Internasionale organisasies monitor Soedan-verkiesing

Deel op

Met 15 onbekende kandidate wat teen hom staan, is daar geen werklike kompetisie vir die 71-jarige pres. Omar al-Bashir in die verkiesings wat gister in Soedan begin het nie.

Soedan verskyn op die VSA se lys van “terreurstate”. Stemmery word tans deur 15 internasionale organisasies, waaronder die Arabiese Liga, gemonitor.

Kiesers sal ook vir nasionale en staatswetgewers stem in die drie dag lange verkiesings wat waarskynlik deur Bashir se regerende National Congress Party (NCP) oorheers sal word, het AFP berig.

Die strate van die hoofstad, Kartoem, was gister stil met die aanvang van die verkiesing en stemdag wat tot ’n openbare vakansiedag verklaar is.

Hierdie verkiesings is die tweede sedert Bashir in 1989 aan bewind gekom het. Bashir het ’n demokraties verkose regering omvergewerp in ’n Islamities gesteunde staatsgreep en is Soedan se langsdienende leier sedert onafhanklikwording.

Hy het die 2010 presidentsverkiesing gewen wat deur die opposisie geboikot is en volgens Westerse waarnemers nie aan internasionale standaarde voldoen het nie.

Onder sy bewind het Soedan se ekonomie in duie gestort en die land het swaar gely onder die afstigting van Suid-Soedan in 2011 waar meer as driekwart van die land se oliereserwes is. Konflik teister die Suid-Kordofan- en Blou Nyl-state sedert 2011 en die Darfoer-streek sedert 2003.

Bashir is in 2009 deur die internasionale strafhof aangekla vir beweerde oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Darfoer, en die daaropvolgende jaar ook vir volksmoord.

Nagenoeg 300 000 mense is dood in gevegte in die westelike deel van die land, sê die Verenigde Nasies.

Amptenare sê met die uitsondering van een distrik van Darfoer en sewe in Suid-Kordofan, sal verkiesings by 7 100 stempunte landwyd gehou word.

Altesaam 44 politieke partye neem aan die staats- en nasionale verkiesings deel in ’n land met 38 miljoen mense.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.