Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu, gaan sy skorsing uit die vakbondfederasie beveg.
Cosatu se sentrale uitvoerende komitee het gisteraand vergader. Die komitee moes ‘n spesiale vergadering hou om te stem oor Vavi se toekoms.
Die skorsing is nog nie deur Cosatu bevestig nie, maar ‘n mediakonferensie is vir 12uur vanmiddag geskeduleer.
Die vakbondfederasie het ‘n oorweldigende ja-stem vir die afdanking van sy hoofsekretaris uitgebring.
Drie-en-dertig lede het ja-gestem, en een daarteen. Dit volg nadat Vavi geweier het om self te bedank, en aangekondig het dat hy die komiteevergadering sal boikot.
Die komitee het verwag dat Vavi sou kom verduidelik waarom hy die vorige vergadering geboikot het, homself gedistansieer het van ‘n besluit om Numsa te skors, asook interne prosesse en finansies aan die media onthul het.
Vavi se posisie in Cosatu is sedert verlede jaar Augustus in die weegskaal nadat hy aangekla is weens ‘n seksskandaal en beweerde finansiële omgerymdhede met die verkryging van Cosatu se hoofkwartier.
Ná Numsa se skorsing het betrekkinge met Vavi verder versleg. Intussen is ‘n vervanging vir Numsa op die been gebring by name Limusa. Dit bestaan uit lede wat weggebreek het uit die geskorsde metaalwerkersvakbond.
Die stemming gisteraand was ‘n geheime stemming en die komitee het ‘n regsmening ingewin om te sorg dat die proses waterdig is.
Na verwagting sal Vavi dit sterk oorweeg om ‘n nuwe vakbond op die been te bring en Cosatu verdeel.
Die spanning kom al ‘n paar jaar weens die styging in salarisse van staatsamptenare, sogenaamde witboordjiewerkers, wat nie ontevrede met die regering is nie.
Die blouboordjiewerkers in Cosatu, wat minder verdien, werk meestal in die privaatsektor.
Vavi het die afgelope paar jaar lyfwagte aangehou teen wat hy beskou het as ‘n aanslag van Jacob Zuma en Blade Nzimande.
Twee vakbonde wat by Cosatu geaffilieer is het Vavi vroeër skerp gekritiseer. Die mynwerkersvakbond NUM het hom as ‘n desperate lafaard bestempel wat geen verantwoordelikheid vir sy optrede neem nie.
Die polisievakbond Popcru het Vavi daarvan beskuldig dat hy die vorming van faksies aanmoedig en dat hy die drieparty-alliansie wil opbreek.