Die de(kon)struksie van die Potchefstroomse universiteitskampus

Deel op

Die mooi klinkende etiket “demokrasie” is eintlik maar net ‘n vyeblaar. Demokrasie is vir die ANC aanvaarbaar slegs omdat die oorgrote meerderheid kiesers swart is.

Deel op

Om te verstaan wat op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) aan die gang is, is dit nodig om, soos in die geval van talle dinge in die nuwe Suid-Afrika, die tragedie van “ons oorgang na demokrasie” te verstaan. Dit is per slot van sake FW de Klerk en sy dwase gideonsbende wat die voortbestaan van hierdie laaste oorwegend Afrikaanse kampus vergiftig het. Omdat De Klerk en sy groepie meelopers die grondslag van een mens, een stem (met elke stem wat gelyke waarde in ‘n eenheidstaat sonder enige minderheidsregte het) mandaatloos vir die nuwe politieke bedeling aanvaar het, is die blanke (en veral die Afrikaner en Afrikaans) tot vertrapping en verswelging deur die politieke mag van swartes verdoem.

Na analogie van gelyke stemreg word daar geredeneer dat almal nou in alle opsigte gelyk is. Met dít as glyplank is daar ‘n sterk neiging om sommer almal wesenlik eenders te verklaar. Weens swartmag word hierdie teoretiese gelyk- en eendersheid egter in die praktyk verwater sodat swartes in groter mate as blankes gelyk en eenders is. Daarvolgens is net swartes Afrikane en broers en susters en word hulle by uitstek vir bevoordeling uitgesonder. Ons het nie demokrasie in die sin dat almal se belange in gelyke mate in ag geneem word nie. Die mooi klinkende etiket “demokrasie” is eintlik maar net ‘n vyeblaar. Demokrasie is vir die ANC aanvaarbaar slegs omdat die oorgrote meerderheid kiesers swart is. Sodanige bestel maak die benadeling van nie-swartes en natuurlik die bevoordeling van swartes deur swartmag moontlik.

Sentralisasie is die metode wat die ANC gekies het om so gou en maklik moontlik verswelging deur swartes en voorkeur vir hulle belange te bewerkstellig. Munisipaliteite is saamgevoeg in supereenhede, dikwels met swart name, op so ‘n manier dat daar genoeg hoofsaaklik nie-swart belastingbetalers is om die hoofsaaklik swart nie-belastingbetalers te subsidieer. Kader Asmal (1934-2011) het as onderwysminister (1999-2004) universiteite en technikons in supereenhede saamgevoeg sodat swartes student- en dosentgewys hoër onderwysinrigtings gouer kon domineer. Dat Asmal hiermee eerder ANC-politiek as die akademie wou dien, blyk uit sy openlike erkenning dat die Universiteit Fort Hare en die Universiteit van Wes-Kaapland hierdie amalgamasieproses vrygespring het omdat hierdie twee inrigtings reeds uitermate hulle ANC-lojaliteit tydens die “bevrydingstryd” bewys het. [Beterweter Asmal was in naam ‘n professor maar nooit ‘n volwaardige akademikus met ‘n doktorsgraad nie omdat hy eerder sy tyd in veral Engeland en Ierland met anti-apartheidsbedrywighede verwyl het.]

Die Asmal-amalgamasieproses was van die grootste onnoselhede wat sedert die onderhandelde rewolusie van 1994 in Suid-Afrika plaasgevind het. Die duidelike verskille tussen universiteite en technikons is geïgnoreer. Die technikons is goedsmoeds “tegnologiese universiteite” genoem. Elkeen van die bestaande inrigtings het steeds ‘n rektor gehad. ‘n Verdere rektor, ‘n superrektor, is by elk van die saamgeflansde inrigtings aangestel. Daar kon kwalik verwag word dat sulke inrigtings meer ekonomies en doeltreffend sou funksioneer. Die teenoorgestelde is eerder die geval. Die superrektore ontvang astronomiese vergoeding; in baie gevalle soortgelyk aan, of beter as, dié van ‘n Zuma-minister. [Die vergoeding van ‘n visekanselier/superrektor behoort aan dié van ‘n professor gekoppel te wees en behoort myns insiens nie meer as 50% meer as dié van ‘n gewone professor te wees nie.] Aan die NWU is daar deesdae “die visekanselier [superrektor], die kampusrektore, die adjunk-visekanseliers … en die kampusse viserektore” (NWU-webwerf 19 deser). Toe Unisa en die Technikon SA (TSA) saamgesmelt het, het die Unisa-dosente stywe verhogings ontvang omdat die TSA-dosente voorheen beter as hulle vergoed is, ens. Maar die eintlike punt is: Inrigtings is bymekaar gedwing wat funksioneel glad nie bymekaar hoort nie.

‘Die PU is dus meer as enige ander universiteit in hart en niere ‘n Afrikaanse universiteit.’

Die Potchefstroomse Universiteit het in 1869 in Burgersdorp as ‘n teologiese opleidingskool vir die Gereformeerde Kerk begin. In 1905 is dit na die Transvaal verskuif, onder meer weens die verengelsingsbeleid in die Kaapkolonie (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 88). Dit het aanvanklik as die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) bekend gestaan. In 1951 het dit die onafhanklike Potchefstroomse Universiteit (PU) geword. Die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) is in 2005 weens Asmal se inmenging vernietig en het die hoofsaaklik Engelsmedium Universiteit Johannesburg geword. Naas die RAU is die PU die enigste universiteit wat van die begin af Afrikaans as voertaal gehad het. Die PU is dus meer as enige ander universiteit in hart en niere ‘n Afrikaanse universiteit. In 1966 het die PU se Vaaldriehoek-kampus in Vanderbijlpark tot stand gekom, wat sedert die jare negentig oorwegend swart en Engels geword het. In 2004 het die Potchefstroom- en Vaaldriehoek-kampus ingevolge die Asmal-manie met die swart en Engelse Universiteit Bophuthatswana (Unibo) in Mafikeng saamgesmelt. Op hierdie kunsmatige manier het die NWU tot stand gekom.

Die momentum van verswarting en verengelsing van die NWU-kampusse is aanvanklik, bv wat bestuur en administrasie betref, veral op Potchefstroom teengewerk deur nie ‘n eenheidsmodel te aanvaar nie, maar ‘n federale model. In sodanige federale opset kon die Potchefstroom-kampus eerder ewolusionêr as rewolusionêr verander deur voort te gaan om langer hoofsaaklik Afrikaans en selfs blank te bly. Dit lyk na ‘n uiters billike hantering van ‘n benarde situasie. Universitêre onderrig word immers nie primêr aangebied om die politiek van die regering, wat universiteite met belastinggeld subsidieer, uit te leef nie. Dit is ook ‘n voor die hand liggende feit dat die drie kampusse op drie verskillende geografiese plekke ontstaan het om in die verskillende onderrigbehoeftes van verskillende groepe studente te voorsien. Wat om politieke redes kunsmatig saamgevoeg is, behoort myns insiens nie deur wetgewing en outoritêre burokratisering tot gelykheid en eendersheid gedwing te word nie. Op hierdie manier word die akademie nie ten beste gedien nie. Selfs al sou bv veelrassigheid, multikulturaliteit en meertaligheid sonder meer as bates beskou word, is daar verskillende maniere waarop elkeen van hulle binne die NWU tot hulle reg kan kom. Al drie hoef nie in dieselfde mate aan die drie kampusse opgedring te word nie.

Die PU was nie net ‘n baie ouer, meer gevestigde en groter inrigting as Unibo (gestig in 1979) nie, maar het ook akademies ‘n veel beter naam gehad. Ter bevoordeling van al drie kampusse het Potchefstroom die intellektuele en administratiewe sentrum van die NWU geword. In 1966 het Willem de Klerk in Potchefstroom met die verlig/verkramp-onderskeid vorendag gekom. Daarna het die oorverligte politieke studeerkamermenings van sommige PU-dosente dikwels opgeklink. Theuns Eloff (Dakar-ganger, 1987, en NWU-rektor, 2002-2014) dank sy aanstelling as rektor heelwaarskynlik aan die mate waarin daar ‘n verligte tradisie op die Potchefstroom-kampus was. Wat Eloff desnieteenstaande as rektor reggekry het, was om te sorg dat Afrikaans in groot mate op Potchefstroom as die onderrigmedium behoue gebly het en daarmee saam ‘n hoofsaaklik Afrikaanssprekende personeel (doserend en administratief). Engelse tolking van Afrikaanse lesings was die magiese manier waarop gesorg is dat die Potchefstroom-kampus tot dusver sy oorwegend Afrikaanse en selfs blanke/Europese karakter in die nuwe Suid-Afrika behou het. Vir ‘n ideologies (bv demografies) behepte ANC is dit heeltemal onaanvaarbaar.

Vier besoedelaars van die akademiese drinkwater

Twee dekades na ons politieke “bevryding” en ‘n dekade na die ontstaan van die NWU is hierdie opset in 2014 versteur toe daar vier besoedelaars in die Potchefstroomse akademiese drinkwater beland het, naamlik Hannelie Booyens, Adriaan Basson, Leon Wessels en Dan Kgwadi. Daarbenewens besmet Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, reeds sedert 2009 die plaaslike akademiese lewe met ANC-politiek. Ek kan hier hoogstens aanstip hoe dié sage ontvou het. Vir meer inligting kan na my vorige skrywes op Praag verwys word (15.12.2013, 2.03.2014, 8.06.2014, 24.08.2014, 30.11.2014, 24.01.2015).

Die ondergang van die laaste Afrikaanse universiteitskampus het in Desember 2013 in alle erns begin toe Hannelie Booyens, ‘n NWU-joernalistiekdosent, in Naspers-koerante beweer het dat ‘n groep NWU-studente aan die begin van daardie jaar tydens hulle koshuis-inlywingseremonie op die Potchefstroom-kampus ‘n Nazi-saluut gegee het. Booyens het ook vertel van ‘n swastika wat op ‘n sypaadjie in die sement gekerf is. Sy het bo-oor die swastika “Dankie, Madiba” geverf. Dit het ook bekend geword dat die kampusrektor, Herman van Schalkwyk, in Februarie 2013 op die NWU-webwerf inlywingspraktyke by twee ander koshuise as onaanvaarbaar veroordeel het.

Met hierdie getuienis as aanleiding het Adriaan Basson, die redakteur van Beeld, ‘n span van vier joernaliste na Potchefstroom gestuur om inligting oor die kampuskultuur te versamel. Basson se vriendin, Booyens, was waarskynlik die hoofkontakpersoon op die kampus. Die motief was klaarblyklik om ‘n negatiewe beeld van toestande op die Potchefstroom-kampus, wat onder blanke leiding gestaan het, te skep in afwagting van die bewindsoorname van die eerste swart NWU-rektor, Dan Kgwadi, wat toe reeds as die opvolger van Eloff aangewys was. Na die publikasie van negatiewe berigte in veral Beeld het beskuldigings van bv fascisme, naziisme en rassisme opgeklink van bv die direkteur-generaal van hoër onderwys, die kommunis Gwebs Qoonde; die premier van Noord-Wes, Thandi Modise; die Higher Education Transformation Network, by monde van Hendrick Makaneta; Hoër Onderwys Suid-Afrika (HESA), voorheen bekend as die Komitee van Universiteitshoofde; en Kgwadi, wat bv beweer het dat (wit) rassisme op die kampus voorkom en dat die ontgroeningspraktyke “barbaars” is. Druk vir optrede is uitgeoefen met die oog op verandering van die “wantoestande”.

Nzimande het daarop aangedring dat die NWU-verslag aan hom oor die gebeure en toestande doen. ‘n Ondersoekspan onder die leiding van Leon Wessels (Praag 20.10.2013) is aangestel. Die ander vier lede (wat spoedig tot drie verminder is) is almal nie-wit. Ten einde die onverstoorde funksionering van die Wessels-span te verseker, het Eloff vroeër as rektor uitgetree en plek vir Kgwadi gemaak. Die teks van die Wessels-verslag is op die internet beskikbaar. Wessels en sy span het hulle onder meer laat lei deur die verslag oor transformasie aan die Universiteit Stellenbosch wat deur ‘n ander Afrikaanssprekende nie-Afrikaner, Frederik van Zyl Slabbert, opgestel is.

Die ononderhandelbare uitgangspunt van die Wessels-verslag is ‘n enkele, gelykmakende, verenigende bestuursmodel vir die drie kampusse. Die hele NWU moet dus ‘n enkele institusionele kultuur kry. Die Potchefstroom-kampus mag glo nie ‘n “apartheidsenklawe”, soos Nzimande dit genoem het, wees nie. Die klimaat op die Potchefstroom-kampus is glo “toxic” (p 22) en daar word in die verslag veronderstel dat studente inderdaad ‘n Nazi-saluut met “racial undertones” (p 19) gegee het. Die redenasies is deurgaans gebaseer op die veronderstelling dat die ou Suid-Afrika sleg was en die nuwe Suid-Afrika goed is. Wannie Carstens was een van die dosente waarmee die Wessels-span ‘n onderhoud gevoer het. Carstens het pas beswaar geopper as ‘n private Afrikaanse universiteit ‘n Afrikaner-assosiasie sou hê (Netwerk24, 22 deser). Dit herinner aan die opmerking van sy oud-kollega, Hans du Plessis, dat Afrikaans “besig [is] om Afrikanernasionalisme te oorleef” (Maroela Media 4.12.2014).

Die samevoeging van die drie kampusse word soos volg geregverdig:

“The rationale behind the university merger was to transform the university landscape in South Africa in order to end the apartheid era racial and tribal configuration of universities and Technikons. Under the old dispensation, the higher education sector was segregated according to racial, ethic and linguistic communities. The success of merger would, therefore, be measured by the success of each institution’s ability to integrate and eradicate any vestiges of the colonial and apartheid legacy” (p 22).

Dit gaan dus wesenlik om politiek en nie akademie nie.

Die huidige federale model, waarvolgens ‘n mate van outonomie en eiesoortigheid aan bv die Potchefstroom-kampus gegee is, word veroordeel.

“This model will consequently encourage campus insulation [rather] than integration, thus undermining the very reason for which the merger was established. This model privileges campus diverse identities in student and academic life and undermines common institutional identity and culture … Campus structures could be used to undermine and resist any transformation effort” (p 22).

Van die Wessels-aanbevelings is dat die inwoners van elke koshuis die demografie moet weerspieël, taaldiversiteit bevorder moet word en selfs dat daar twee keer per jaar oor die stand van menseregte aan die NWU-raad en die minister van hoër onderwys verslag gedoen moet word. Daar word voorgestel dat ‘n jaarlikse gedenklesing oor bv menseregte op al drie kampusse aangebied word en dat dit na Thabarg Makhoang vernoem word. Hy het in 2012 in die swembad op die Potchefstroom-kampus verdrink enkele dae na sy aankoms as eerstejaarstudent. [Dit is Wessels-logika. Daar is nie ‘n kat se kans dat ‘n blanke, wat in geen opsig as student presteer het, met ‘n jaarlikse gedenklesing deur ‘n universiteit vereer sal word nie.] Dat politiek bo akademie verhef word, blyk ook uit die aanbeveling dat die universiteit se visie, missie en waardes hersien moet word “to foreground [!] transformation, integration and multi-cultural diversity” (p 24).

Dit bring ons by die onverkwiklike hede. Wat beklemtoon moet word, is dat die situasie vloeibaar is in dié sin dat die fyner besonderhede kan verander of nog uitgewerk moet word. Daar is nog ‘n probleem: “Sedert sy bewindsoorname het Kgwadi in dubbel-pratery uitgeblink” (Leopoldt Scholtz, Die Burger, 19 deser, p 18). Oor wat breedweg gaan gebeur, kan daar egter geen twyfel wees nie omdat dit volgens Kgwadi ononderhandelbaar is. Met die Wessels-verslag se enkele institusionele kultuur as grondslag en die sentiment wat deur Nzimande en mede-kommuniste en ANC-gesindes uitgespreek is, gaan die drie kampusse gelyk- en sover moontlik eendersmakend getransformeer word. Soos wat Russel Botman hom ten doel gestel het om die Universiteit Stellenbosch onherkenbaar tot iets anders as ‘n blanke (en veral Afrikaner) en ‘n Afrikaanse universiteit te transformeer, gaan Kgwadi dieselfde aan die NWU doen, met die klem op die vernietiging van wat eens kenmerkend van die Potchefstroom-kampus van weleer was, naamlik Afrikanerkultuur.

Kgwadi kan onmoontlik self die beoogde nuwe struktuur uitdink, wat by voorbaat ‘n “suksesmodel” vol “uitdagings” genoem is. Dit word wyd aanvaar dat dit ‘n skema afkomstig van ander ANC-gedienstige elemente, ook van buite die NWU, is. Scholtz verwys na “‘n duidelike politieke bondgenootskap” tussen Kgwadi en Nzimande. Dit gaan, in die ANC-idioom, om die sentralisering van (swart) mag. Die gelykmakingsproses behels onder meer die aanstelling van ‘n enkele superdekaan vir elke fakulteit, met hierdie superdekaan wat dan gesag oor al drie kampusse uitoefen. Dit is moontlik, maar myns insiens onwaarskynlik, dat die drie kampusrektorsposte afgeskaf sal word, want die bedrywighede van bv die superdekane moet op elke kampus gekoördineer en toegepas word. In die owerheidsektor in die nuwe Suid-Afrika word hoë poste immers eerder geskep as afgeskaf.

‘n Groot probleem is dat die drie kampusse histories op verskillende maniere ontwikkel het om in uiteenlopende behoeftes aan onderrig te voorsien. As gelyk- en eendersheid op die kampusse afgedwing word sodat onderrig in dieselfde fakulteite en vakke by almal verskaf moet word, sal groot en duur verskuiwings van personeel en studente genoodsaak word, om van die voorsiening van die nodige infrastruktuur en ander fasiliteite nie te praat nie. Die nuwe struktuur kan chaotiese en akademies uiters nadelige gevolge hê, maar dit is wat gebeur as ‘n universiteit hom deur nie-akademiese oorwegings laat lei. Dit spreek ook eintlik vanself dat “kulturele vlugtelinge,” veral blanke Afrikaanssprekende studente, nie meer so geredelik uit ander provinsies na Potchefstroom sal kom soos veral die afgelope twee dekades die geval was nie. Finansiële ondersteuning vir die neo-NWU uit die privaatsektor, bv van alumni, sal na verwagting ook sterk afneem.

Van die gevoeligste senuwees in die Kgwadi-eenmakingsproses is die posisie van Afrikaans as onderrigtaal. By implikasie sal al drie kampusse wat onderrigmedium betref in dieselfde mate tweetalig (Afrikaans en Engels), of meertalig, of (meer waarskynlik) eentalig Engels moet word. Op die oomblik is die Vanderbijlpark- en veral die Mafikeng-kampus oorweldigend Engels en die Potchefstroom-kampus in steeds afnemende mate oorwegend Afrikaans. Wat taalgewys gaan gebeur, is nogal voorspelbaar. Nzimande het gesê: “Ek wil beklemtoon dat ons nie langer Afrikaanse … universiteite het nie” (Die Burger, 23.07.2014, p 2). Wessels het gesê: “Afrikaans is nie ‘n prioriteit – ‘n soort godsdiens – vir almal nie” (Beeld, 4.06.2014). Kgwadi het Afrikaans ‘n “hindernis” genoem (Rapport, 2311.2014, p 1); die gewilde argument dat Afrikaans, maar nie Engels nie, glo as ‘n uitsluitingsmeganisme funksioneer. Kgwadi roem daarop dat die NWU se taalbeleid dinamies en buigsaam is. Hy noem dit “funksionele meertaligheid” (NWU-webwerf 25.11.2014). Die minagtende vyandigheid teenoor Afrikaans as onderrigtaal en die voorkeur vir Engels is in ANC-geledere goed gevestig:

“Asmal het in 2002 dit duidelik gestel dat die taalgelykheidsbeginsel in die onderwys ondergeskik is aan ander voorskrifte soos toegang vir agtergeblewenes tot onderwys (access) en transformasie van die onderwys (equity)” (Steyn, p 456).

Kgwadi begeer nie net verandering/transformasie nie, maar “deep transformation” (Maroela Media 12.01.2015). Dit hou die wesenlike gevaar in dat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaal of selfs afgeskaf gaan word; des te meer as die aanbieding daarvan eweredig oor drie kampusse versprei en sodoende verskraal word. Die moontlikheid is reeds genoem dat die besluit oor watter onderrigtaal of -tale in ‘n fakulteit gebruik gaan word, afgewentel kan word na sy superdekaan. Iets soortgelyks het aan die Universiteit Stellenbosch in die Chris Brink-era (2002-2007) gebeur, waardeur Afrikaans in sommige fakulteite kwaai afgeskaal is. Aan enige universiteit waar sowel Afrikaans as Engels as onderrigtaal gebruik word, is dit Afrikaans wat op die lange duur aan die kortste end trek. Die enigste situasie waarin Afrikaans verseker van sy voortbestaan is, is wanneer dit die enigste onderrigtaal aan ‘n universiteit of op ‘n kampus is. Die oproepe vir “ontbondeling” wat deesdae opklink, dus dat die Potchefstroom-kampus weer uit eie reg ‘n outonome Afrikaanse universiteit moet word, sal Afrikaans se posisie verskans. Dít druis egter lynreg in teen wat Kgwadi en sy ANC-meelopers verlang.

Adriaan Basson gaan ongestoord voort om die laaste Afrikaanse kampus op die vernietigingspad te plaas. Beeld se nuusredakteur, Pieter du Toit het op Twitter gesê:

In die Wessels-verslag word verkeerdelik beweer dat tuislanduniversiteite (soos Unibo) van owerheidsweë histories minder as ander universiteite (soos die Potchefstroomse Universiteit) gesubsidieer is. Op ‘n soortgelyke manier beweer Beeld/Basson valslik dat dit Afrikaanse universiteite is wat so bevoordeel is (Beeld, 20 deser). In albei gevalle is dit ‘n poging om die agterstand van Unibo in vergelyking met PU of die huidige Potchefstroom-kampus te rasionaliseer. Hierdie verskil in bv fasiliteite kan enersyds toegeskryf word aan die meerdere finansiële steun wat die PU oor ‘n langer tyd van die privaatsektor geniet het. Andersyds het van die tuislanduniversiteite veral sedert die jare tagtig, toe hulle bestuur in al hoe groter mate aan die betrokke etniese groepe toevertrou is, kwaai onder wanadministrasie en korrupsie gely. Daar moet ook in die gedagte gehou word dat die studiegeld aan tradisioneel nie-wit universiteite laer as dié aan tradisioneel blanke universiteite was en is. Daarby word die studiegeld in die geval van veral swart studente in baie gevalle nooit (ten volle) betaal nie, sodat groot luukshede kwalik by sulke universiteite vir swartes verwag kan word.

Nadat vier nuwe universiteite vir nie-wittes, asook die oorgeneemde Fort Hare (dus drie universiteite uitsluitlik vir swartes en een elk vir bruines en Asiate), in 1960 tydens die Verwoerd-bewind begin funksioneer het, is hulle jare lank (anders as wat Basson beweer) bevoordeel met ekstra subsidiëring, wat as “vestigingskoste” bekend gestaan het. In ‘n poging om geskikte blanke dosente na die swart universiteite in die tuislande te lok, is ‘n “gebiedstoelae” maandeliks by iedere sodanige wit dosent se salaris gevoeg. Ek weet waarvan ek praat. Selfs Basson kan nie beter weet nie, want ek het dit eerstehands ervaar. Ek was deel hiervan.

Sedert 1960 is talle ander nuwe universiteite vir swartes gestig en bedryf, wat die volgende stelling van Basson as ‘n opsetlike en gemene leuen aan die kaak stel: “Universitêre onderwys was die voorreg van ‘n eksklusiewe groep (lees wit) uitverkorenes” (Beeld 21 deser). Basson gaan oor tot hierdie uiterste wanvoorstellings weens sy voorkeur vir egalitarisme bo elitisme en ook om sy bedenklike hipotese te staaf dat die NWU ‘n “skisofreniese instelling” is. As student aan die Universiteit Stellenbosch en ook sedertdien het Basson stemming teen (tradisionele) Afrikaners en Afrikaans gemaak (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 226-227). Deesdae spits hy sy dislojaliteit toe op die Potchefstroom-kampus.

Van Schalkwyk het tereg opgemerk dat Beeld se beriggewing “nie objektief of gebalanseerd en dus regverdig was nie” (NWU-webwerf 12 deser). Van die afkeurendwaardigste skryfsels wat sedert Hannelie Booyens se 2013-“onthullings” gepubliseer is, is Pieter du Toit, Naspers/Media24 se noordelike nuushoof, se rubriek, “Waar moet jou kind studeer?” (Die Burger, 24 deser, p 14). “Kultuur” en “Afrikaans” is volgens Du Toit retoriek wat as kodewoorde deur verdagmakers soos Van Schalkwyk en sy geesgenote gebruik word; mense wat reken dat daar steeds iets soos die “swart gevaar” is: “Asof ons nog in die 1980’s met grys skoene en paisley-dasse is.” Du Toit impliseer dat die Universiteit Kaapstad (UK) ‘n beter plek is om te studeer as die Potchefstroomse kampus omdat hulle aan die UK met geregtigheid (seker met verwysing na onder meer ontlastinggooiing) ons (gemeenskaplike) Suid-Afrikaanse identiteit herevalueer.

In dieselfde koerant (p 2) ondersteun Frene Ginwala, ‘n vorige speaker van die parlement, die verwydering van die Rhodes-standbeeld op die UK-kampus. “‘n Proses van konsensus en inklusiwiteit … is kort ná 1994 ingespan om duisende simbole [‘kunswerke, skilderye en standbeelde’] van apartheid en kolonialisme by die parlement te verwyder.” Hulle word nou onder meer in ‘n kelder bewaar. Ginwala: “Inklusiwiteit, konsensus en lewensvatbare oplossings was destyds die wagwoord.” Deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis van voor 1990 van openbare sigbaarheid uit te sluit, word “inklusiwiteit” dus bereik; inklusief in die sin dat alles van voor 1990 ongewens verklaar is en verwyder moet word. Inklusiwiteit word uitsluiting. Dit is dus nie net die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat herskryf word nie; woorde se betekenis word ook getransformeer. Rassediskriminasie word regstelling genoem, ens. Dieselfde nuwe soort inklusiwiteit word klaarblyklik aan die NWU nagestreef: Alles wat die PU was, bv as draer van Afrikanerkultuur, moet plek maak vir wat swartes verlang.

Ons universiteite verkeer in ‘n akademiese resessie

Die akademiese toneel in die nuwe Suid-Afrika word oorheers deur rolspelers soos Asmal, Nzimande en Kgwadi; mense vir wie politiek myns insiens belangriker as akademie is. Geen wonder dat akademiese standaarde die afgelope twee dekades so dramaties gedaal het nie. Ons universiteite verkeer in ‘n akademiese resessie. In so ‘n opset word ‘n deurwinterde, volwaardige akademikus soos Herman van Schalkwyk nie waardeer en selfs nie geduld nie. Die Potchefstroomse krisis is doelbewus geïnisieer deur verloopte, blanke Afrikaanssprekendes soos Booyens, Basson en Wessels, terwyl veral die Potchefstroom-kampus onherstelbare akademiese skade lei weens daardie blanke dosente wat in die NWU-senaat eerder vir Kgwadi as Van Schalkwyk as rektor gestem het.

In 2009 was Van Schalkwyk die ander rektorskandidaat toe Jonathan Jansen aan die Universiteit Vrystaat aangestel is. Die rede waarom die akademies sterker Van Schalkwyk nie aangestel is nie, is omdat die raadsvoorsitter, Faan Hancke, lank voor die tyd die versekering gegee het dat die volgende rektor nie-wit sal wees. Sedert 2010 is Van Schalkwyk die Potchefstroomse kampusrektor. In 2014 is Kgwadi (wat toe die kampusrektor op Mafikeng was) en nie Van Schalkwyk nie tot NWU-rektor verkies omdat Kgwadi deur die meerderheid senaatslede gesteun is. Ek het voorheen in besonderhede aangetoon waarom algemeen aanvaar word dat Kgwadi akademies glad nie in dieselfde liga as Van Schalkwyk is nie (Praag 15.12.2013). Kgwadi het myns insiens by uitstek om nie-akademiese (bv etniese) redes die NWU-rektor geword. Pas is bekend gemaak dat Van Schalkwyk se huidige aanstelling aan die einde van Januarie 2016 sal verstryk. Het iemand al gesê dat kolossale onreg teen Van Schalkwyk gepleeg word en daarvoor om verskoning gevra?

Daar is eintlik geen moontlikheid dat Van Schalkwyk, as hy aansoek doen, in sy huidige pos as kampusrektor heraangestel sal word nie: “Enige aansoeker om die rektorspos moet egter die steun van die vise-kanselier [rektor] van die NWU (prof Dan Kgwadi) hê” (Die Burger, 23 deser, p 1). Kgwadi se standpunt is glo “dat dit óf hy óf Van Schalkwyk is en dat daar nie plek vir hulle albei is nie.” By die aanstelling van “senior bestuurswerknemers” is Kgwadi ook in ‘n magsposisie. Op 25 November het hy op die NWU-webwerf geskryf dat hy vir al hierdie poste “die aanstellingsgesag” is. Kgwali is vir ‘n periode van ses jaar as die NWU-rektor aangestel. Dit lyk dus asof die Wessels/Kgwadi-eenheidsmodel die huidige federale model gaan vervang. Dit sal van die NWU ‘n mikrokosmos van die nuwe Suid-Afrika maak. Die NWU sal uitmunt in politieke korrektheid, terwyl akademiese korrektheid tweede viool sal speel. Dit beteken dat Afrikaans, soos Scholtz dit stel, ook op Potchefstroom op “die agtervoet” gaan wees, om van Afrikanerkultuur in die breë nie te praat nie.

Dit alles kan teruggevoer word na die grondwet wat indiwiduele regte erken, maar geen groepsregte nie. In die praktyk het swartes (en net swartes) egter as dominerende meerderheidsgroep al die groepsregte wat hulle kan verlang. Op hierdie manier word al ons universiteite en baie ander dinge in hierdie land verswart en verengels. Let op hoe swartes tans hulle wil op die Universiteit Kaapstad afdwing. Sowel die Kaapse as die Potchefstoomse universiteit is deur blankes daargestel en uitgebou. Deesdae maak mense wat tradisioneel glad nie op daardie kampusse hoort nie, aanspraak daarop dat die universiteite volgens hulle voorkeure verander moet word. Die blankes se voorkeure en belange word geensins deur hierdie swartes en die ANC en selfs die universiteitsowerheid in ag geneem nie. Die grondslag vir swart mag is hulle getalle en hulle kry hulle sin weens hulle (potensiële) gewelddadigheid. As swartes beweer iets gee aanstoot, moet dit opsluit verwyder word. As blankes in so ‘n proses veronreg word, is dit skynbaar van geen belang nie.

Nelson Mandela en Desmond Tutu stook nie meer onrus en sabotasie nie. Joe Slovo en Chris Hani voer nie meer militêre terreurbendes aan om dood en verwoesting te saai nie. Nzimande lei deesdae ‘n subtieler terreurkampanje; ‘n veldtog van kulturele vandalisme en sabotasie. In die visier is Afrikanerkultuur en Afrikaans. Met die oog hierop lei Kgwadi die brigade op Potchefstroom.

Die betekenis van ‘n woord in die titel van hierdie rubriek, de(kon)struksie, behoort nou duidelik te wees. Akademici soos Eloff en Van Schalkwyk het die NWU gedekonstrueer in relatief outonome dele, naamlik die drie kampusse, wat elk sy natuurlike publiek optimaal akademies bedien. Mense soos Nzimande en Kgwadi, daarenteen, is besig met ‘n vernietigingsproses. Hulle oogmerk is die destruksie van Afrikanerkultuur (moontlik wyer: Europese kultuur) aan die NWU en veral op die Potchefstroom-kampus, insluitende Afrikaans as universitêre onderrigtaal (en ook wyer, want Afrikaans sal dan ook as bv skoolonderrigmedium kwyn).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.