Opperstamhoof Victor Lekhuleni is Dinsdagaand in Mamelodi-Wes, naby Pretoria, doodgeskiet, het Netwerk24 berig.
Lekhuleni het vroeër vanjaar die reusegrondeis wat talle gebiede in Pretoria raak, by die grondeisekommissie ingedien.
Die eis raak sowat 400 erwe, nege plase en verskeie kerke, skole en sakeondernemings van die noorde tot die ooste van Pretoria.
Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het die voorval gister bevestig en gesê geen bykomende inligting is beskikbaar nie.
Lekhuleni (48), opperstamhoof van die Mkwaduba van die Bakgatla ba Lekhuleni-stam, het beweer sy mense is in die laat 1950’s tot vroeë 1960’s deur die polisie van die plaas Franspoort, wat die genoemde dele insluit, verwyder.
Dié Ndebele-stam het glo ook sy inisiasieskole daar bedryf.