Eskom se Tsotsi bedank

Deel op

Die voorsitter van Eskom se raad, Zola Tsotsi, het bedank.

Die voorsitter van die Landbank en voormalige raadsvoorsitter van die SAUK, dr Ben Ngubane sal as voorsitter van Eskom waarneem ná die bedanking van Zola Tsotsi.

Eskom het na ‘n laatnagvergadering bevestig dat daar ooreengekom is dat Tsotsi in belang van die maatskappy en die land, bedank.

Tsotsi is daarvan beskuldig dat hy onbehoorlik opgetree het. Hy het vroeër die maand vier senior uitvoerende lede, insluitende Eskom se bestuurshoof, Tshediso Matona, geskors.

Eskom sê in ‘n verklaring die besluit oor Tsotsi se bedanking is geneem sodat die raad kan fokus op die toekoms en dringende kwessies wat aandag moet kry. Die kragvoorsiener het gesê dat die besluit vriendelik geneem is.

Ngubane het Tsotsi bedank vir sy diens aan die kragvoorsiener die afgelope jare.

Tsotsi se bedanking kom te midde van ‘n ondersoek na bewerings van wangedrag wat teen kom gemaak is.

Intussen het Eskom berigte ontken dat daar vir ‘n landwye kragineenstorting voorberei word.

‘n Energie-ontleder, Chris Yelland, sê totdat die bykomende kragstasies voltooi is, sal beurtkrag voortduur.

Die verskaffer sê die energievoorraad bly steeds onder druk, wat die rede is waarom hy ‘n simulasie-toets gedoen het genaamd, Exercise Breaking Dawn.

Sommige media het berig dat dit ‘n aanduiding is dat die maatskappy homself staal teen ‘n onafwendbare krisis.

Die Presidensie het intussen groot kommer uitgespreek oor opmerkings in die Mail en Guardian verlede week wat aan Tsotsi, toegedig is.

Volgens die koerant het Tsotsi gesê hy het ‘n opmerking deur die president by ‘n sosiale geleentheid, dat hy na goeddunke moet handel rakende Eskom, as ‘n opdrag vertolk.

Die Presidensie sê in ‘n verklaring die betrokke minister sal besluit of ‘n saak onder die president se aandag gebring behoort te word, en hom dan daaroor inlig. Besluite word deur die monister geneem en nie die president nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.