Solidariteit, ANC stem dat ‘apartheidname’ moet verander

Deel op

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê Solidariteit stem saam met die ANC dat “apartheidsname” moet weg. Hy word soos volg aangehaal op Netwerk24:

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het gesê hulle stem in beginsel saam dat die name met ’n apartheidsverbintenis moet waai.

Die ANC wil Afrikanername van skole in Gauteng, sogenaamde “apartheidsname”, verander.

Volgens die SA Skolewet egter, is dit die skoolbeheerliggaam wat oor die naam moet besluit.

Alhoewel Solidariteit meen dat daar ander prioriteite soos wiskunde-onderrig is, is die vakbond nie sonder meer gekant teen die naamsveranderingvoorstel nie.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het gesê Afrikaners “wat op hul dag as helde beskou is” se nalatenskap moet gesloop word in die naam van transformasie en samehorigheid.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), het aan Netwerk24 gesê: “Daar is by die SAOU geen twyfel nie dat skoolgemeenskappe deurlopend kennis neem van sensitiwiteite. Die onderwys­departement moet in ag neem dat hier nie sprake is van staatskole nie, maar eerder van openbare skole. Ons kom toenemend onder die indruk dat onderwysdepartemente skole benader asof hulle staatskole is.

“Openbare skole is demokratiese instellings wat ’n verlengstuk is van gemeenskappe en die doel met die skryf van die SA Skolewet was om skole as demokratiese instellings en verlengstukke van die betrokke gemeenskap te vestig. Besluitneming word tot op die laagste vlak gedevalueer.

“Die onderwysdepartement kan dus nie by wyse van dekreet besluite neem nie.”

Phumla Sekonyane, woordvoerder van die departement, het gesê hulle win ’n regsmening in oor die saak.

Dit is nie bekend of Solidariteit meen dat die straat in Kaapstad wat onlangs na FW de Klerk vernoem is, ook ‘n “apartheidsnaam” is nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.