Obama maak vrede met Kissinger se vyande

Deel op

Die Withuis het aangekondig dat Kuba van ‘n lys van lande verwyder gaan word wat volgens die VSA terrorisme steun.

Die lys bevat onder andere die name van Iran, Soedan en Sirië. Die Amerikaanse departement van Buitelandse Sake het na aanleiding van ‘n ondersoek wat deur President Barack Obama gelas is, aanbeveel dat Kuba van die lys verwyder word.

Met die Bay of Pigs-fiasko, het betrekkinge teen 1962 tussen die twee lande ‘n laagtepunt bereik nadat die mislukte inval deur die VSA tot die Kubaanse missielkrisis gelei het.

Die jongste stap word bestempel as die verwydering van een van die grootste struikelblokke in die herstel van diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande.

Die besluit volg dae nadat Obama en President Raul Castro vir die eerste keer in bykans 60 jaar formele samesprekings in Panama gehou het.

Die Amerikaanse Kongres het 45 dae tyd om die besluit te oorweeg, voordat dit van krag sal raak.

Daar het intussen vreemde besonderhede oor die Bosoorlog aan die lig gekom waar Amerika oënskynlik aan albei kante bedrywig was.

Kissinger was volgens geheime dokumente wat onlangs vrygestel is, woedend oor die Kubane se toetrede in Angola, maar sy tirade om Kubane “te gaan vermorsel” het ‘n groot gevaar vir Suid-Afrikaanse befondsing van die Kunene-hidro-projek ingehou.

Suid-Afrikaanse spesmagte het volgens die VSA die Chevron-kompleks gemyn met ploftoestelle.

‘n Paar maande later, het die Verenigde State van Amerika nogtans sy status as “eerlike makelaar” in die oë van die Angolese verloor, deur hulp aan Savimbi se Unita-magte te verleen.

Daardie besluit het ‘n paradoksale situasie openbaar: Kubaanse troepe is ter beskerming van ‘n Amerikaanse oliekompleks ontplooi wat gedeeltelik deur die Amerikaners besit is, terwyl die Verenigde State van Amerika hulp aan hul vyande verleen het.

Uit die vrygestelde dokumente blyk dit dat Angolese amptenare glo gewag het vir die “onvermydelike”: Die ineenstorting van wit Suid-Afrika wat die CIA glo aan hulle belowe het.

So ‘n ineenstorting sou die Kubane die mees mobiele en bes toegeruste troepe in Suider-Afrika gemaak het, volgens die New York Times. Dit is moontlik waarom Kuba Angola vir 15 jaar lank beset het.

Die Angolese regering spog steeds dat hulle nie ‘n sent betaal het om die Kubane te onderhou nie. Die geld vir wapens, logistiek, troepe en kos is glo goedgunstiglik deur “internasionaliste” geskenk.

Die VSA voer steeds olie van Angola in.

Ongeveer 7% van die VSA se olie word van dié land verkry. In 2002 het Amerika hul steun aan die MPLA toegesê. Die Council of Foreign Relations het Angola in 2007 as een van Amerika se belangrikste bondgenote uitgesonder.

Kennelik het Kuba intussen van hul “opoffering” vergeet.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.