Marine Le Pen kán Franse president word – Le Figaro

Deel op

Ondanks die feit haar party gister tydens die tweede ronde van departementele verkiesings nie daarin kon slaag om een van Frankryk se 96 departemente  in te palm nie, meen ‘n invloedryke koerant dat Marine Le Pen wel president kan word. Die redakteur van Le Figaro, Alexis Brézet, skryf vanoggend in ‘n ontleding van gister se verkiesing dat gister se sukses deur die sentrum-regse UMP van Nicolas Sarkozy “te danke is aan die kiesstelsel wat oorspronklik bedink is om die Front National uit hou”.

Hoewel die Front National in vele kiesafdelings die meeste stemme ontvang het en verskeie kantons ingepalm het, kon hy vanweë die stelsel nêrens ‘n departement verower nie. Die Sosialistiese Party van president Francois Hollande, wat reeds sedert die tweede wêreldoorlog die linkse blok in Frankryk aanvoer, het skouspelagtig teruggesak. Die regse partye het voorheen 40 departemente beheer, dog het gister ten minste 67 ingepalm. Die linkses beheer nou slegs 34 departemente, iets wat blykbaar ook die Sosialistiese Party se finansies ‘n erge knou gaan gee aangesien partye ook fondse van die departemente verkry.

Die Kommunistiese Party, wat voorheen twee departemente beheer het, het een verloor en beheer nou slegs die Val-de-Marne-departement, waarvan die vorige charismatiese leier, Georges Marchais, afkomstig is.

50,01 % van Franse het gister buite stemming gebly, aangesien departementele verkiesings gewoonlik nie groot getalle kiesers trek nie. Slegs een departement het van regs na links gekantel, terwyl die sentrum-regse koalisie nie minder nie as 28 van die linkses afgerokkel het, waaronder die Bouches-du-Rhône, ‘n departement wat reeds sedert 1953 as ‘n linkse bastion gereken word.

Die Front National het tussen 43 en 47 kantons verower, wat beteken dat die party nou ook op departementsvlak sterk verteenwoordig is en dat hy verdere verkiesingsfondse van die staat sal ontvang. Voor die verkiesing is voorspel dat Marine Le Pen se party moontlik die departemente van Vaucluse et Aisne kon verower, maar dit het nie geluk nie. Die parlementêre ster van die party en niggie van die leidster, Marion Maréchal-Le Pen is tans die LP vir Vaucluse en sy het gisteraand gesê dat die party slegs enkele honderde stemme kortgekom het om ‘n meerderheid in Vaucluse te behaal.

Le Figaro, wat die sentrum-regse partye ondersteun, se redakteur waarsku egter dat die sukses van die UMP slegs te wyte is aan die “verdeeldheid van die linkses” en geensins aan die gewildheid van die tradisionele sentrum-regse partye toegeskryf kan word nie. Tydens die eerste ronde van die verkiesing ‘n week gelede kon die sentrum-regse partye slegs een derde van die stemme trek, “terwyl kandidate van die Front National, wat dikwels oor geen plaaslike organisasie beskik nie, dikwels die plaaslike ‘hoëlui’ wat al jare lank daar gevestig is, kon ewenaar… Die groei van die FN plaas die UMP in ‘n netelige situasie.”

Ook tydens gister se verkiesing, het sowel die linkse as sentrum-regse partye ‘n “verenigde front” teen Marine Le Pen se party probeer voorhou. In Perpignan het die UMP selfs in ‘n verkiesingstryd tussen ‘n FN- en ‘n Kommunistiese kandidaat, ‘n beroep gedoen om vir die Kommunis te stem. Maar die redakteur van Le Figaro waarsku daarteen om te dink dat die tweede ronde van ‘n presidensiële verkiesing in Frankryk ewe maklik kan afloop en dat die UMP “by verstek” kan wen. Soos in die onlangse roman van Michel Houellebecq, Ondergang, sien Alexis Brézet, ook dat daar dalk nog een keer so ‘n president “by verstek” verkies mag word, alvorens Marine Le Pen die tradisionele partye troef en president mag word.

Die huidige eerste minister, die Sosialis Manuel Valls, het onlangs gewaarsku dat “Links mag uitsterf”. In Griekeland het ‘n Sosialistiese Party ook jare lank geregeer, alvorens hy heeltemal van die toneel verdwyn het.

Frankryk staar verskeie krisisse in die gesig: ná dekades van sosialistiese regering behaal werkloosheid nuwe hoogtes terwyl Moslem-immigrasie ‘n kultuurkonflik in die land veroorsaak het. Voeg daarby die oorheersing van die EU-burokrasie uit Brussel wat volgens die jong strateeg van die Front National, Florian Philippot, “tagtig persent van ons wette maak” en ‘n mens kan sien dat Frankryk se politieke en ekonomiese krisis dringend oplossings verg.

Marine Le Pen het haar party se vertoning in gister se departementele verkiesings as ‘n “manjifieke sukses” beskryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.