PRAAG kontak UNESCO oor skending van standbeelde, erfenis

Deel op

PRAAG het vandag die Verenigde Nasies se kulturele liggaam in Parys, UNESCO, gekontak met die oog daarop om ‘n klag teen die Suid-Afrikaanse regering wat die skending van die Afrikaner-erfenis toelaat, in te dien. “Ons versoek UNESCO om tussen ons en die ANC-regering te bemiddel, wat hom blykbaar as ‘n militêre besetter van Afrikaner-erfenisstrukture en -monumente beskou,” sê dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. “Ek is besig om ‘n brief in Frans aan UNESCO te rig waarin ons ook die dringende ingryping van dié liggaam, soos vir die konflikgebiede in die Midde-Ooste, versoek ten einde verdere beskadiging van ons erfenis te verhoed.”

Hoewel dit daaroor gaan om die krisis rondom Afrikanerstandbeelde te hanteer, wil PRAAG ‘n meer omvattende oplossing hê waarmee die sorg van museums, biblioteke en argiewe aan Afrikaners oorgedra kan word.

“Die ANC en SAKP, wat ons in 1994 verower het, het geen erg aan ons erfenis nie en staan vyandig daarteenoor. Vele historiese Afrikanergeboue word deur die ANC beset, beskadig of misbruik, wat strydig met internasionale konvensies is. Ook word standbeelde geskend weens die heersende ideologie dat ons weens ons ras nie ‘inheems aan Afrika’ is nie, asook die algemene vyandigheid teenoor Afrikaners en Afrikaans,” sê Roodt. “Dit gaan om meer as die standbeelde. Alle museums, biblioteke en selfs nie-tasbare elemente van ons erfenis is ter sprake. Ons het die reg dat ons erfenis vir die nageslag bewaar sal bly en dit nie verwaarloos of beskadig sal word nie.”

PRAAG is insgelyks bekommerd oor Afrikaanse skrywers en kunstenaars wat van die kulturele lewe van die land en veral van kampusse en kunstefeeste uitgesluit word, om etniese en ideologiese redes. “Daar word beslis teen ons gediskrimineer,” sê dr. Dan Roodt. “As die ergste krisis rondom die standbeelde afgeweer is, bestaan daar internasionale meganismes om diskriminasie teen Afrikaanse kunstenaars te hanteer, of geskille daaroor te besleg.”

Die organisasie is tans ook besig met ‘n hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat verseg om met hom in Afrikaans te kommunikeer. “Ons sal seker vroeg aanstande week die dagvaarding om die MRK beteken,” sê Roodt. “Ons sal seker in ‘n Engelse hof moet gaan staan, maar al moet ons uiteindelik ‘n internasionale tribunaal of organisasie betrek, sal ons dit nie aanvaar dat ons taal tweederangs is of dat ons tweederangse burgers is nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.