Dan Roodt: Beelde: wat volg ná die Kristallnacht?

Deel op

Veral nou ná Robert Mugabe se “geskiedkundige” besoek soos dit oral genoem is, is die revolusie besig om momentum te kry. Vandag is dit beelde, môre is dit plase, huise en ander bates.

Deel op

Tydens die Kristallnacht-voorval in Nazi-Duitsland, het skares Duitsers eenvoudig op 9 tot 10 November 1938 Joodse winkels en sinagoges aangeval ná die sluipmoord op Ernst vom Rath, ‘n Duitse diplomaat in Parys, deur die jong Jood Herschel Grynszpan. Geen Afrikaner of blanke het onlangs ‘n sluipmoord gepleeg nie, maar ons beleef tans ons eie Kristallnacht in die vorm van beelde en ander blanke simbole wat aangeval word.

roodt_dan_wikiOor die afgelope paar weke het swart (en wit) radikale besluit dat elke openbare standbeeld van ‘n blanke, sonder aansien des persoons, “aanstoot gee”. Die klompie uitwerpselstrooiende belhamels op die kampus van die Kaapstadse Universiteit geniet elke aspek van Rhodes se imperiale nalatenskap, waaronder Engels en sy finansiële vrygewigheid, maar het dit daarteen dat hy ‘n “wit kolonialis” was.

Robert Mugabe het vandeesweek dié “bevrydingsfilosofie” mooi opgesom toe hy in Soweto gesê het: “I don’t want to see white faces.” Ook nie blanke gelaatstrekke in brons nie.

Skaars is Rhodes se beeld holderstebolder met ‘n hyskraan van die kampus verwyder, of die volgende teiken is Anton van Wouw se manjifieke beeldegroep van Paul Kruger en die Boerekrygers op Kerkplein. Julius Malema se EFF’s, wat openlik Mugabe se antiblanke haat in Suid-Afrika propageer, het die Krugerbeeldegroep met groen verf besmeer. Hulle het ook besluit dat Oom Paul summier van Kerkplein verwyder moet word, waarop Steve Hofmeyr, Sunette Bridges en ander opgeruk het om by die standbeeld te betoog.

Die land, asook Afrikaners onderling, is lankal verdeel tussen die radikale, kommunistiese faksie en die meer konserwatiewes wat wil sien dat Suid-Afrika min of meer soos voorheen moet aangaan, behalwe dat probleme met elektrisiteit, water en die ekonomie opgelos moet word. Dis nie eintlik Wit teen Swart nie, dis Wit teen Rooi: Mensjewis teen Bolsjewis, net soos in vanmelewe se Moedertjie Rusland rondom 1920. Sedert FW se holderstebolderoorgawe het Joe Slovo van Litaue se Oos-Europese ideologie hom hier tuisgemaak en daarom is ons bestem om al die rampe van die twintigste eeu in daardie wêrelddeel, maar ook in Afrika (Kongo, Mosambiek, Zimbabwe) te herhaal.

As ons dit logies ontleed, dan is dit helder dat die Rooies wil hê dat ons die Zimbabwepaadjie moet loop met grondhervorming en die uiteindelike verdrywing van alle blankes behalwe ‘n paar duisend marxiste, feministe en afrosentriste wat, soos Max du Preez, hulself trots “rasseverraaiers” noem.

Almal sê dat die “politieke temperatuur in die land gestyg het”. Nog ‘n ooreenkoms met Zimbabwe is dat twee swart faksies oor politieke mag baklei, en dan die blankes as sondebokke vir hul onderlinge botsings, ellende, korrupsie en wanbestuur blameer.

Daar heers ‘n gevaarlike gees van défaitisme onder Afrikaners, om van die Engelse nie eens te praat nie. Vandag in Rapport skryf al die meningsvormers soos een man dat ons maar net moet toegee en nogmaals ‘n kompromie behoort aan te gaan. Onder die opskrif, “Wees pragmaties oor beelde” sê Rapport:

“Kom eerder met konstruktiewe voorstelle vir hoe om vorentoe te ­beweeg, wat in sommige gevalle die skuif van kosbare monumente mag insluit.”

Nie net is “vorentoe beweeg” (move forward) ‘n baie ou ANC-slagspreuk nie, maar Rapport laat na om vir ons uit te spel dat ons eintlik “agteruit moet beweeg”, dus moet retireer. “Vat jul beelde en val terug,” is die boodskap. Pretoria en Kerkplein is verowerde gebied, dus hoort Kruger nie meer daar nie.

Die vraag wat ek vir Rapport en al die FW-volgelinge, wat al dertig jaar lank net wil gaan lê voor die toenemende radikalisme van die Rooi faksie, is: “Tot waar moet ons retireer? Tot by Kaap Agulhas se strand en dan maar verder die see in? Of tot by Orania?” Daar word ook die gevaarlike opvatting versprei dat Afrikanergeskiedenis en -kultuur bloot by die Voortrekkermonument of op Orania welkom is; in die res van die land geld die McDonalds-met-Karl-Marx-sous-kultuur. Natuurlik verwelkom beide Orania en die Voortrekkermonument nog manjifieke skeppings in brons soos Van Wouw se Krugerbeelde, wat hulle gratis en verniet met hyskrane en vragmotors afgelaai mag ontvang.

Ons weet egter dat die frase-tjie, “Ons eis” (we demand) van die opgesweepte en werklose jong swart massas steeds harder gaan opklink, al word elke beeld nou in ‘n ondergrondse kelder op Orania geberg en al verander elkeen van ons ons name om nie meer Afrikaans te klink nie.

Het u al daaraan gedink dat ‘n van soos “Botha” of “Van der Merwe” aanstoot gee? My naam is Daniel Francois Roodt, met die ongelukkige afkorting D.F., nes D.F. Malan, wat insgelyks in die visier van die Rooi agitators is. Ek is met ‘n “apartheidsnaam” gedoop, spyt dit my. Moet ek my nou “Rolihlahla Roodt” begin noem om “nie aanstoot te gee nie”? Dis tog belaglik.

Veral nou ná Robert Mugabe se “geskiedkundige” besoek soos dit oral genoem is, is die revolusie besig om momentum te kry. Vandag is dit beelde, môre is dit plase, huise en ander bates. ‘n Amerikaanse vriend het eenmaal vir my gesê: “Julle Afrikaners is dapper mense, maar julle loop die risiko om óf uitgemoor óf net met die klere aan julle lywe uit jul land te ontsnap.” Ek het nie met hom saamgestem nie, omdat ek steeds vertroue in ons mense het dat hulle so ‘n lot sal kan afweer.

Dis nogal interessant om te sien wie skielik uit die niet verskyn om “goeie raad” aan ons te bied te midde van die huidige politieke krisis. Ene Sam J. Basch pleit insgelyks in Rapport vir oorgawe, nogmaals oorgawe, en konstateer:

“Niemand wen in ’n langdurige en uitgebreide konflik nie. Om aan te pas bied veel meer – en wys dat ons deel van ’n langdurige oplossing wil wees.”

Miskien geld dié beginsel vir Europa waar wêreldoorloë geveg en miljoene mekaar doodgemaak het in wat vandag as ‘n “blanke burgeroorlog” bestempel word. Dit was alles sinneloos. In Suid-Afrika het twee, drie dekades van terreur, propaganda en agitasie deur Joe Slovo en sy vrou Ruth First vanuit Londen, maar ook ‘n handjie vol plaaslike marxiste, op baie groot winste vir hulle uitgeloop. Tesame met hul swart marionette, het hulle die hele land en staatsbegroting, tesame met al die openbare maatskappye en munisipaliteite, op ‘n skinkbord van die vuisvoos NP’s ontvang.

Politieke geweld en intimidasie, soos misdaad, is in Suid-Afrika lonend. Sommer baie lonend. In elk geval verteenwoordig die Rooi agitasie rondom standbeelde, wat ook op die linkse webblad Daily Maverick gevoer word, ‘n uitgebreide vorm van intimidasie waarvan die uiteindelike doelwit is om ons sag te maak vir nóg meer radikale maatreëls betreffende eiendom, taal en skole.

Dis vir my onvergeeflik dat Tim du Plessis in Rapport vir Steve en Sunette as van “raserny” beskuldig:

“Om jou in reaksie aan Oom Paul se standbeeld op Kerkplein in Pretoria te gaan vasketting en “Die Stem” te sing, is om raserny met raserny te bestry.

Elders in Rapport beskryf Mondli Makhanya, die adjunkredakteur van City Press, vir Sunette Bridges en Steve Hofmeyr as “ultrarassiste” en “slymerige reptiele”.

As jy Die Stem in ‘n patriotiese gebaar langs Oom Paul op Kerkplein sing, is jy ‘n “ultrarassis” en “ekstremis”. Maar as jy laer af in Kerkstraat soos Ronnie Kasrils en Aboobaker Ismail ‘n motorbom laat afgaan of halssnoermoorde pleeg, dan is jy “redelik”; dis so min of meer wat die hoofstroommedia in dié land vir ons sê!

My vraag aan Tim du Plessis en almal wat in die gees van FW de Klerk meen dat om te retireer eintlik dieselfde beteken as om “vorentoe te beweeg”, is: Tot waar moet ons retireer? Vandag is dit standbeelde, môre is dit ons werke, ondernemings en huise. Waar trek ons die streep? As ‘n bende met rooi T-hemde in jou straat opdaag en jou vrou en dogters opeis, sê jy dan ook “ja”, om konflik te vermy?

Ons weet almal hoe dinge in Afrika werk. As skares eers op loop gaan, is daar soms geen keer aan hulle nie. Veral as die polisie tot dieselfde bevolkingsgroep as die oproeriges behoort. Tydens die Katrina-onluste in New Orleans het een swart vrou wat besig was om ‘n winkel te plunder met groot vreugde uitgeroep: “It must be legal, the police are doing it too!” Vir die oomblik staan die polisie nog onder beheer van die ANC en hou hulle die EFF se Rooihemde oënskynlik in toom, maar wat gebeur as Zuma besluit dat die tyd vir “ware transformasie” nou aangebreek het? Veral na alles wat Kameraad Bob Mugabe vandeesweek in sy oor gefluister het?

Tydens die Kristallnacht het Goebbels blykbaar die opdrag gegee dat die Duitse polisie niks moet doen om Joodse eiendom te beskerm nie. Dit was nie die staat wat Joodse winkels stukkend gegooi het nie; dit het “spontaan” gebeur en “kon nie verhoed word nie”. Net soos wat ons beelde tans “spontaan” deur die EFF of “onbekende jeugdiges” gevandaliseer word. Omdat hy die polisie beheer, hou die ANC al die kaarte in dié spel. Hy kan die “spontane” onlusmakers maar laat begaan, of hy kan hulle so bietjie in toom hou. Intussen predik Rapport, Beeld en die res van die Naspersorgane die boodskap van die Borg in die wetenskapfiksiereeks Star Trek: “Weerstand is futiel.”

Nee, nee en nogmaals nee! As ons voorouers – en veral die onverskrokke Paul Kruger wat menigmaal die dood in die oë gestaar het – daardie mentaliteit sou aangehang het, was ons nie vandag hier nie. Geen Afrikaner sou die negentiende eeu met sy vele plaaslike oorloë en konflikte oorleef het nie.

Ons moet aanvaar dat ons nie in beheer is nie: die ANC, SAKP en ook die EFF, dikteer die pas waarteen die revolusie gaan plaasvind. Dis ‘n totale aanslag op alle gebiede: dit wissel van aanvalle op standbeelde, taaldiskriminasie, regstelling, die wegkalwe van eiendomsreg en selfs hoe ons onsself sien, ons identiteit en ons diepste wese as blankes en Afrikaanssprekendes.

En: moenie glo dis net ‘n klompie jillende rooihemde nie. Agter hulle sit daar bedrewe politieke skaakspelers wat haarfyn dophou hoe ons stukke een vir een afgevat word, net soos wat Rhodes se standbeeld vandeesweek met ‘n hyskraan vanaf die Kaapse skaakbord verwyder is. As die oomblik reg is, gaan hulle naderstaan om ons die doodskoot te gee, of te beveel om die land te verlaat, met die klere aan ons lywe. Of selfs sonder klere, soos baie van die nonne wat ternouernood deur Belgiese skepe op die Kongorivier gered is. ‘n Vlaamse oudskeepskaptein wat ek ken, moes van sy eie klere vir so ‘n non leen. Behalwe dat hulle verkrag is, is van daardie nonne grusaam vermoor en hul lyke uitgestal volgens die oeroue gebruike van Afrika.

Dit is waar dat orde die meeste mense tot voordeel strek. Sommige mense baat egter rojaal by wanorde, veral diegene met kapitaal wat, as mense desperaat van hul grond en goed ontslae raak, alles teen ‘n appel en ‘n ei kan opkoop. Ons sou naïef wees as ons dink dat daar nie mense in Suid-Afrika bestaan vir wie die huidige graad van wanorde nog by verre nie genoeg is nie, en wie se glorierykste oomblik juis gaan aanbreek as daar bloed op straat is.

Joe Slovo, Bram Fischer en die res van die Kommunistiese Party het in Desember 1960, kort nadat die uitslag oor die republikeinse referendum van 5 Oktober bekend geraak het, oorlog teen ons verklaar. Daardie oorlog is steeds aan die gang en1994 was bloot ‘n wapenstilstand. Die uiteindelike doelwit om Suid-Afrika enersyds van blankes te suiwer en andersyds in ‘n Afrososialistiese staat te omskep, staan steeds op die sakelys.

Ons is reeds ver agter in die wedstryd, hoofsaaklik vanweë gebrekkige leierskap en nog gebrekkiger denke. Mense weier eenvoudig om die ooglopende te erken, totdat dit te laat is. So byvoorbeeld het Jaap Marais jare lank voorspel dat die NP aan die ANC gaan oorgee, maar die einste Nasperskoerante het hom as ‘n kranksinnige ekstremis afgemaak, net soos wat hulle vandag met Steve Hofmeyr en Sunette Bridges maak. “So iets sal nooit gebeur nie,” het al die joernaliste geskryf.

Feit is: Jaap Marais was reg en die joernaliste was verkeerd. Wat is fout met sommige Afrikaanse koerantmanne dat hulle altyd vir die vyand skree en téén ons werk? Groter as die probleem van die Rooi ikonoklaste is die verraad in eie geledere, deur mense soos Max du Preez, Adriaan Basson, Hannelie Booyens, Leopold Scholtz en Piet Croucamp.

Ten minste van 1968 af was die ANC ‘n blote front vir die Kommunisteparty. Die oorlog, die “struggle” (ek haat daardie woord), gaan voort, sy dit dan “met ander middele”, om nou vir Von Clausewitz te parafraseer. Sowel Oos-Duitsland as Rusland het egter daarin geslaag om die kommunistiese juk af te werp en weer op hul voete te kom. ‘n Les wat ons by die Russe kan leer, is om jou eie geledere van verraaiers te suiwer. ‘n Volgende keer wil ek oor veral die hedendaagse Afrikanerverraad skryf.

Hoe ons met verraaiers moet handel, weet ek nie. In die dertiger- en veertigerjare is hulle geteer-en-veer. In die aanloop tot die 48-verkiesing is daar tussen Nat en Sap vuisgeslaan.

Op die oomblik woed die oorlog tussen Wit en Rooi veral op die simboliese vlak, rondom standbeelde en name. Selfs op hierdie vlak mag ons nie nou terugstaan nie. As ons wag totdat ons fisiek in ons huise aangeval word, gaan dit te laat wees om te probeer mobiliseer of weerstand te bied.

Trek nou die streep. Neem soveel foto’s en video’s van Oom Paul en elke ander standbeeld of monument, want vir seker gaan sommige van hulle in die slag bly. Dit sal egter beter wees dat ‘n groep jillende Rooihemde die standbeeld op Kerkplein stukkend slaan as wat ons stert-tussen-die-bene vir Oom Paul in ons oorblywende ghetto by die Voortrekkermonument of op Orania huisves. Selfs al verloor ons die stryd rondom die beelde, sal ons ons selfrespek behou, want ons sal wéét dat ons nie sommer gaan lê het nie.

Diegene wat die moed of geneigdheid het, moet openlik of sigbaar weerstand bied in dié allerbelangrike simboliese stryd wat tans woed. Daar is egter ook Mao se beginsel van die “vis in die water”. Die meerderheid Afrikaners is vandag teen dié stelsel gekant. Hoewel hulle niks doen om dit te verander nie, sal hulle ook nie diegene wat daarteen opstaan, probeer keer nie. Dis nou behalwe ‘n handjie vol verraaiers wat hoofsaaklik in die media en by Naspers werksaam is. Daarom kan ons wat visse is, begin swem.

Dog op die mees alledaagse vlak moet ons begin om oral waar ons kan ‘n stok in die wiel te steek. Die e-tol-affêre is ‘n goeie voorbeeld. Van my mees voorbeeldige familielede en vriende is besig om openlik rebels oor e-tol te raak en weier om te betaal, selfs al word hulle met die hof gedreig. Moet ook nie meer jou TV-lisensie betaal nie, want dié geld gaan net om fanatici soos Piet Croucamp lugtyd te gee. Beïnvloed ook mense rondom jou om hul lamsakkige houding te laat vaar en bietjie ruggraat te kry. Boikot, weerhou betalings en doen wat jy kan. My liewe hemel, ons het hoofsaaklik vir die Amerikaners se geopolitiek bloed gestort in Angola, maar ons kan nie eens om ons volk te red ‘n paar straatname gaan doodverf of ‘n paar van hulle afskuwelike standbeelde ‘n bietjie van hul eie medisyne gaan gee nie! Gebruik net oranje, nie rooi of groen nie. Oranje is nie net die kleur van die Nederlandse sokkerspan nie; dis ‘n koninklike kleur wat nog altyd deur ons Afrikaners gebruik is.

Anders as Slovo, Mandela en die ander “helde”, was ons nog nooit ekstremiste wat onskuldige mense doodgemaak of terreur gepleeg het nie. Die afgelope twintig jaar is hierdie land egter bietjie vir bietjie op ‘n ekstremistiese “tweede revolusie” voorberei. As jy dít nie kan insien nie, dan is jy soos daardie Zimbabwiese boere wat in 1998 nog vir die TLU kom vertel het hoe lekker werk grondhervorming.

Dis nog nie tyd vir blikkieskos en sakke rys opgaar nie, maar ek sou sê jy moet sorg dat jy wapens en ammunisie in jou huis het om jou gesin mee te beskerm indien die ergste sou gebeur. Wêreldwyd bestee regerings miljarde aan wapens vir oorloë wat nooit plaasvind nie, bloot as ‘n voorsorgmaatreël.

Tref voorsorg en skep jou eie ondersteuningsnetwerk van bure, familie en vriende. Teken ook in op die PRAAG-nuusbrief, deur hier te klik (dit neem minder as 30 sekondes). Jy kan my ook persoonlik kontak by dan[by]praag.org as jy iets op die hart het. Volg my ook op Twitter en Facebook of “hou van” die PRAAG-Facebookblad.

Ek was destyds saam met Max Price, die rektor van die Kaapstadse Universiteit, op die studenteraad van Wits. Om te sien hoe hy en al die vermetele, linkse Engelse professore voor ‘n paar oproerige swart studente rondom die Rhodes-standbeeld kapituleer, het my oortuig dat die Engelse liberale, al beheer hulle nog die DA, nie meer ‘n faktor is nie. Hulle het met 189 teen 1 gestem om van hulle glorieryke Engelse standbeeld afstand te doen. Ek wonder wie was die een? Seker ‘n Afrikaner. Hulle lyk egter vir my baie bang, want hulle kom nou voor die ou waarheid te staan: die revolusie verorber altyd sy kinders.

Ek weet nie hoe u voel nie, liewe leser, maar ek wil nie deur die revolusie opgevreet word nie. Ek wil ook nie as vlugteling my vaderland hoef te verlaat nie. Waarheen? As die koms van blankes na die land dan ‘n fout was, soos wat Jacob Zuma met sy Jan van Riebeeck-opmerking gesê het, dan was Amerika, Kanada, Australië en die hele Suid-Amerika ook ‘n fout.

Ons moenie toelaat dat ons langer gebreinspoel en geïntimideer word nie, nóg deur ons vyande, nóg deur die Verraaierkaners.

Ons het ‘n reg om hier te wees. Ons het ‘n reg op standbeelde. Kom ons veg daarvoor.

 

 

 

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.