PRAAG vra dat UNESCO hele Kerkplein in Pretoria as wêrelderfenis verklaar

PRAAG het ‘n tweede skrywe aan UNESCO gerig waarin die organisasie se dringende ingryping om die standbeeld van Paul Kruger te beskerm, gevra word.

Terselfdertyd het dr. Dan Roodt van PRAAG gevra dat die Kruger-standbeeld, asook Kerkplein met sy historiese geboue daar rondom, as ‘n wêrelderfenisperseel geklassifiseer word.

In reaksie op ‘n verklaring van die Partij voor de Vrijheid van Nederland, wat ‘n soortgelyke versoek aan die Nederlandse regering gerig het, het Roodt gesê: “Ons verwelkom die PVV se pogings om ook die Nederlandse regering se ingryping te bekom om die barbaarse beskadiging van ‘n grootse monument en kunswerk te stuit.”

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep wil egter verder gaan en nie net die standbeeld nie, maar ook die geboue rondom die plein as wêrelderfenis geklassifiseer hê. “Die hele Kerkplein, tesame met die standbeeld, moet aan Afrikaners oorgedra word. Die ANC-munisipaliteit moet die Ou Raadzaal ontruim sodat Afrikaanse organisasies dit permanent vir vergaderings en administrasie, asook die verwelkoming van toeriste, kan gebruik. Die Afrikanerbeweging het ‘n sentrum nodig van waar ons die handhawing en bevordering van ons kultuur kan bedryf.”
As nie-regeringsorganisasie doen PRAAG aansoek om die hele Kerkpleinkompleks as wêrelderfenis deur UNESCO te laat klassifiseer. Lede van die publiek wat die aansoek ondersteun, word versoek om ‘n petisie op die PRAAG-webblad met hul name en eposadresse te onderteken. Die petisie sal by die amptelike aansoek om die standbeeld, plein en geboue as wêrelderfenis te verklaar, aangeheg word.
 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.