Gyselnemers skiet Turkse aanklaer dood

Deel op

Polisiemanne van Istanboel het die sentrale hof laat Dinsdagmiddag ­bestorm en twee mense dood­geskiet wat nege ure vroeër in die gebou ­ingebreek het om ’n aanklaer ­gyselaar te neem.

Die aanklaer het ’n ­sterfgeval verwant aan anti-regeringsoptogte in 2013 ondersoek, het DPA berig.

Istanboel se polisiehoof, ­Selami ­Altinok, het bevestig dat twee ­mense dood is. Hy het gesê die ­polisie het ses ure met die ­gyselnemers ­onderhandel

Hulle het die hof bestorm toe ­hulle geweerskote uit die aanklaer se ­kantoor gehoor het.

Turkye se eerste minister, Ahmet Davutoglu, het laat Dinsdag ­aangekondig dat die aanklaer in die ­hospitaal aan sy wonde beswyk het. Davutoglu het sy simpatie met die familie uitgespreek en die ­gyselaardrama ’n aanval op Turkse reg en demokrasie genoem, het die nuusagentskap Anadolu berig.

Die twee gyselnemers het hul verbintenis met die ­militante groep DHKP-C erken, wat op sy ­Facebook-blad gedreig het om die aanklaer dood te maak. Op die blad is foto’s geplaas van die aanklaer wat gewurg word.

Die groep het op sy ­Facebook-blad geëis die polisieman wat ­verantwoordelik is vir die dood van Berkin Elvans moet ­geïdentifiseer word en dat alle ondersoeke ­rakende die ­betogers gestaak word.

Die 15-jarige Berkin is tydens ­optogte van 2013 met ’n ­traangaskan teen die kop raakgegooi en het nooit weer sy bewussyn herwin nie. Hy is in Maart 2014 dood. Daar was geen vordering in die ondersoeke na sy dood nie.

Berkin se pa, Sami Elvan, het op Twitter gesê hy wou nie hê dat ­enigiemand moet seerkry nie. “Ek wil net ’n regverdige verhoor hê,” het hy getwiet.

Die gyselaarsdrama het begin toe twee mense hul weg na die aanklaer se kantoor op die sesde vloer van die gebou gevind het, het Altinok aan Turkse media gesê. Die voorval het tydens ’n kragonderbreking in ­Istanboel plaasgevind.

Die optogte het in 2013 plaasgevind.

Intussen het twee mense – gewapen met gewere en in minstens een geval, met ‘n bom – die stad se polisie-hoofkwartier Woensdag aangeval, het Turkye se staatsbeheerde uitsaaier berig.

Een van die aanvallers, ‘n vrou met ‘n bom, is gedood toe die polisie op die aanvallers losgebrand het, volgens TRT.

Die tweede persoon het aanvanklik gevlug voordat hy opgespoor is. Hy het ligte beserings opgedoen. ‘n Polisiebeampte is ook beseer in die voorval.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.