ISIS neem olieraffinadery in Irak oor

Deel op

Militante van die Islamitiese Staat (ISIS) het ‘n deel van ‘n raffinadery in Irak oorgeneem, het Xinhua berig.

NUUT!

Die bevelvoerder van ’n federale polisiemag wat getaak is om Irak se grootste olieraffinadery te beskerm, is Woensdag in hewige gevegte gedood.

Die ISIS-militante het teen dagbreek ’n aanval op die raffinadery naby die stad Baiji in die Salahudin-provinsie van stapel gestuur en majoor-generaal Dhaif Khalaf en nege van sy lyfwagte gedood.

Die ekstremiste het ’n deel van die raffinadery aan die brand gesteek met swart wolke wat bo die gebied gehang het en waarskynlik lugondersteuning aan die troepe voorkom het, het ’n bron gesê.

Ondanks die groot voordeel wat die ISIS-militante­ binne die raffinadery gehad het, kon hulle nie beheer oor groot dele van die oliefasiliteit neem nie weens die hewige teenstand van die veiligheidsmagte­.

Abdul-Wahab al-Saedi, bevelvoerder van die Salahudin-operasie, het aan media in Irak gesê dat versterkingsmagte­ van Baiji, sowat 200 km noord van Bagdad, gearriveer het en in drie rigtings­ na die raffinadery beweeg om steun aan die troepe te gee wat in die raffinadery veg.

Dié aanval is deel van ’n reeks aanvalle­ wat die olieraffinadery sedert Saterdag­ teiken, maar veiligheidsmagte­ kon die aanvalle met die hulp van die internasionale­ koalisie en die lugmag van Irak afweer.

In ’n afsonderlike geval is vier polisiemanne­ dood toe hulle ’n bom wou ontlont in ’n huis in die Al-Qadsiyah-distrik­ in die noordelike deel van die provinsie se hoofstad, Tikrit, sowat 170 km noord van Bagdad.

Intussen is vier Soenni-mans dood en twee ander beseer in ’n geveg met ISIS-militante­ in die nedersetting Al-Mazraa­ in die suide van Baiji.

Gevegte in die Soenni-gedomineerde­ provinsie Salahudin volg twee weke nadat Irak se veiligheidsmagte weer beheer oor Tikrit geneem het toe 30 000 veiligheidslede­, gesteun deur Sjiiete- en­ Soenni-militante en die koalisie van Irak en Amerika se lugmag die grootste offensief­ teen die ISIS-militante groep van stapel gestuur het.

Die Irakse premier, Haider al-Abadi het intussen met President Barack Obama samesprekings gevoer tydens sy eerste staatsbesoek aan die VSA.

Abadi sou na verwagting bykomende militêre hulp versoek om militante van die Islamitiese Staat-groep teë te staan, maar die Wit Huis sê die Eerste Minister het geen spesifieke versoek gerig nie.

Obama het dit duidelik gestel dat die VSA geen begeerte het vir ‘n nuwe regstreekse betrokkenheid in Irak nie selfs wanneer ‘n “gemeenskaplike vyand” soos ISIS ter sprake is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.