Boendoeregter pak Steve Hofmeyr by KKNK

Deel op

Steve Hofmeyr word verbied om in Oudtshoorn op te tree, maar sy handelsmerknaam word uitgebuit om kaartjies te verkoop vir ‘n boendoehof wat tans in sy afwesigheid plaasvind by die KKNK.

Prof. Pierre de Vos, ‘n giftige anti-wit aktivis wat homself voordoen as ‘n grondwetkenner, het onder meer sonder ironie verklaar dat dit nie op sensuur neerkom om Hofmeyer te verbied om op te tree nie.

Die gehoor kon klaarblyklik nie fout vind met dié onsinnigheid nie, ‘n aanduiding van die lae vlak van gesprekvoering by die “debat”.

Die Burger se absurde aanbieding oor “vryheid van spraak” by die sukkelende kunstefees veronderstel ook dat diegene wat reeds geen vryheid het om op te tree nie, ook nie hulself in die openbaar mag verdedig teen kwaadwillige aanvalle van die mediamonopolie nie.

De Vos was een van die paneellede van die boendoehof. Terwyl hy openbare sensuur as sy eie persoonlike voorreg voorgehou het, het hy ook verklaar dat Hofmeyr nie in staat is om ‘n “redelike” debat met hom te voer nie.

Dat Hofmeyr verhoed word om dit te doen, het die “kenner” blykbaar nie opgeval nie.

Duisende mense wat nie meer kans sien vir die KKNK-klug nie het intussen Hofmeyr se boodskap op Facebook ondersteun waar hy ‘n oproep om eenheid teen dié ongeregtigheid gedoen het: “Ek staan op vir julle. Wie sal saam my staan!?”

Die Burger-gespreksreeks het weereens die gehoor se vrees vir swartes uitgebuit. Daar is onheilspellend gevra of kunstenaars volle vryheid het om “enigiets” op die verhoog te sing of te sê. Daarmee is eintlik bedoel of dit iets mag wees wat ongelukkigheid by swartes mag veroorsaak en wat hulle tot verdere geweld sal dryf.

Talle in die gehoor het instinktief op hul vrees vir swart geweld gereageer en Hofmeyr verkwalik daarvoor in ‘n klassieke geval waar die boodskapper en nie die boodskap nie, aangeval word.

Die “grondwetkenner” het dié opsetlike denkfout aangemoedig met herhaaldelike skerp persoonlike aanvalle teen Hofmeyr.

“As ek besluit dat ek nie vir Steve uitnooi na ’n braai nie, het dit nie eintlik ’n effek nie, behalwe dat ek nie na Neil Diamond-covers hoef te luister nie,” het De Vos sarkasties, uit die hoogte, verklaar.

Die Burgerreeks se organiseerders was duidelik ten gunste van sensuur om “kunstenaars wat omstrede politieke uitlatings maak”, dws diegene soos Hofmeyr wat kwelvrae oor swart geweld opper, nie uit te nooi nie.

Lede van die gehoor en die drie paneellede het daarna ‘n versiersuikerlagie op hul onverkwiklikhede teen Hofmeyr se eerlike taksering probeer smeer.

Hofmeyr het Dinsdag gesê De Vos het in dié “dwepende KKNK-gesprek” versuim om te noem dat nóg sy uitspraak nóg sy twiet aan rassisme “skuldig bevind” is.

“Hoe weet ek dit, Pierre de Vos? Want ek sing steeds elke aand in die geselskap van tientalle borge en institusies wat my klaarblyklik onskuldig bevind het,” het hy geskryf.

Hy meen De Vos, die feesraad en “hierdie linkse kangaroe-hof” het geen oordeel aan die publiek oorgelaat nie. “Dis hierdie reg wat onse grondwetkenner van jou, die feesganger en die publiek weerhou omdat hulle jou sien as onoordeelkundig en nie opgewasse genoeg vir jou eie oortuigings nie.”

As komediante op die fees “laakbare, godslasterlike, seksistiese drek” kwytraak, word daar anderpad gekyk en dit as “konteks” afgemaak, meen hy.

“Maar my konteks word my ontneem: my konteks is natuurlik die ‘waarheid’, wat oënskynlik taboe geword het in die na­sionale narratief.”

Hofmeyr het sy gehoor en die boendoeregters daaraan herinner dat “nie een enkele persoon nog ooit gewelddadig geraak [het]. . . na aanleiding van die sing van ‘Die Stem’ nie”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.