Buitelandse winkels in Johannesburg sluit na dreigemente

Deel op

Winkels in buitelandse besit in Johannesburg se middestad het begin om hul deure te sluit ná gerugte dat ‘n skare dreig om op ‘n plunderveldtog te gaan.

Nuus24 berig dat die meeste winkels op Breëstraat reeds gesluit is.

Eyewitness News het getwiet dat daar dreigemente van geweld in die sentrum Johannesburg is en sommige winkels is alreeds geplunder

‘n Polisiewoordvoerder Wayne Minnaar sê die metropolisie monitor die situasie.

Geweld het die afgelope week vanaf gebiede buite Durban na die middestad versprei en polisieversterkings moes uit ander dele van die provinsie ingeroep word.

By Ledig naby Sun City in Noordwes is ook voorvalle van plundery en brandstigting teen buitelanders aangemeld.

Intussen het die VN se voormalige Hoëkommissaris vir Menseregte, Navi Pillay, in Durban oor voortgesette xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika gepraat.

Pillay het gesê Suid-Afrika moet ‘n strenger immigrasiebeleid instel en strenger beheer neem oor landsgrense.

Sy het Suid-Afrika se oop grense gekritiseer.

Die voormalige VN-amptenaar is deel van ‘n taakspan wat deur die KwaZulu-Natalse regering aangestel is om aandag te gee aan die geweld wat reeds vyf lewens geëis het, waaronder ook die van ‘n minderjarige.

Byna 2000 buitelanders is reeds na skuilplekke uitgedryf.

Die organisasie, Regslui vir Menseregte, sê die regering maatreëls in te stel om die integrasie van buitelanders in die samelewing te vergemaklik.

Hulle het gesê die regering en wetstoepassingsagentskappe moet optree om die huidige vlaag van geweld te ontlont.

Volgens Regslui vir Menseregte voel Suid-Afrikaners dat buitelanders hulle werksgeleenthede bedreig en dit lei tot misdaad en vreemdelingehaat.

Malawi het vroeër aangekondig dat hy sy burgers uit Suid-Afrika sal repatrieer na die toename in xenofobiese geweld.

Zimbabwe het gesê die aanvalle teen sy burgers in Durban sal nie betrekkinge tussen die twee lande beïnvloed nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.