Lugaanvalle in Jemen dood agt

Deel op

Lugaanvalle van Saoedi-Arabië gister op ’n militêre kamp het agt burgerlikes in die stad Taiz in sentrale Jemen gedood, het ’n mediese bron aan Reuters gesê.

Die lugaanvalle was gemik op ’n plek waar lojale soldate van die voormalige Jemense president, Ali Abdullah Saleh, gevestig is wat kragte met die Iran-­geallieerde Houthi-­rebelle gesnoer het teen plaaslike milisies in die suide, het ’n bron gesê.

Saoedi-Arabië en sy Soenni-Arabiese geallieerdes het meer as twee weke gelede lugaanvalle teen die Houthi’s begin met die hoop om hul opmars na die suidelike hawestad Aden te stuit.

Saleh bly steeds hoogs invloedryk, ondanks die feit dat hy sy mag in 2012 opgegee het ná massaproteste teen sy regering, en troepe lojaal aan hom ondersteun die Houthi’s.

Die veldtog het vrese laat ontstaan dat die oorlog tussen die vyande Riaad and Teheran die Midde-Ooste verder sal destabiliseer en moont­lik die Jemense staat vernietig.

As ’n teken van verswakte militêre beheer, het verdagte Al-Kaïda-militante ’n weermagkolonel in die sentrale Shabwa-provinsie gister gedood, het ’n plaaslike amptenaar gesê.

Volgens inwoners is ’n Al-Kaïda-leier deur ’n Amerikaanse hommeltuigaanval op ‘n groep militante wes van die hawestad Mukalla aan die Arabiese See gedood. Dit was die eerste aangemelde hommeltuigaanval teen die magtige Jemense tak van die wêreldwye militante groep sedert Amerika 100 spesiale magte-troepe verlede maand onttrek het.

Saoedi-Arabië is bekommerd dat die oorlog teen die Houthi’s oor die grens kan versprei, maar Iran het die bewering ontken dat hulle militêre steun aan die groep gee. Die Houthi’s ontken ook dat hulle hulp van Iran kry en sê hul gewapende veldtog is ontwerp om van korrupsie en Soenni Al-­Kaïda-militante ontslae te raak.

Volgens die Verenigde Nasies het die konflik sedert die Houthi’s in September beheer geneem het van die hoofstad Sanaa in die noorde 600 mense gedood, 2 200 gewond en 100 000 verplaas.

Saoedi-Arabië se minister van verdediging het gesê meer as 500 Houthi’s is ook in gevegte op Jemen se grens gedood.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.