Kommer oor Chinese vlootbasis in Namibië

Deel op

’n Hoëvlak militêre afvaar­diging uit China onder leiding van dié land se minister van ver­dediging, genl. Chang Wanquan, is in Namibië om die twee lande se bi­laterale samewerking op militêre gebied te verstewig.

Die besoek kom midde kommer in die internasionale gemeenskap oor hardnekkige gerugte van ’n Chinese vlootbasis wat by Walvisbaai opgerig gaan word, het die Republikein berig.

’n Namibiese dagblad het in Januarie berig Namibië se ambassadeur in China, amb. Ringo Abed, het die voormalige minister van buitelandse sake, me. Netumbu Nandi-Ndaitwah, in kennis gestel “’n Chinese afvaardiging sal Namibië ná 21 Maart besoek vir samesprekings oor die pad vorentoe rakende planne vir die ­voorgestelde vlootbasis in Walvisbaai”.

The Namibian het na aanleiding van ’n geheime dokument in sy besit berig die afvaardiging sal “tegniese personeel en vloot-argitekte” insluit.

Intussen het die AFKInsider Sondag ook oor die voorgenome besoek berig en ’n Amerikaanse kenner van buitelandse beleid in nasionale veiligheid, Robert C. O’Brien, aangehaal wat sê dit wil voorkom asof China se “strategie van vlootbasisse soortgelyk aan ’n string pêrels oral in die Indiese Oseaan, nou na die Suid-Atlantiese gebied wil uitbrei”.

O’Brien waarsku dat indien die gerugte van ’n Chinese militêre basis langs die Namibiese kus waar is, dit “reuse- strategiese implikasies” vir die Weste inhou.

Genl. Chang het gister by Staatshuis aan pres. Hage Geingob gesê hy is vergesel van onder meer die politieke kommissaris van die Chinese vloot, Miao Hua, asook ’n bevelvoerder van dié land se lugmag.

“Die doel van ons besoek is om die belangrike konsensus oor groter militêre samewerking te implementeer waarop tydens u (Geingob) besoek in April verlede aan China ooreengekom is.

“Ons is nou gereed om voort te gaan met die bilaterale reëlings en dit in die toekoms meer produktief te maak.

Beide Namibië en China wil nou hul droom van ’n sterker militêre mag verwesentlik,” het hy gesê en aangekondig dié land gaan wapentuig ter waarde van 30 miljoen yuan (sowat N$58,6 miljoen) aan Namibië skenk.

Hy het verder gesê Namibië en China wil saam aan “’n beter wêreld met blywende vrede” bou. “As ’n ware vriend van Afrika, wil ons die mense van Afrika help om hul probleme op die Afrika-­manier op te los.”

Geingob het in reaksie op ’n vraag oor beweringe in die media dat die besoek met die vlootbasis verband hou, geantwoord: “Ons moet nie ons bestaan op gerugte grond nie. Gerugte kan lande vernietig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.