Draaipunt vir samewerking tussen DA, EFF

Die leier van die opposisie, Helen Zille, sal uittree as leier van die DA.

Zille het Sondag op ’n dringende vergadering van die party se federale raad aangekondig sy gaan haarself nie beskikbaar stel vir nog ’n termyn as partyleier tydens die party se nasionale konferensie later vandeesmaand in Port Elizabeth nie.

Sy sou die enigste kandidaat as na­sionale leier gewees het. Met dié aankondiging wil die DA ‘n nuwe leier se beeld betyds vir die volgende verkiesing begin afstof.

Mmusi Maimane is die gunsteling om by Zille oor te neem.

Sy samewerking met die EFF in Februarie, toe albei partye saam pres. Jacob Zuma tydens die debat oor die staatsrede aangeval het, was klaarblyklik die draaipunt vir die swart siening van hom as nie net ‘n blote wit werktuig nie.

Zille het in 2007 by Tony Leon as DA-leier ­oorgeneem en dien sedert 2009 as Wes-Kaapse premier.

Dit blyk Zille sal aanbly as premier van die Wes-Kaap.

Alhoewel Zille beweer dat sy nie weer betrokke sal raak by interne leierskapkwessies nie, is dit bekend dat sy Maimane steun as haar opvolger.

Zille sê ouderdom is nie ter sprake nie, maar slegs dat die nuwe leier geskik vir die pos en voortreflik moet wees.

Die leier van die DA in die Oos-Kaap, Athol Trollip en Zille het in die verlede koppe gestamp toe sy vir Lindiwe Mazibuko as parlementêre leier bó Trollip aangewys het.

Trollip het haar destyds daarvan beskuldig dat sy ingemeng het by die party se demokratiese proses deur ‘n swarte aan te wys.

Die DA sukkel om swart kiesers te oortuig dat hulle nie ‘n wit party is nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.