Die vakbondfederasie Cosatu, is op sy knieë te midde van gerugte dat die omstrede voorsitter, Zwelinzima Vavi, sy bedanking ingedien het.
Vroeër is ook berig dat Cosatu finansieel diep in die moeilikheid is en sekere bedrywighede sal moet sluit. Vavi sê Cosatu loop die risiko om binnekort sy onafhanklikheid te verloor.
Vavi het Sondag tydens ‘n mediakonferensie egter gesê hy gaan nie bedank nie, en het die komitee uitgedaag om hom af te dank.
Dié stelling kom voor ‘n vergadering van die vakbondfederasie se uitvoerende komitee vandag om oor Vavi se lot te beslis.
Die vakbond se adjunk-hoofsekretaris, Carl Cloete sê Vavi moet deur ‘n verkiesingskonferensie vervang word, aangesien sy ampstermyn eers in September 2016 verstryk. Cloete sê Vavi het ‘n mandaat ontvang van afgevaardigdes wat vir hom gestem het.
Vavi het intussen bevestig dat hy nie die vergadering sal bywoon nie.
Die metaalwerkersvakbond, Numsa sê die hoofsekretaris van Cosatu hoef nie te bedank nie.
Vavi sê die skorsing van die metaalwerkersvakbond, Numsa, het ‘n negatiewe invloed op Cosatu se finansies en sy werknemers moes die afgelope twee maande uit die organisasie se politieke fonds betaal word.
Hy sê dié fonds kan binnekort uitgeput wees.
Numsa het maandeliks sowat elf miljoen rand tot Cosatu se koffers bygedra.