‘n Picasso-skildery, wat vermoedelik gesteel is, en ’n Romeinse beeld uit die tweede of derde eeu is in afsonderlike voorvalle teruggevind net voordat dit na New York versend sou word, is berig.
Die Carabinieri, die Italiaanse polisie, se kuns-eenheid het beslag gelê op die skildery wat in 1912 in Picasso se kubistiese tydperk geskilder is. Dit is meer as $16 miljoen werd.
Voorlopige aanduidings is dat ’n inwoner van Rome die skildery na die buiteland wou stuur waar dit op ’n veiling verkoop sou word.
Die polisie probeer nog vasstel hoe dit in sy besit gekom het.
Die eienaar, wat ‘n raamwinkel besit het, het gesê hy het die skildery in 1978 van ‘n bejaarde kliënt as ‘n geskenk ontvang in ruil vir die gratis herstel van ‘n kosbare fotoraam van sy kliënt se oorlede vrou.
Die raammaker het nie geweet dit was ‘n waardevolle Picasso nie, het die polisie gesê, en dit weggepak vir 36 jaar “sonder besondere sorg” totdat hy ontdek het – toevallig, sê hy – dat dit die werk van die Spaanse meester is.