Vegvliegtuie van ’n Saoedi-geleide koalisie het die Al-Anad-lugmagbasis in die suide van Jemen Dinsdagnag aangeval. Die lugmagbasis is in die omgewing van die hawestad, Aden.
Saoedi-Arabië en vier ander Arabiese Golfstate saam met streeksbondgenote is die afgelope twee weke gewikkel in lugaanvalle teen Houthi-magte, wat Jemen se hoofstad, Sanaa, beheer en veg om beheer oor Aden oor te neem, her Reuters berig.
Ondanks swaar bombardering van hul konvooie en wapenopslagplekke, het die Iran-gesteunde Houthi’s daarin geslaag om hul pad tot binne die sentrale gebied van Aden oop te veg. Aden is die laaste vesting van die vegters lojaal aan die Saoedi-gesteunde pres. Abd-Rabbu Mansour Hadi.
Suidelike vegters met die steun van Saoedi-geleide vegvliegtuie, het daarin geslaag om die Houthi’s plek-plek in sommige suidelike provinsies terug te dwing.
Die Al-Anad-lugmagbasis, wat oornag aangeval is, is ongeveer 50 kilometer noord van Aden, op die hoofroete noord van die hawestad geleë. Soldate lojaal aan die vorige president, Ali Abdullah Saleh, wat ’n alliansie met die Houthi’s gesluit het, is egter steeds in die basis teenwoordig.
Volgens amptenare is nog lugaanvalle teen Houthi-posisies in die dorp, Dhalea, noord van Aden, uitgevoer.
Die hoofstad, Sanaa, wat die afgelope nagte onder swaar bombardemente deurgeloop het en waarin Houthi-posisies en stoorpolekke van ammunisie geteiken is, was volgens inwoners Dinsdagnag redelik stil.