Motoriste in die Wes-Kaap sal drie keer meer tolgeld moet betaal as in Gauteng vir Sanral se beplande N1- en N2-Wynland-tolprojek.
Die Kaapse stadsraad en Sanral se geding oor geheimhouding wat die tolprojek betref, is in die appèlhof in Bloemfontein openbaar gemaak.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vroeër beslis dat die inligting geheim gehou kan word, maar dit is Maandag tersyde gestel.
Die voorgestelde toltarief vir ligte voertuie is 84,59 c/km, terwyl dit 30c/km in Gauteng is. Die Gautengse e-tolstelsel se tariewe vir ligte voertuie is beperk tot R450 per maand, terwyl dit nie in die Wes-Kaap is nie.
‘n Kaapse burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het gesê die besluit om die tolprojek in die Wes-Kaap te verklaar is deur die uitvoerende hoof (van Sanral), Nazir Alie, geneem en nie deur die Sanral-komitee soos die wet voorskryf nie.
Hy het gesê Sanral sal ook belastingbetalers se geld gebruik om die verwagte inkomste van die Protea Parkways-konsortium te verseker.
“Dit is duidelik dat die lae inkomstegroepe nie in ag geneem is nie. Arm mense sal glad nie kan bekostig om die N1 en N2 te gebruik nie. Die negatiewe ekonomiese impak op die streek is nie in ag geneem nie. Die uitwerking wat dit op die vervoerkoste van landbouprodukte gaan hê, is erg,” het hy bygevoeg.
Wayne Duvenhage, voorsitter van die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) in Gauteng, het die appèlhofuitspraak as “fantasties” bestempel.