Herrie oor Libiese gesante in Namibië

Deel op

Die Republikein berig dat die DTA se president, mnr. McHenry Venaani, sê die Namibiese regering moet ’n beduidende standpunt inneem oor watter faksie in Libië amptelik erken word.

Libië is sedert die omverwerping en moord van die voormalige diktator, kolonel Muammar Gaddafi, in 2011 in politieke onrus gehul.

Venaani het verlede Donderdag in die parlement gesê die Namibiese regering het in die verlede die Gaddafi-bewind ondersteun, en dat voormalige president Hifikepunye Pohamba in die openbaar geweier het om die Nasio­nale Oorgangsraad (NTC) te erken.

Die NTC was vir tien maande ná Gaddafi se dood die werklike Libiese regering voordat die land in faksie­gevegte verstrengel geraak het.

In Windhoek het die NTC-vlag vir ’n paar dae by die Libiese ambassade gehang voordat dit verwyder is. Volgens die Weense Konvensie moet die gasheerland ’n ooreenkoms met die hoof van die ambassade aangaan rakende die diplomate wat in die land kan dien.

“Ondersteun ons die Raad van Afgevaardigdes (soms na verwys as die Huis van Verteenwoordigers) in Tobruk wat deur Abdullah al-­Thani gelei word en skynbaar die grootste internasionale ondersteuning en erkenning het, of erken ons die Nuwe Algemene Nasionale Kongres (NGNC) in Tripoli onder leiding van Nouri Abusahmain?” het Venaani gevra. “Ons moet ’n ondubbel­sinnige en bondige buitelandse beleid hê.”

Venaani wil voorts weet wie, of watter faksie, tans in die Libiese ambassade in Windhoek is en of hierdie diplomate die ambassade wettiglik beset.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.