Meer as 50 000 nuwe grondeise

Deel op

Daar is reeds 54 351 nuwe restitusie grondeise, in terme van die wysiging van die Wet op Restitusie van Grondregte (Wet 15 van 2014), ingedien. Hierdie syfer is bekend gemaak deur die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, in opvolg op ‘n vraag in die parlement gesê.

“Nuwe restitusie grondeise is vir vyf jaar heropen tot 2019. Die 54 351 eise in minder as een jaar van heropening, is reeds 68% van die 79 600 eise wat ingedien was van 1994 tot 1998. Na 16 jaar is daar steeds ongeveer 5 000 aanvanklike eise wat nog nie afgehandel is nie. Indien die huidige syfer oor vyf jaar geprojekteer word kan meer as 200 000 eise verwag word. Die departement self verwag meer as 300 000 eise. Indien dit 16 jaar neem om 75 000 eise te hanteer sal dit meer as ʼn halwe eeu neem om 200 00 af te handel,” sê Pieter Groenewald van die VF+.

“Ons het reeds gewaarsku dat die heropening van grondeise groot onsekerheid in die landbousektor gaan skep. Nuwe eise sal veroorsaak dat dit nog baie jare mag neem om al die nuwe eise af te handel.

“Vanweë die moontlikheid van ’n grondeis, brei meeste boere op die oomblik nie hulle landboubedrywighede uit nie. Op hierdie tydstip het die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor sekerheid oor die toekoms nodig om met nuwe beleggings en uitbreidings te verseker dat daar genoeg kos vir almal in die toekoms is.

“Wat Suid-Afrika tans nodig het, is dat die landbougrond wat reeds aan nuwe swart boere oorgedra is, suksesvol kos moet produseer. Suid-Afrika kort meer suksesvolle swart kommersiële boere. Nege uit tien van die oordragte van grond het misluk volgens syfers wat minister Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, verskaf het. Ons kan nie bekostig dat nog vrugbare grond onproduktief raak nie terwyl die bevolking groei en daar daagliks meer voedsel nodig is nie,” het Groenewald gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.