Zuma-familie ontken dat hulle in weermag-helikopters reis

Deel op

Die presidensie het Sondag ontken dat pres. Jacob Zuma se familie van weermag-helikopters gebruik maak om tussen Durban en Nkandla in KwaZulu-Natal te reis.

“Die presidensie verwerp die bewerings wat vandag in die City Press gemaak is,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, in ʼn verklaring gesê. “Die president se reisreëlings word deur die presidensie getref en dit word duidelik gestel dat die vliegtuig of helikopter bespreek word vir sy gebruik.”

Volgens hom het die Suid-Afrikaanse Lugmag ook die presidensie in kennis gestel dat geen so misbruik van die helikopters plaasgevind het nie.

“Die presidensie verwerp die ongegronde en kwaadwillige bewerings in City Press en die departement van verdediging het ons in kennis gestel dat daar geen waarheid in die gerug steek nie, maar die koerant het dit steeds gepubliseer,” het Maharaj gesê.

“Die presidensie is besorg oor die blatante verslaggewing van so onwaarheid, en die doel kan slegs wees om by te dra tot die stereotipering van die president en sy familie.”

Die City Press het Sondag berig dat die lugmag die bystandhelikopterdiens opgeskort het wat vir Zuma se familie en vriende tussen Durban en Nkandla gebruik is.

Die Oryx-helikopter van 15 Eskader, wat gewoonlik saam met Zuma se weermagondersteuning vlieg, is opgeskort weens ʼn gebrek aan fondse, volgens berigte.

Die koerant het berig dat bronne gesê het die spesialeondersoekeenheid het die beweerde misbruik begin ondersoek.

Volgens die berig is die bystand-Oryx, waarvoor die presidensie R63 000 per uur aan die weermag betaal in plaas van die gewone R70 000 kommersiële tarief, glo gebruik deur familie en vriende in plaas van veiligheidspersoneel.

Zuma se lyfwagte is glo ‘n “paar keer” gedwing om die reis van drie ure te onderneem.

Die presidensie het gister gesê Zuma se familie het nie alleen militêre helikopters gebruik om te reis tussen Durban en Nkandla nie.

‘n Eggenoot of kind mag saamvlieg indien die president self per helikopter reis, maar nie alleen nie.
 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.