Geen oorlewendes in Alpe-vliegramp

Deel op

Die Franse eerste minister, mnr. Manuel Valls, het gister gesê hy vrees al 148 passasiers en bemanningslede is dood nadat die Airbus van die Germanwings-redery op vlug GWI18G in die suide van Frankryk neergestort het.

“Ons weet nog nie wat die oorsaak van die ongeluk was nie,” het Valls aan die media gesê.

Valls sê hy het die ministeriële krisiskomponent geaktiveer nadat hy van die ongeluk in kennis gestel is. Hy het ook die minister van binnelandse sake, mnr.Bernard Cazeneuve, na die ramptoneel gestuur.

Die Franse koerant La Provence sê die Airbus het 142 passasiers, twee vlieë­niers en vier kajuitbemanningslede aan boord gehad toe dit in die Alpe-gebied neergestort het.

Die vliegtuig was van Barcelona na Düsseldorf onderweg toe dit tussen Digne en Barcelonnette geval het.

Die parlementariër Christophe Castaner, wat by die ongelukstoneel aangekom het, het aan FranceInfo radio gesê dat dit nog nie duidelik is watter van die twee swartvlugopnemers opgespoor is nie.

Een wat neem die onderhandelinge van die bemanning op en die ander een die tegniese inligting van die vlug.

Intussen het die VSA haastig die moontlikheid van ‘n terroriste-aanval uitgesluit as die rede vir ongeluk.

“Daar is geen aanduiding van ‘n terreurdaad op hierdie tydstip nie,” het Bernadette Meehan, die Withuis se nasionale Veiligheidsraadwoordvoerder aan Fox News gesê.

Sestien Duitse skoolkinders wat van ‘n skooluistappie teruggevlieg het, is ook in die ongeluk dood.

Twee operasangers Oleg Bryjak en Maria Radner het in die vliegongeluk omgekom nadat hulle in Wagner se “Siegrfied” in Barcelona opgetree het.

Die direkteur van Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf, Christoph Meyer, het die inligting bevestig.

“Die Duitse Düsseldorf/Duisburg Opera treur oor die heengaan van bas-bariton Oleg Bryjak. Hy is een van die slagoffers van vlug U49525,” het Gonne Garling, ‘n joernalis wat vir die Bild-koerant skryf, Dinsdag op sy Twitter-blad geskryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.