Leon Lemmer: Só word daar oor Jan van Riebeeck se heining gelieg

Deel op

Jacob Zuma het onlangs beweer dat Suid-Afrika se probleme in 1652 met die aankoms van Jan van Riebeeck begin het. Dit is ‘n nouliks bedekte aanval op die kollektiewe nalatenskap van blankes. Zuma kan steun vir sy onware stelling uit die volgende idilliese leuen van Nelson Mandela put: “Elders told of the good old days before the arrival of the white man. Then our people lived peacefully under the democratic rule of their kings” (David James Smith, Young Mandela, London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, p 18).

As ‘n mens sulke ANC-aktiviste moet glo, het swartes mekaar voor 1652 nie uitgemoor nie. In soverre hulle mekaar sedertdien uitgemoor het, kan die skuld goedsmoeds op die blankes gepak word. Dit is net so vergesog soos die 1990/1994-waan dat een mens, een stem in ‘n eenheidstaat vrede en voorspoed gaan bring. Die ANC-regering met sy sterk kommunistiese neigings het oor meer as twee dekades bewys dat hy nie doeltreffend kan regeer nie en nog minder welvaart kan skep.

Die protes teen Cecil Rhodes se standbeeld(e) het nou uitgekring na onder andere Jan van Riebeeck. Hy het glo die inheemses se grond onwettig beset, gevolglik kan dese en gene in die nuwe Suid-Afrika ook maar grond onwettig beset. Hierdie aktiviste neem nie in ag dat daar seker geen grond meer in private besit is wat deur oorerwing, terug tot by die eerste “steler”, verkry is nie. Dit beteken dat al die huidige grondeienaars eiendom besit wat wettig deur die huidige of ‘n vorige eienaar gekoop is. Maar daar is ‘n groter wordende getal inwoners wat daarop ingestel is om sonder teenprestasie te ontvang wat hulle ook al begeer. Hoe meer hulle só ontvang, des te meer wil hulle op dieselfde manier inpalm. Die eindresultaat van hierdie proses is bankrotskap; nie net finansieel nie, maar ook moreel.

Die aktiviste ken nie die plaaslike geskiedenis nie of transformeer dit om hulle agenda te pas. Die onlangse verlede (bv die apartheidsera) of die verre verlede (bv slawerny, kolonialisme, imperialisme) word vervals sodat dit misbruikbaar vir huidige politieke agendas is. Byvoorbeeld, as ‘n verband gevind kon word tussen ‘n gebeurtenis in Van Riebeeck se tyd en wat tydens apartheid plaasgevind het, sou dit in die kraam van hierdie mense pas. Dit sou ter ondersteuning van die genoemde Zuma-standpunt gebruik kon word. So ‘n gebeurtenis is inderdaad gevind, naamlik ‘n heining van amandelbome wat in Van Riebeeck se tyd geplant is. Vir gemene mense met ‘n politieke agenda maak dit nie saak dat die heining nooit bestaan het nie. Die amandelpitte het nie ontkiem, wortelgeskiet en tot bome gegroei sodat ‘n heining gevorm is nie.

Maar gestel die heining het voorbeeldige wasdom bereik. Dit sou nie ondeurdringbaar vir die nomadiese Khoi gewees het nie. Ook sou die heining nie lank genoeg kon wees om sulke inkommers doeltreffend uit te hou nie. Die onderliggende motief van diegene wat teen so ‘n heining beswaar maak, is dat blankes nie hulleself mag beskerm nie. As wittes dit op enige manier sou doen, is die beskuldiging van rassisme hulle voorland. Dit is waarom die ANC-regering die kommandostelsel afgeskaf het en blankes in groot mate nie toelaat om hulleself te bewapen nie.

Van Riebeeck se beoogde amandelboomheining word sonder meer in verband gebring met apartheid, wat egter eers bykans drie eeue later beslag gekry het. Daar is al dikwels beweer dat goeie heinings goeie buurmanskap verseker. Skeidsmure en heinings hoef niks met apartheid te make te hê nie. Byvoorbeeld, Spanje besit steeds twee enklawes aan die Afrika-kus waarop Marokko aanspraak maak, te wete Ceuta en Melilla. Albei gebiede is omheim in ‘n poging om te voorkom dat onwettige immigrante Spanje en die Europese Unie binnekom.

Op die grens tussen Amerika en Meksiko is daar talle skeidsmure en heinings om veral smokkelware (bv dwelms) en onwettige immigrante buite die VSA te probeer hou. In 2004 het Steven Hayward ‘n boek gepubliseer waarin hy Jimmy Carter die Amerikaners se “worst ex-president” noem; ‘n standpunt wat wyd onderskryf word. Carter (president 1977-1981) het nie sy eie land se skeidsmure en heinings met apartheid geassosieer nie. Hy het verkies om eerder Israel die sondebok te maak. In 2006 het hy sy boek, Palestine peace, not apartheid, gepubliseer. Reeds in 2002 het hy die Nobel-vredesprys ontvang. Voor hom het dieselfde “eer” vier Suid-Afrikaners te beurt geval: Albert Lutuli (1960), Desmond Tutu (1984), Nelson Mandela (1993) en FW de Klerk (1993). Dit is duidelik dat hierdie pryswenners dikwels mense is wat eerder onrus gestook as vrede bewerkstellig het.

By Suid-Afrikaanse swartes is opportunistiese politieke stellings oor Van Riebeeck se heining en apartheid te wagte. Die probleem is dat sommige openbare instansies hulle ook hieraan skuldig maak. SANBI (SA National Biodiversity Institute) beweer op sy webwerf dat Van Riebeeck in 1659 ‘n houtheining opgerig en in 1660 ‘n heining van wilde of bitter amandelbome geplant het om die Khoi uit die nedersetting te hou. Terselfdertyd word erken dat die inheemses hierdie amandels geëet het omdat hulle geweet het hoe om seker te maak dat hierdie vrug hulle nie vergiftig nie. In hierdie opsig sou die heining die Khoi dus eerder aangelok as afgeskrik het. Nogtans verkondig SANBI dat 1660 die begin van apartheid was. Op die webwerf van South African History Online word hierop voortborduur deur te beweer dat hierdie amandelheining as die aanvang van die “gated community” beskou kan word.

Soos te wagte, klim sommige nie-wit aktiviste graag onkrities op hierdie wa. Kyk bv Zubeida Jaffer se giftige anti-blanke retoriek, wat onlangs op IOL News (13 Februarie) gepubliseer is. Sy is ook oor die Van Riebeeck-standbeeld beswaard. Antjie Krog het haar skryfwerk geloof. As joernalis kan Jaffer die arm vrou se Christi van der Westhuizen genoem word. Dit is die soort joernaliste wat Jonathan Jansen na die Universiteit Vrystaat lok om militante linkse politiek te bedryf en ‘n joernalistiekleergang te skep. Van der Westhuizen was Jaffer se voorganger. [In die ou Suid-Afrika was daar amptelik, soos dit (seker) hoort, net twee geslagte. Deesdae is daar drie geslagte en binne hierdie nuwe groep ‘n multi-geslagtelike verskeidenheid. Die letterwoord is LGBT (lesbian, gay, bi-sexual, transgender). Die hans-African-American Jansen bemagtig diesulkes met LGBT-byeenkomste op die kampus.]

Die bedenklikste is egter wanneer soortgelyke onwaarhede deur blanke Afrikaanssprekendes die wêreld ingestuur word. Die resultaat is immers die bevoordeling van swartes en die benadeling van blankes. Pas het Jan Taljaard in sy paslik getitelde rubriek, “Lunsriem” (iets wat vuil of smerig is), met die volgende twee sinne as bladsyvuller vorendag gekom: “Jan van Riebeeck het nie Eskom gebreek nie, maar kan seker pa staan vir die ry amandelbome wat hy geplant het om rasse uitmekaar te hou. Al was sy verklaarde doel daarmee om veediewe hok te slaan” (Rapport, Weekliks, 5 deser, p 15). Dit is blykbaar Taljaard se polities korrekte manier om Van Riebeeck-dag (6 April) te gedenk.

Kyk wat skryf oud-Broeder Willie Esterhuyse in sy boek, Eindstryd (Kaapstad: Tafelberg, 2012):

“Meneer Badenhorst, my onderwyser in geskiedenis, het gesê daar was destyds twee grense. Die een was aangeplant deur Jan van Riebeeck; die ander een was natuurlik: die berge in die groot kom langs die baai” (p 284). “Die onderhandelingsproses hardloop na 1 April 1993 soos ‘n sneltrein. Swart meerderheidsregering word onafwendbaar. Die res is geskiedenis, met die verkiesing in April 1994, ‘n jaar ná die hervatting van die proses, dié groot gebeurtenis in Suid-Afrika se droewe geskiedenis, ‘n ‘skarnier-datum’ na ‘n totáál ander politieke bedeling sedert April 1652, toe Jan van Riebeeck hier in die Kaap geland het en daar ‘n fort gebou en heinings geplant is om die ‘barbare’ uit te hou” (p 300).

Esterhuyse se entoesiasme vir swart oorheersing blyk baie duidelik. Dit is die enigste twee verwysings na Van Riebeeck in sy boek. Esterhuyse se houding spreek boekdele: Van Riebeeck moes liewer nie ‘n fort gebou en ‘n heining geplant het nie; die wittes moes eerder vroeg-vroeg almal uitgemoor gewees het. Maar leef Esterhuyse self sonder heinings, diefwering, alarms, lewens- en eiendomsversekering?

Pleks van sonder meer te aanvaar wat ‘n naïewe teoloog-filosoof en daarby een van die mees verloopte Afrikaners, naamlik Esterhuyse, skryf, behoort ons ons eerder te verlaat op twee hedendaagse geskiedkundiges, Dan Sleigh en Francois Verster. Hulle is professionele argivarisse wat hierdie onderwerp in die staatsargief in Kaapstad nagevors het. Sleigh is ‘n deurwinterde Afrikaner in murg en been. Laat my asseblief toe om ‘n paar minute van my heiningtema af te wyk en aan te haal uit Sleigh se boek, Wals met Matilda (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 399p), sodat u die verskil tussen die skryfwerk van ‘n verloopte Afrikaner (Esterhuyse) en dié van ‘n ware Afrikaner (Sleigh) kan sien. Sleigh se politieke waarnemings is myns insiens van die hoogtepunte in sy roman.

“Tussen hulle is die oudpolitici maklik om te herken van hulle dae aan lamppale, maklik om te vergeet, moeilik om te vergewe, minder opreg as hulle honde” (p 23). “Parlementslede verkies deur halfgeletterdes wat stem oor dinge waarvan hulle geen begrip het nie” (p 27). Robbeneiland het “‘n sleg versorgde apartheidsmonument en propagandakantoor van die [ANC-] Party” geword (p 37). “Reg voor ons is Robbeneiland, ons regering se poging tot ‘n toeristiese klaagmuur” (p 90).

Skaapboerdery het in Australië vinniger vordering as in Suid-Afrika gemaak “omdat hulle nie ons moeilikheid soos roofdiere en inboorlinge gehad het nie” (p 57). Dáár is die klein getal inboorlinge geleer: “Niks vir niks, anders wil hulle alles verniet hê” (p 279). “Bedags was die Spaanse merino’s in die veld met ‘n herder om te sorg dat hulle nie met Koina-skape verbaster nie” (p 301). “Onthou altyd, by hond, skaap, perd en mens: bloed tel” (p 189).

“Hy vind die gewoonte van volksliedere vóór rugby belaglik … Hy hou van goeie voetbal, maar die gesanik irriteer hom; ‘n onmusikale lied met onsinnige woorde geskryf deur mense wat niks van voetbal weet nie vir mense wat niks van musiek weet nie. Wat in godsnaam het dit met die wedstryd te doen? … Hy vra wat ek van Suid-Afrika se nuwe volkslied dink. Hulle s’n, nie myne nie, sê ek. ‘n Onsimpatieke sameflansing … Ek hoor julle [Australiërs] verkies ‘Waltzing Matilda'” (p 126-127).

Die kostelikste en tragiesste dialoog handel oor die veldblomtuin wat die hoofkarakter se vrou in die duine by die see gevestig het. Op ‘n dag, toe hulle nie gestaak het nie, kom ‘n hele leërskare munisipale werkers daar aan om ‘n verskil te maak. “‘Dees is wheets, de four man order us, I mus’ cut him … I mus’ cut him. Four man she order us’ … Sy het besef die wêreld waarvoor sy leef bestaan nie meer nie” (p 46-47). “Eendag … as ons die land teruggekry het, maar daar gaan geen eendag wees nie” (p 269).

“Alles verander agteruit” (p 54). “Noudat [Universiteit] Stellenbosch tot niet gaan” (p 89; ook p 375, 390). “Ons is almal op ons eie en alleen” (p 144). “Dit is ‘n snaakse land. Die gevaarlikes speel grootmeneer, die goeies vlug voor die gereg” (p 254). Daar is die geval van ‘n man wat daagliks gratis kos geneem het “met die bussie na twee bewaarskole in die swart woonbuurt. Toe eendag skiet hulle hom dood en steel die kombi” (p 321).

Tot so ver Dan Sleigh se roman. Oor Van Riebeeck se heining het Fancois Verster onlangs sy mening en dié van Sleigh saamgevat in die weeklikse koerant, Bolander, onder die opskrif, “Waarom ‘n goeie storie met feite bederf?” (1 April, p 4). Die res van wat hier volg, is die volledige teks van Verster se rubriek.

“Onwaarhede wat gereeld deur onkundiges aan liggelowiges verkondig word … Iets in die[r] voege omskryf die term ‘mite’. In hierdie rubriek is al oor mites geskryf, ook oor spesifieke mites, soos die offisieel-beskryfde mites oor ‘Van Riebeeck se heining,’ al twee jaar gelede. En nou is dit wéér nuus, veral op die internet, oa op Facebook. So, laat ek dit kategories stel: Daar. Was. Nooit. So. ‘n. Heining. Nie. Maar, hoe weet ek dit? Want soos enigiemand anders wat die moeite wil doen, kan ek in die staatsargief in Roelandstraat in die dokumente van ‘Van Riebeeck se Tyd’ gaan oplees. Dis nou ‘n tyd toe niemand van apartheid gehoor het en niemand in sulke onderdrukkende maatreëls belang gestel het nie.

“Soos dr Dan Sleigh, wêreld-beroemde VOC-kenner dit al telkemale uitgestip het, het Van Riebeeck gepoog om ‘n heining op te rig – nie om mense uit te hou nie, maar wel beeste en wilde diere, sodat die graan nie vertrap word en die nedersetting dan ‘n broodtekort sou ondervind nie. Hoe weet ons dit was nie om rassisties te wees, soos op ‘n gedenkplaat in Kirstenbosch beweer word nie? Omdat daar juis toe al vrede tussen die Khoi en Europese nedersetters was (1660) en omdat die mens, anders as (vier-voetige, nie-klimmende) herbivore, maklik tussen kreupelhouttakke kan deurklim.

“As Van Riebeeck dan probleme met die Khoi wou veroorsaak, kort nadat vrede gesluit is, was hy inderdaad onnosel én so rassisties as wat sekere politici deesdae beweer. Nie net dit nie, dan … [was hy] ook moedswillig, met ‘n selfvernietigingsdrang, want sy uitdruklike bevele was om vrede te handhaaf en hom by sy doelstellings van handel, voedselvoorsiening en die verpleging van siek matrose te hou. Nie net het Van Riebeeck dus gefaal om ‘n heining suksesvol aan te plant nie, sy beweegredes was nie so interessant of boos soos aktiviste voorgee nie.

“Hoewel hulle en die lui of oneerlike joernaliste wat hierdie leuen versprei nie verantwoordelik is vir die ontstaan van die mite nie, maar wel die botanis, ene professor RH Compton, wat ‘n paar wilde amandelbome (L Brabeium stellatifolium) in sy agterplaas gevind het in 1936. Hy laat toe die plek as gedenkwaardigheid verklaar. Dit, terwyl daardie gebied reeds ‘n beskermde area was. Prof Compton het die plantjies die ‘oorblyfsels van Van Riebeeck se Heining’ genoem. En sedertdien is dit ook die amptelike naam van die heining waarvan, sover mens uit geskrewe bronne kan vasstel, niks meer oor was teen die eerste Britse besetting van die Kaap in 1779 nie.

“Tog staan daar op die gedenkplaat dat die plante wat nog daar is, in 1666 deur kommandeur Van Riebeeck geplant is. Op die huidige kopie van die plaat (die oorspronklike koperweergawe is gesteel) staan ook geskryf dat die heining ‘n ‘symbol of exclusion’ is. Dis egter onwaar – eerstens is dit nie die heining wat destyds aangeplant is nie, maar slegs voorbeelde van die natuurlike plantegroei teen die berghange (amandels is daar eeu[e] lank deur die Khoina-nomade geoes en gebraai – heerlike lekkernye).

“Wilde amandels groei nie ondertoe na die Vlakte nie, want dis te sanderig en juis daarom moes die plantjies met groot moeite daar gepant word – en aanvanklik beskerm word teen herbivore en dies meer. Soos veewagters moes die plantjies toe bewaak word, maar tevergeefs. En hier is die kersie op die koek: die sterk Kaapse winde het die plantjies letterlik doodgewaai, terwyl dit te veel moeite en onkoste geverg het om die plantjies te besproei.

“Dr Sleigh, wat onlangs wéér hieroor by SASNEV (SA Sentrum vir Nederland en Vlaandere, in Pinelands) gepraat het, is oortuig dat daar geen bewyse is of die bome wat prof Compton ontdek het aangeplant is nie, maar indien wel, dit ‘n (latere) boer se heining kon gewees het, want draadheinings is eers sedert die 1860s in Suid-Afrika gebruik. Terloops, die amandelpitte is deur ‘n span Franse skipbreukelinge geplant – nie deur Van Riebeeck self nie, maar wel op sy bevel.

“Dr Sleigh beweer: ‘Omdat Van Riebeeck verwag het dat hulle ná ontkieming vyf of ses jaar sou neem om tot ‘n doeltreffende heining te groei, was ‘n tussentydse heining nodig. Daarom is die Liesbeek se walle steil afgesteek, ‘n takheining gepak en ‘n paalheining van sowat 3 km (waarskynlik van geelhout) getimmer. Die totale [paal- en amandel-] omheining was 13.4 km lank. Dit het ook Van Riebeeck se eie plaas, Bosheuwel, ingesluit.’

“En dit kan ook in talle argiewe en boeke daaróór gelees word. Ons hoef nie daaroor te spekuleer óf mites te skep nie.

“Nagedagte: Die naam Rondebosch het verwys na ‘n digte doringbos wat in Van Riebeeck se tyd op die wal van die Liesbeekrivier gegroei het. Die doringbos is in die middel uitgekap en daar is ‘n opening gemaak wat met ‘n hek gesluit het. Sodoende kan die polities-strydvaardiges dit eerder as erg diskriminerend bestempel?”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.