Die Franse ondersoekagentskap BEA, wat veiligheidsmaatreëls ondersoek wat tot die vliegramp kon gelei het, het die week gesê hulle fokus op die Germanwings-stuurkajuit se sluitmeganisme sowel as psigologiese evaluerings.
BEA probeer om die geskiedenis van die vlug te herkonstruktureer van die stuurkajuit se stemopnemer, een van die twee vlugopnemers wat dusver gevind is. Die tweede vlugopnemer, die vlugdata-opnemer, word steeds vermis.
“Die veiligheidsondersoek sal fokus op die stuurkajuitdeur se sluitmeganisme en stuurkajuittoegang- en uitgangprosedures, asook die kriteria en prosedures om spesifieke psigologiese profiele op te spoor,” het die BEA in ’n verklaring gesê.
Volgens Franse aanklaers het die medevlieënier, Andreas Lubitz, met opset die vliegtuig in die berg ingevlieg nadat hy die kaptein uit die kajuit gesluit het. Lufthansa is die moedermaatskappy van Germanwings.
Duitse aanklaers sê Lubitz was onder behandeling van sielkundiges en neuroloë. Hy het siektebriewe wat hom ongeskik verklaar het vir vlieg, glo opgeskeur.
Internasionale lugdienste het intussen ‘n minimum van twee mense in die stuurkajuit as ’n tussentydse maatreël geïmplementeer. Lufthansa is genoop om ’n nuwe pos van groepveiligheidsvlieënier te skep.
Die Europese versekeringsreus Allianz sal die skadevergoeding vir die ramp dek.