Vlieënier van Alpe-rampvlug ‘uitgesluit’

Deel op

Een van die twee vlieëniers op die gedoemde vlug wat in die Alpe verongeluk het, was uitgesluit uit die kajuit voor die vliegtuig met 150 mense neergestort het, het ‘n bron na aan die ondersoek Donderdag aan AFP gesê.

Kajuitopnames wat van die toneel verhaal is, het aangedui dat een van die sitplekke teruggestoot word en die deur oopgemaak word en dan weer toe, gevolg deur die klank van ‘n klop, het die bron gesê, en bygevoeg “daar was nie meer ‘n gesprek van daardie punt af tot die ongeluk nie”.

Die bron het gesê ‘n waarskuwingsalarm wat die nabyheid van die grond aandui, kon voor die impak gehoor word.

Die opname het getoon dat die vlieëniers normaal en in Duits gesels aan die begin van vlug-4U9525 vroeg Dinsdag. Die bron kon nie sê of dit die kaptein of die eerste beampte was wat die kajuit verlaat het nie.

Die New York Times het ‘n senior militêre amptenaar aangehaal wat betrokke is by die ondersoek, en berig dat die vlieëniers se gesprekke roetine was tot en met die punt waar een van hulle nie in staat was om terug te keer na die kajuit nie.

“Die man buite klop eers liggies aan die deur, en daar is geen antwoord nie,” het die koerant die ondersoeker aangehaal. “En dan slaan hy die deur harder en geen antwoord nie. Daar is nooit ‘n antwoord nie.”

Die klankopname dui daarop dat die uitgesluite vlieënier “probeer om die deur oop te breek.”

Die kajuitstemopnemer is laat Dinsdag gevind, ‘n paar uur na die ongeluk van die ekonomievlug vanaf Barcelona na Düsseldorf, en die data is Woensdagmiddag ontleed.

Die Airbus A320 het skielik ‘n noodlottige agt minute se daling ondervind kort nadat hy kruishoogte bereik het.

Geen noodsein is gestuur nie en die bemanning het nie gereageer op desperate pogings van grondbeheer om kontak te maak nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.