het Le Cordeur waardering vir sy twee bruin UWK-dosente, Adam Small en Jakes Gerwel, maar nie vir die talle ander en daarby beter dosente nie en dit om ‘n enkele redes: hulle is wit. So ‘n mens kom dan ewe heilig met hierdie voorstel: “Die volle geskiedenis [moet] vertel word deur skrywers wat verteenwoordigend van al ons mense is om outentieke geskiedskrywing te verseker.” Dit klink soos die ANC-regering wat wil hê dat “al ons mense” oor die lot van die standbeelde van blankes moet besluit omdat dit by voorbaat duidelik is wat die meerderheid sal wil hê. Daar is geen aanduiding dat Le Cordeur of die ANC naas kwantiteit ruimte vir kwaliteit laat nie, want ons almal word gelyk en wesenlik eenders verklaar al vloek dit teen die waarheid.

Le Cordeur is bekend as ‘n pleitsbesorger vir Kaaps. Standaardafrikaans word deur hom geringgeskat; waarskynlik omdat dit feitlik uitsluitlik die maaksel van blankes is. Aan die US het hy nooit ontpop as ‘n taalstryder vir Afrikaans as onderrigtaal nie. Hy hou daarvan dat die debat op kampusse nou oor standbeelde handel en nie oor taal nie; dan kan Afrikaans mos maar stil-stil verder ondermyn word. “Waar die debat in die hoër onderwys so lank deur die toekoms van Afrikaans aan historiese Afrikaanse universiteite oorheers is, is dié debat ‘n nasionale saak.” By imklikasie insinueer hy dat standbeelde van nasionale en Afrikaans van parogiale (en dus mindere) belang is.

Die ANC-regering het glo vasgestel “dat geen Suid-Afrikaanse universiteit nie radikale verandering benodig nie.” Maar die histories swart universiteite het grootliks gebly soos hulle was: swart en akademies behoeftig/agtergeblewe. Die histories wit Afrikaanse universiteite was en is by uitstek die teikens van transformasie, al was hulle akademies voortreklik. Dit toon dat dit vir die ANC-regering nie om die akademie gaan nie, maar om ideologie, spesifiek politiek. Die eens Afrikaanse universiteite het op groot skaal verswart en verengels. Hieroor stort Le Cordeur as ANC-aktivis geen traan nie.

Let op Le Cordeur se transformasielogika: “Daarom moet die besware van studente (maar ook dosente) dat die standbeeld slegs metafories vir die groter versugting na transformasie is, nie ligtelik opgeneem word nie. In wese kom dit neer op die transformasie van ‘n kurrikulum wat in die verlede gebruik is om bruin en swart studente uit te sluit, na ‘n meer demokratiese kurrikulum wat inklusief van alle denke is. Dit beteken die kurrikulum is ten nouste verweef met die institusionele karakter van die universiteit. Indien laasgenoemde steeds te wit en Eurosentries is (soos die UK se studentevoorsitter beweer), moet alle universiteite gevra word of die kurrukulum genoegsaam getransformeer is om ‘n leeromgewing te skep wat bevorderlik vir leer is.”

Dit is oordrewe om te beweer dat inligting oor bruines en swartes voorheen nie in die leergang voorgekom het nie. Le Cordeur se demokratiese en inklusiewe kurrikulum kom daarop neer dat histories blanke universiteite die inhoud van hulle leergange moet aanpas totdat nie-wittes daarmee tevrede is. Eers dan sal die leeromgewing vir nie-wittes bevorderlik vir leer word; wanneer die boodskap/inligting is soos hulle daarvan hou. En die wittes? Moet hulle maar vir lief neem met akademies-wetenskaplike prulwerk soos Black/African-American Studies, Women’s/Gender Studies en Queer/Gay/Lesbian Studies wat in die VSA aangebied word?* Al Le Cordeur se nie-wit Anglo-Boereoorlog-helde sou dan danksy lukrake, moedswillige verbeelding tot hulle reg kan kom. Sy verwysing na die “institusionele karakter” van ‘n universiteit stem ooreen met die ontwrigtende ANC-benadering van Leon Wessels en Dan Kgwadi aan die Noordwes-Universiteit. Alles moet ingeklee word soos die swartes dit wil hê. Die wittes word geduld so lank as wat hulle dit moontlik vind om binne so ‘n benouende, anti-akademiese raamwerk te funksioneer.

[*Die ontaarding van die akademie is ‘n ernstige probleem, wat veral van die VSA af uitkring tot by ons. As opvoedkundige kan Le Cordeur gerus kennis neem van Bruce Bawer se boek, The Victims’ Revolution: The rise of identity studies and the closing of the liberal mind (New York: Broadside/HarperCollins, 2012, 400p; Amazon Kindle $18.23). In Amerika word elemente wat akademies absoluut onbevoeg is, toegelaat om leergange te bepaal. Dit maak dit vir studente moontlik om pleks van te studeer, te praat en te skryf oor “their own personal experiences, hobbies, enthusiasms, and grievances” (Kindle 4337). Studie ontaard in narsistiese belydenisse en terapie: “delicate-flower navel-gazing” (1614). “Ice people” (wittes) word ongunstig gekontrasteer met “gentle, warmhearted sun people” (swartes) (1867). “The problem, to be sure, is not simply a pathological fixation on group identity, but a preoccupation with the historical grievances of certain groups, combined with a virulent hostility to America, which is consistently cast as the prime villian in the histories of these groups and the world at large” (96). In die Suid-Afrikaanse universiteitswese en breër samelewing is daardie “rigid political ideas” deesdae demokrasie (een mens, een stem), etniese en kulturele relativering en gelykverklaring, diversiteit, multikulturaliteit, gedwonge rasse-integrasie en inklusiwiteit. Amerikaanse studente “have been trained to reduce the rich complexities and ambiguities of human life to simple formulas about oppressors and oppressed, capitalists and workers, Western imperialists and non-Western victims” (142). “There are no barbarians, only different forms of civilized man” (240). Gestremdes word nie as “disabled” beskou nie, maar as “differently abled” of “handicapable” (650). Dit is deel van “ableism” (4519). “Legitimate criticism of a black or female candidate can be discounted as ‘racist’ or ‘sexist’ instead of being addressed on its merits” (104), ens.]

Dat wittes ‘n enkele kampus, naamlik Potchefstoom, volgens hulle institusionele kultuur mag inrig, is vir ANC-kamerade heeltemal ontoelaatbaar. Was die akademiese opset in die ou Suid-Afrika nie dalk veel beter nie? Kultuurverskille is erken. Wittes (Afrikaans- en Engelssprekendes), bruines, Asiate en swartes het hulle eie universiteite gehad waar elke groep volgens sy kulturele aard, insluitende voertaal, dinge na eie wense kon inrig; onder meer watter name vir geboue gebruik en watter standbeelde opgerig word. Dit klink vir my na ware vryheid in vergelyking met die huidige dwingelandy waarvolgens alles aan die tirannie van die swart meerderheid onderworpe is. Sodra swart mag ongebreideld losgelaat word, is dit die tradisioneel blanke kampusse wat al hoe meer onherkenbaar vermink word. Daardie anti-akademiese en ideologie-gedrewe verminkingsproses word eufemisties transformasie genoem.

“Die gebrek aan transformasie op kulturele, linguistiese en etniese gebied sal op alle kampusse aandag moet geniet, nie net aan die UK nie. Ná 1994 het ons almal op ons louere gerus en vergeet dat waardes soos nasiebou en versoening voortdurend herbesoek moet word. Dis ‘n nimmereindigende proses.” Soos hierbo aangedui, tref transformasie die tradisioneel wit en veral Afrikaanse universiteite; nie die tradisioneel swart universiteite nie. Het die UK- en ander beeldbestormers gepoog om versoening te bevorder? Het hulle daarin geslaag, of eerder die teenoorgestelde bereik?

“Uiteindelik moet Suid-Afrikaners besef universiteite is oop ruimtes vir intellektuele en kulturele interaksie ten einde ‘n wesenlike bydrae tot die kennis-ekonomie van Suid-Afrika te lewer. En die jeug gaan toenemend betrokke wees. Verwag ook dat hulle soms die pas sal aangee.” Dit klink na ‘n voorspelling van toenemende chaos en vernietiging. Dit moet nie net gaan om “kulturele interaksie” nie. Myns insiens mag dit aan universiteite ook gaan om die waardering en uitbouing van ‘n bepaalde kultuur en taal; des te meer as so ‘n etniese groep ‘n bewese rekord van konstruktiewe beskawing en voorspoedskepping het. So ‘n groep behoort ongesteurd toegelaat te word om na eie goeddunke van sy prominente lede met openbare standbeelde te vereer. As dit nie die geval is nie, is Le Cordeur se “universiteite as oop ruimtes” snert. Of verwys hy na die oop ruimtes waar voorheen standbeelde gestaan het?

Het dit u ook opgeval hoe stil die DA oor standbeelde, Afrikaans en natuurlik die Afrikaner is? Die DA soek naarstiglik na groter swart steun, soos enige politieke party moet doen wat die land wil regeer. Dit alles weens die dwase grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer. Eskom simboliseer hierdie funksionering.

Ten slotte kan gevra word watter akademiese reg swartes het om eens akademies voortreflike universiteite vir (hoofsaaklik) blankes volgens hulle ideologiese voorkeure te transformeer terwyl daar talle tradisioneel swart universiteite is waar hulle hulle kultuur na hartelus kan uitleef. Hulle gedrag kan selfsugtig en eiegeregtig genoem word. Die punt is dat dit sekerlik nie ‘n akademiese reg is nie. Dit is ‘n politieke reg wat hulle hulleself toe-eien, gegrond op swart mag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.